Psalm 33

In 2015 het daar in Sirië ’n reeks sandstorms losgebars wat die meeste van die vorige groot storms oortref het. Dit was trouens so groot in omvang dat reusestofwolke uit die ruimte sigbaar was. Etlike mense het in hierdie storms omgekom, baie van hulle omdat hulle gewoon nie midde-in die digte sandmassa kon asemhaal nie. Die gedagte dat mense letterlik die dood kon hoor aankom en dit kon sien nadersluip, is angswekkend. Die dood bekruip jou, weerlose mens.

Dit beskryf in ’n mate die angs waarmee die digter van Psalm 33 geworstel het. Hy vertel van ’n groot vyandige leër en hul indrukwekkende wapentuig wat dreigend deel van sy volk se lewe geword het. Hulle hoor die vyand en sien die omvang van hul wapens. Die digter word diep hierdeur geraak – in so ’n mate dat hy verwys na die dood wat soos ’n skaduwee oor hulle hang en hongersnood wat as gevolg van die vyand se beleëring deel van hul alledaagse lewens geword het.

Die merkwaardige van hierdie Psalm is dat dit ’n loflied is. Dit begin met die woord jubel. In sy benoudheid, herinner die digter sy volksgenote aan God wat nie net die heelal tot stand gebring het nie, maar wat steeds sy hand oor elke gelowige hou. Hy beheer al die nasies en ook elke regeerder. Hoe oorweldigend die vyand se oormag ook al mag lyk en klink, dit sal nie kan standhou teen die hand van die Here nie. Hy bly in beheer. Die mag (verstand) wat hulle het, kom immers van Hom af.

Elkeen van ons het al oomblikke van weerloosheid, magteloosheid en broosheid ervaar. Elkeen het al gesien en gehoor hoe die ellende nadersluip en was oorweldig deur die omvang en aard daarvan. Elkeen kan egter ook stil raak voor God en saam met die digter bely dat ons op God alleen kan vertrou. Die digter se vertroue op God is van so ’n aard dat hy sy lof besing, eerder as om voor die uitdagings te swig of te struikel.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link