2 Konings 5: 1-19

Daar is die spreekwoord in Afrikaans wat lui: Die tydperk van wonderwerke is nog nie verby nie. Dalk dink party mense dat die Here net wonderwerke laat gebeur het in die Bybelse tyd en het die spreekwoord ontstaan om mense te herinner dat God vandag steeds op ’n ingrypende manier in mense se lewens werk.

In ons teksgedeelte gebeur daar talle wonderwerke, maar as ’n mens nie oplet daarvoor nie, gaan jy dit nie besef nie. Die eerste wonderwerk is dat die Here (die God van Israel) een van die vyandige bure van Israel, die Arameërs, help om teen hul vyande te wen. Die tweede wonderwerk is wanneer ’n dogtertjie wat uit Israel gesteel is as slavin, vir Naäman raad gee om na die profeet Elisa toe te gaan om van sy melaatsheid genees te word. Elisa het te hore gekom van Naäman en hom ontbied. Die Here laat dan selfs een van Naäman se eie slawe hom oorreed om te doen wat die profeet voorgestel het.

Ons sien dat daar ’n hele paar wonderwerke afspeel vóór die voor die hand liggende wonderwerk van die genesing van Naäman se melaatsheid. Maar dit hou ook nie daar op nie. Die volgende wonderwerk is Naäman se bekering en sy besef dat die God van Israel die enigste, waaragtige God is. Sy bekering was ook eg, want hy was bereid om sy geloof te gaan uitleef voor sy koning wat ’n afgod aanbid het.

Net soos daar ’n hele aantal wonderwerke in Naäman se lewe gebeur het, gebeur daar in ons eie lewens ook telkemale wonderwerke. Dit gaan van ons afhang of ons dit raaksien. As jy ingestel is op God se ingrype in jou lewe, ongeag hoe gering, sal jy dit raaksien. Hierdie bewustheid van God se wonderwerke in ons lewens gee diepte aan ’n mens se verhouding met die Here omdat ons besef hoe goed Hy vir ons is. Met so ’n ingesteldheid kan ’n mens nie anders nie om ’n dankbare lewe te leef.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap