Johannes 20: 19-23

Ons leef in ’n verwarde wêreld waar baie mense op baie maniere soek na vrede. Mense kry dikwels met baie onsekerhede, swaarkry en moeilike dinge te make. Mense raak moedeloos, ontsteld en bang.

Die waarheid is egter dat net die Here Jesus vir ons vrede kan gee. Ons kan nie Jesus van die vrede skei nie. Toe die Here Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy aan sy dissipels verskyn en sy vrede aan hulle gegee. Dit was al laat die aand op die eerste dag van die week. Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug dat hulle die Here gesien het (Joh 20: 19-20, AFR2020).

Jesus het ’n tweede keer vir hulle gesê dat Hy vrede vir hulle gee. En Hy stuur hulle soos die Vader Hom gestuur het. Hy het die Heilige Gees vir hulle gestuur. Hy doen ’n beroep op hulle om mekaar se sonde te vergewe.

Die Here Jesus het ons sonde vergewe. Sodoende was Hy sy Hemelse Vader gehoorsaam. Daarom het Hy vrede, wat Hy vir ons kan gee. Hy ly en sterf in ons plek ter wille van ons vrede met God. Hy gee vrede in ons harte. Die Here Jesus sê vir ons: Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie (Joh 14: 27, AFR2020).

Ten spyte van onsekerhede en moeilikhede in die wêreld, het ons die geloofsekerheid dat Jesus Christus die vrede is. Hy stuur vir ons sy Heilige Gees om vandag, môre en elke dag by ons te wees.

Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin (Joh 16: 33, AFR2020).

Ds Kotie Mc Donald, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap