Matteus 7: 21-29

Wanneer die kerk haar geloof bely, bely die kerk baie dinge. Byvoorbeeld: Ons bely ons geloof in die almag van God, ons bely ons geloof in sy koms na ons toe, ons geloof in sy teenwoordigheid in die Heilige Gees, in die bestaan van één heilige algemene kerk, in die vergewing van sonde, die verandering van die kwaliteit van lewe en van ons persoonlike voortbestaan. Wat ons onsself behoort af te vra, is of dit bloot lippetaal of werklik handetaal is, of dit heiligheid of skynheiligheid is. Ons deel elke Sondag in die luister of saam opsê van die geloofsbelydenis – of ten minste elke keer wanneer ons in die kerk kom. Maar wat van Maandag tot Saterdag?

Jesus leer in Matteus 5-7 van die nuwe kwaliteit van lewe wat die Gees deur die lewe en sterwe van Jesus bewerk. Dit staan bekend as Jesus se bergrede en dit word wyd aanvaar as “grondwet” van die Christendom. Trouens, Matteus 7: 12 gaan selfs so ver as om te sê dat die hele Bybel hier saamgevat word in drie woorde, naamlik: om te doen. Ons kan baie mooi praat oor geloof, maar as die dade ontbreek, is geloof op sigself dood. Aan die ander kant kan ons baie mooi dinge doen (7: 22), maar sonder geloof is dit net so nutteloos as dit nie uit ’n herskape lewe voortvloei nie. Geloof én dade is komplemente van dieselfde verbondenheid aan God in wie ons ons geloof bely.

Pinksterfees leer ons dat ons deur die krag en onder die leiding van die Heilige Gees vandag reeds kan lewe soos mense van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Deur ons geloof in God ons almagtige Vader, en in Jesus Christus ons Verlosser, en deur die krag van die Heilige Gees ons Trooster, kan ons reeds vandag, selfs onder moeilike omstandighede, geloof en werke, lippetaal en handetaal saamsnoer tot een magtige simfonie tot eer van God en tot heil van onsself en die wêreld om ons. Daarom kan ons jubel. Halleluja – loof die Here!

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link