Handelinge 11: 1-30 (AFR2020)

Die Drie-enige God is in die wêreld en in sy kerk werksaam as Vader wat skep en sorg, as Seun wat red en verlos, en as Gees wat lei en bystaan. Die boek Handelinge vertel vir ons op ’n kragtige wyse die verhaal van die kerk in die wêreld – hoedat die Heilige Gees die werk wat Christus op aarde begin het, in mense se harte en lewens voortsit.

Aanvanklik verkondig die apostels die evangelie slegs aan Jode, maar in Handelinge 10 gebeur daar iets wat die verkondigingswerk van die apostels in ’n hele nuwe rigting laat beweeg: ’n Nie-Joodse persoon word deur die werking van die Heilige Gees ’n gelowige. Hierdie gebeure het aan Petrus bewys dat Jesus die Here oor almal is – nie net die Here van die Jode nie.

Daarom begin Handelinge 11 waar die kerk in Jerusalem vir Petrus oproep om verantwoording te doen oor waarom hy mense wat nie Jode is nie en daarom nie besny is nie, gedoop het. Petrus verduidelik vir die gelowiges in Jerusalem wat die Here deur sy Gees aan hom bekendgemaak het. Nadat Petrus hierdie dinge aan die gelowiges in Jerusalem meedeel, lees ons dat hulle swyg en God verheerlik omdat sy genade selfs tot by nie-Jode uitkring. Hul stilswye en lofprysing getuig van die oomblik toe die gelowiges besef dat God se werke groter is as mensewerke. Die wyse waarop God deur sy Gees aan die werk is, oortref alles wat ons ons kan indink, verreweg.

Miskien moet ons ook soos daardie eerste gelowiges weer by ’n punt van stilswye kom, ’n oomblik waarin ons in nederige afhanklikheid erkenning gee aan die misterie van die Drie-enige God se werking in die kerk en in die wêreld. ’n Oomblik waar ons weer ons vertroue plaas op die pad wat God as Vader, Seun en Gees stap met ’n stukkende wêreld. Dit is ’n punt van oorgawe waar ons ons lewe, ons kerk en ons optrede oorgee aan die leiding van die Heilige Gees. Op so ’n wyse word ons ook kragtige getuies vir God in die wêreld.

Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

Share via
Copy link
Powered by Social Snap