Hebreërs 10: 23-25
Kom ons wees eerlik. Die kerk kan soms ’n pyn in die nek wees. Regtig, dit kan. In die kerk is daar moeilike mense, die predikant is nie altyd so goed soos hy of sy moet wees nie en daardie aanbiddingsmusiek wat hulle speel…
Jare gelede het ’n vriend my genooi om saam met hom in die Karoo te gaan jag. Die mense van die omgewing was dit eens dat dit ’n matige winter was; vir my was dit een van die koudste winters wat ek nog beleef het. Na ’n koue dag in die jagveld is ons egter terugverwelkom met ’n groot, brullende kaggel by die plek waar ons oornag het. Daar is ure lank gekuier. Ons het die vuur met steenkool gestook, en elke nou en dan sou ’n rooiwarm stuk steenkool uitval op die groot stuk klip wat in die vloer voor die kaggel ingebou is. Binne net ’n paar minute sou hierdie brandende, warm, gloeiende rooi stuk steenkool swart word. Binne ’n halfuur kon jy dit optel. En binne ’n uur was dit koud. Daar, reg voor my oë, speel die prentjie hom af – van ons as gelowiges wat die voorreg van saamwees verwaarloos én die koudwordgevolge.
Hoe moeilik dit ook al soms kan wees, God se familie gaan oor ondersteuning en aanmoediging en inspirasie. Dit gaan daaroor om seker te maak dat ons nie koud of lou word in ons geloof nie. Dit gaan daaroor om seker te maak dat die vuur wat in ons harte vir Jesus brand, nie ophou brand nie.
Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Heb 10: 23-25).
God se familie sien om na mekaar. God se familie hou nooit op om mekaar aan te spoor en aan te moedig nie. Ja, kerkmense is familie.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit/Vanderbijlpark
