Filippense 1: 3-11

Geen geleerdheid kry jou uit die sonde uit nie. Maar om te leer, maak aan geloof ’n verskil. Ons Hervormers is nugter denkers. Maar is ons nog bereid om te leer? Ons maak so maklik asof ons alles weet wat daar van God te wete is. Ons duld nie verskille nie. Maar dit is hoe kultusse glo: Nét ons is reg. Om nog te moet léér, beteken ons het kennis en insig nodig, en dit is ’n belediging vir ’n gelowige wat alles weet. Verbeel jy jou alwys, onderskat jy jou sonde.

Die Filippense kry al reg om lief te hê, maar selfs húlle kan leer en verbeter: Hul liefde kan toeneem. Twee goed verryk liefde. Aan albei kan jy gaan werk. Ons moet beter begrip kry, so vertaal die 1983-vertaling dit. Die Nuwe Direkte Vertaling gaan sê ons moet meer kennis kry. Albei vra: Leer jy genoeg? En ons moet ’n fyn aanvoeling ontwikkel, sê die een, en insig noem die ander een dit. Verstaan jy wat jy weet? Kan jy dit wat jy weet, al reg gebruik? 

Die vraag is, as ons nog móét leer, glo ons dan nie meer soos ons voorgangers geglo het nie? Dalk nie. In sekere gevalle, beslis nie. ’n Hoeksteen van die Hervorming is om aanhoudend te hervorm. Hoe hervorm jy as jy nie leer nie? Nóód leer bid, sê ons mos. Geen leerskool werk so goed soos swaarkry nie. As jy ly, móét jy leer, of jy bly lê. Onthou dat alles wat die Bybel oor liefde en geloof sê, gebeur teen die agtergrond van die swaarste lyding. Paulus sit in die tronk as hy dié goed skryf. 

Soms, as ons die fokus op die liefde plaas, vergeet ons van die lyding. Dis net liefde waar jy kyk. Maar hierdie liefde kan maklik opraak, veral as die lewe druk. Maar onthou, toe liefde opraak, het God ingegryp, eenmalig, beslissend, volhoudend. En ons het in Hom wat uit liefde gely, gesterf en opgestaan het, ook opgestaan in ’n nuwe lewe waar die liefde heers, volhoudend. 

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

af
af
Deel met behulp van
Copy link