Handelinge 1: 9; Eksodus 20: 21

Wolke met al hul verskillende vorms fassineer ons. Die helderblou lug kan in ’n paar ure gevul word met reënwolke. Dis ’n wonder van Bo. Wolke het letterlike en simboliese betekenis in die Bybel. God se teenwoordigheid word in die Bybel dikwels so beskryf. Hy het sy volk deur ’n wolkkolom verseker dat Hy by hulle is en hulle lei (Eks 13: 21-22). Toe die Egiptenaars hulle agtervolg het, het die wolkkolom tussen hulle en die Egiptenaars ingeskuif (Eks 14: 20). Dit het hulle verseker dat God hulle beskerm teen hul vyande.

By Sinai het God in ’n dik wolk na Moses gekom, en toe Moses die berg opgaan, het die wolk die berg vir 40 dae oordek terwyl hy op die berg was om die wet van God te ontvang (Eks 19).

Kan jy sien hoe belangrik wolke was om God se volk te verseker dat Hy by hulle is? Net so kry ons in die Nuwe Testament talle soortgelyke beskrywings rondom Jesus. Op die berg van verheerliking (Matt 17) het ’n helderligte wolk die berg oordek terwyl ’n stem uit die wolk sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom! (Matt 17: 5, AFR33/53).

Jesus sê vir Kajafas:Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel (Matt 26: 64, AFR1983). In Handelinge 1: 9 (AFR1983) word Jesus se hemelvaart so beskryf: …is Hy opgeneem terwyl hulle (sy dissipels) dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Jesus se hemelvaart word vandag wêreldwyd gevier. Ons leef met die verwagting van sy wederkoms en weet ons het ’n ewige hemelse lewe. In die tussentyd leef ons met die wete dat Hy by ons is tot die voleinding van die wêreld.

Moses het God in ’n brandende doringbos en op baie plekke ontmoet, maar op ’n keer moes hy God in ’n pikswart, donker wolk ontmoet (Eks 20: 21). As jy nou deur ’n donker tyd gaan, onthou: God is by jou en lei jou elke tree terug na die lig.

Ds Louw van der Linde, Evander

Share via
Copy link
Powered by Social Snap