1 Petrus 3: 13-17

Die gelowiges vir wie hier geskryf word, is aan vervolging en lyding blootgestel en hulle sit met ernstige vrae. In die vorige gedeelte het hulle die opdrag gekry om met die regte gesindheid in hul menseverhoudings te leef. ’n Opdrag wat baie moeilik is as jy en jou mense lyding ervaar en onreg beleef. Boonop bestaan die verwagting dat dinge nog erger gaan word.

Die vraag wat in hulle leef, is hoe ’n mens hoop en selfs geloof behou as dit so gaan. Hulle worstel met die onsekerheid van hul tyd, en dan ook nog met die vraag oor hoe hulle moet optree as hulle lyding ervaar. 1 Petrus wil hulle hierin begelei en dring daarom by hulle aan om altyd die wil van die Here te doen. Indien ons in slegte omstandighede verkeerd sou begin optree en ons ervaar dan lyding, sou dit niks anders wees nie as die gevolg van ons verkeerde optrede. Ons word opgeroep om goed te bly doen, al ly ons en al beleef ons onreg.

Die rede hoekom dit belangrik is om reg te bly doen, is omdat kinders van God altyd in sy teenwoordigheid leef, en hul lewe moet altyd ’n getuienis daarvan wees. Die gedeelte roep om hierdie rede die gemeente op om in alle omstandighede ’n heilige eerbied vir Christus die Here te hê.

Die groot uitdaging waarvoor die geloofsgemeenskap te staan kom, is om in staat te wees om in die roeping te volhard. Ons kan baie maklik in tye van lyding ons eie oplossings soek en op ons eie krag staatmaak. Dit is belangrik dat ons sal onthou wie die Bron van ons krag en hoop is. Ons vind hoop nie in ons vermoë om lyding en onreg te ontduik nie. Ons hoop is die vertroue in Jesus Christus, dat ons selfs in lyding nie geskei kan word van sy liefde nie. Ons kry krag om te volhard in die geloof deur die leiding van die Heilige Gees wanneer ons elke dag biddend voor God buig.

Ds Adriaan Roets, Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link