Klaagliedere 3: 21-30

Ek hoor ’n rukkie gelede iemand sê: Normaal is ’n verstelling op ’n wasmasjien. Dit is waar. Want wat is normaal? Die een se normaal is dikwels die ander se abnormaal. Die afgelope jaar of wat het Covid-19 wat vir ons abnormaal was, die norm geraak. Voor Maart verlede jaar was die abnormale tyd wat ons op selfone, rekenaars en voor die TV deurgebring het, in die brandpunt. Die impak van die seine en strale was ’n vuurwarm besprekingspunt. Toe raak hierdie gesprek vergete namate skerms die voorkeur (soms die enigste) manier van sosiale en professionele kontak geword het.

Abnormaal skud die fondamente van ons leefwêreld. Dit maak mense angstig en gedisoriënteerd. Die vraag is egter: Hoe werk ons daardeur? Hoe oorleef ek in my gemoed? Hoe behou ek geloof?

Ons lees in Klaagliedere hoe Israel destyds in so ’n bestaanskrisis gedompel is. Die Babiloniërs het die Godstad, Jerusalem, vernietig. Tydens die beleg het honderde van honger omgekom. Met die inname is baie mense doodgemaak, vroue is in die strate verkrag.

En tog, die skrywer gee nie leë beloftes dat alles goed sal gaan nie. As ’n krisis met soveel hartseer, pyn en ontwrigting gepaard gaan, moet dit deur-gely word. Dis amper soos die rouproses waardeur ’n mens moet gaan as jy iemand aan die dood moes afstaan. Deur met my beklagings na die Here te gaan, help dit my in die proses om die onverstaanbare, die abnormale normaal, deur te werk. Dis wat die vyf Klaagliedere in die boek wil doen. In Engels word Klaagliedere Lamentations genoem, want dit verwys na die proses van lamenting – ’n beskrywing van jou hartseer en smart sodat jy as’t ware daardeur kan ly.

Kom ons praat met die Here oor ons angs en onsekerheid. Die hele boek Klaagliedere is ’n gebed waarin die skrywer sy klagtes passievol verwoord. Vir hulle wat in gebed die Here vasgryp, is daar hoop op die toekoms!

Hemelse Vader, in veranderde tye bring ons ons onsekerheid na U toe. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link