Matteus 6:10a

Wanneer bepaalde dwarswinde op die eie werf woed, is dit handig om ’n beroep op God te doen, so asof by implikasie gesê word: Here, U het in u Woord gesê dit mag. Die bede dat die koninkryk moet kom, is bekend, veral met betrekking tot die bekende Onse Vader-gebed. Jare lank is as’t ware polemiek gemaak teen gebed en bidure en alles wat daarmee saamhang, maar dit is ook nodig om dit as’t ware weer te bedink. Gebed is nie net ’n noodmaatreël om onverwagse nood wat menslik onoplosbaar lyk, die hoof te bied nie.

Gebed is nie net uit nood gebore nie, maar behoort deel van ons totale lewenswyse te wees, soos om die Here te dank en om vir ons daaglikse brood te bid. Dit spruit voort uit die insig dat alles eintlik ’n gawe van God is. In die bekende gebed is ook ingesluit die bede dat die koninkryk moet kom. Heel aan die begin is daarop gewys dat die koninkryk van God dui op sy heerskappy oor die totale skepping en bestaan van mense. Derhalwe sou dit beteken dat alle mense wat weerstand bied teen die teenwoordige gesag van die Here, aan bande gelê sou word, want niemand kan God weerstaan nie. Dit is ’n bede aan God om as God te heers, om die koninkryk waarvan Jesus gepraat het, te proklameer, sodat die Godsregering alle ander koninkryke van hierdie wêreld sal oorheers. Maar dit is nie net daar ver en wêreldwyd nie. Dit is nie net ’n bede om alle vyande uit die weg te ruim nie.

Die bede om die koninkryk van God wat moet kom, is ook van toepassing op die self, hier en nou. Elke gelowige wat hierdie bede bid, doen dit ook aan die eie adres, om alle ongeloof en opstand te laat en ’n lewe te ly wat alle eer aan God laat toekom. God regeer, en dit is ’n proklamasie aan die ander, maar helaas ook aan die self, ’n spreekwoordelike vee voor die eie deur om Jesus wil.

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

af
af
Copy link