Lukas 24: 36-49
Jy het sekerlik al iewers hierdie opskrif gehoor. As ons eerlik is, was die dissipels nie die mees gekwalifiseerde mense wat Jesus kon kies nie, maar tog het Hy hulle elkeen spesifiek gaan kies. Jesus het elkeen van hulle geken en geweet hoe hulle redeneer. Dit is hoekom Jesus se verskyning tussen hulle so belangrik was – sodat almal kon glo dat dit fisies Jesus was wat uit die dood opgestaan het. Veral vir mense van ander gelowe wat dit nie wou glo nie.
Dit was belangrik dat Jesus na sy opstanding geïdentifiseer moes word – dat Hy fisies opgestaan het en nie ’n gees was nie. Dit is waarom Hy iets geëet het. Jesus wou vir sy dissipels wys dat Hy fisies teenwoordig was, maar ook dat Hý fisies teenwoordig is. God self, hul Messias, het gedoen wat Hy gesê het Hy gaan kom doen. Hy staan daar by hulle in die kamer. Al is hulle bang en verward, Jesus is self by hulle! Hy het nie iemand gestuur om hulle daarvan te vertel nie, dit het die engele reeds gedoen deur die vroue te stuur. Jesus doen alles moontlik om hierdie groep verwarde dissipels gereed te maak vir dit wat hulle vorentoe moes doen.
Hierdie versekering was vir Lukas belangrik. Die vervulling van God se wil – dit wat reeds van lankal af voorspel is – het nou gebeur. Hierdie gedeelte waar Jesus in Lukas 24 fisies self die dissipels se opdrag kom bekend maak, gee vir ons die versekering dat Hy ook ons sal bekwaam vir ons opdrag. In die Naam van Christus en in die krag van die Gees sal hulle as dissipels, as volgelinge, gestuurdes word en aan die nasies die evangelie van bekering en vergewing van sondes verkondig. Voer jy jou opdrag elke dag uit?
God ken jou en God kies jou. God maak jou bekwaam en gee jou wat jy nodig het om sy gestuurde te wees. O, prys die Naam van die Heer ons God. O, prys sy Naam vir ewig. Vir altyd sal ons sy lof besing, o Heer, o Heer ons God!
Ds Joleen Marx, Beroepafwagtend
