Esegiël 37: 1-14
In hierdie gebeure sien ons iets van wat ons in die geloofsbelydenis van Nicea bely oor die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Die Here vra vir die profeet (vers 3): Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Dit is ’n vraag waarmee ’n mens telkens in jou lewe gekonfronteer word. Glo jy so iets is moontlik? Sou so iets vir die Here te wonderbaar wees? Sou so iets vir die Here onmoontlik wees?
As Christene bely ons dat die Heilige Gees as Here lewe kán en wíl gee. Maar in die alledaagse lewe wanneer ons te doen kry met die doodsheid in ons eie lewe en ervarings, twyfel ons dikwels. Dan antwoord ons ook soos die profeet: Nee, dit weet net U, Here my God. Mense glo baie keer meer in die dood as in die lewe. Die begrip dood word in die algemene spreektaal maklik gebruik om situasies van magteloosheid en hopeloosheid mee uit te druk. Wanneer mense voel daar is geen sin of vreugde in die lewe meer oor nie, sê hulle: Iets in my het doodgegaan.
Wanneer ’n huwelik of verhouding tot ’n einde kom, word gesê: Ons liefde vir mekaar is dood. Wanneer alles te veel word en ’n mens voel jy kan nie meer nie, sê ons: Ek is tot die dood toe moeg, vermoeid, afgemat, uitgeput. Die vrees vir môre, vir die toekoms, vir misdaad, laat mense wonder wat gaan van my, my gesin, ons almal word, en dan sê ons: Ons is doodbang. Die Bybel ken ook hierdie soort taal. Dood staan in die Bybel vir al die magte wat ons verslaaf, wat ons van alle hoop ontneem en ons kragte tap. Vasgevang in die duistere kringloop van al die situasies van doodsheid, het die Christelike kerk hierdie kragtige belydenis: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Die vraag is net: Glo ons dit regtig? Onthou, hiermee bely ons niks is vir die Here onmoontlik nie.
Dr Christo van der Merwe, Emeritus
