Handelinge 17: 16-34

Paulus is in Atene waar hy God se boodskap verkondig. Maar dit klink vir die mense daar so onbekend dat hulle hom ’n praatjiesmaker noem, ’n boodskapper van vreemde gode. Hy kry die geleentheid om weer te gaan verkondig wanneer hulle hom na die Areopagus toe neem. Hier gee Paulus ’n intense preek waarin hy bely dat God die Skeppergod is. Hy is die Skepper van hemel en aarde en alles daarop. Hy is alomteenwoordig en woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gegee het. Hy het, uit een mens, al die nasies gemaak. Hy het ons gemaak om Hom te soek. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie. Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons…

Hierdie getuienis is Paulus se belydenis dat God die Bron van lewe is, dat alles wat bestaan van Hom af spruit. Is dit ook jou belydenis? Hoe sigbaar is dit vir die mense rondom jou?

Om vanuit hierdie belydenis te leef, beteken dat jou lewe “in pas” moet wees met God se wil en Woord. Dit beteken dat jou lewe ’n bepaalde kwaliteit ingeweef moet hê. Hy is in jou, deur sy Gees. Hy gee jou lewensasem en Hy is jou Lewensbron. Deur Hom leef jy, beweeg jy en is jy! Daarom moet jou lewe inpas by hierdie Heilige Teenwoordigheid. Hierdie bewustheid vra van ons om ook bewustelik te gaan leef. Om bewus te wees van die alomteenwoordige God en om bewustelik my lewe aan te pas – heilig, afgesonder vir God.

Wanneer ons regtig besef dat ons deur Hóm leef, beweeg en bestaan, is daar so baie aanpassings wat nodig is in ons lewens. Dalk sal meer mense in ons wêreld dan ook bewus word van hierdie God wat die enigste Heer is!

Maak die woorde uit Gesang 308 in ons Liedboek jou gebed: Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer…

Ds Manda le Roux, Weskus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap