Job 33: 14-28

Job se geloof is deeglik getoets, sy lyding was onbeskryflik (vgl Job 2: 11-13). Sy drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, probeer hom met populêre wysheid troos: Job, jy is skuldig, daarom straf God jou.  Hulle werk met die oorsaak-gevolg-skema:  As jy sondig, gaan jy gestraf word. Tot vervelens toe.

Daar kom ’n wending met ’n vierde vriend, Elihu, wat opdaag. Hy bring balans in die gesprek. Volgens hom spreek God die mens op verskillende maniere aan. Ernstige siekte is een van die maniere waarop die mens van sy magteloosheid bewus gemaak word. Dit is die mes waarmee die kanker van hoogmoed uitgesny word. Wat Elihu probeer sê, is die volgende: Laat staan die hoogmoed, wees nederig, leef van God se genade. Hoe doen ’n mens dit? In Job se tyd was dit ’n algemeen aanvaarde gedagte dat daar tussengangers tussen God en die mens was. Net een engel uit ’n duisend is nodig om vir jou in te tree. Dié engel sou dan by God pleit en op sekere elemente in die lydende se lewe wys: Hy het genoeg gely, hy is nou van sy hoogmoed gereinig.

As God op grond van hierdie intrede weer vriendelik teenoor so ’n mens optree, gaan sy klaaglied oor in ’n gejuig en sy hart dans voor God. Hy ken ’n vreugde wat net uit genade kan voortkom. Job was net vaagweg bewus van hierdie genade, want hy het vóór Christus geleef. Ons ken egter vir Christus, die konkrete bewys van God se ontferming oor sondaarmense soos ons. Deur sy lyding en sterwe het Hy God se genade vir ons oopgebreek, dit vir ons toeganklik gemaak.

Christus is die enigste Tussenganger, die enigste Middelaar tussen ons en God. Hy is die Een wat vir ons intree en pleit. Weet dat hierdie genade daar is, soek dit, jaag dit na en vermy die populêre wysheid. Wie op die Here Christus vertrou, word deur God ons Vader met liefde en genade omvou.

Gesang 498: 1-2

Ds Petri de Kock,  Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link