Prediker 2: 18-26

In hoofstuk 2 beleef ons saam met die Prediker die frustrasie en moedeloosheid as nadenke oor en soeke na ’n sinvolle en betekenisvolle lewe op niks uitloop. In hierdie lang gedig word op vaste reëlmaat telkens die uitspraak gemaak dat alles tot niks kom. Nie die uitdagings wat hy aanpak, die prestasies wat hy behaal, wyse en verstandige denke en selfs dwase en onverantwoordelike optrede, maak die lewe die moeite werd nie! Hierdie eksperiment met wyse en dwase denke en optrede toon dat wysheid slegs ’n relatiewe voordeel bo dwaasheid het, maar dat dieselfde lot (2: 12-17) van sinloosheid die realiteit is. Net so is ’n mens se arbeid (2: 18-23) ook nutteloos as dit wat jy met moeite bymekaar gemaak het, deur die dwase optrede van jou erfgenaam tot niet gaan.

Die laaste paar versreëls (2: 24-26) dryf die saak van die sinloosheid van die lewe op die spits, maar open ook ’n verrassende ontdekking. Die gedeelte eindig weer eens met die uitspraak dat niks sin maak nie, ten spyte van die uitspraak in vers 24b en die retoriese vraag van vers 25. Die vraag is eintlik ’n stelling: Die lewe is ’n gawe van God – niemand kan buite God om die lewe sinvol geniet (eet en drink) en nadink (met wysheid, kennis en blydskap wat God gee) nie. Ten spyte van hierdie insig, beleef die Prediker God se optrede egter as willekeurig en daarom onberekenbaar. Dit lei dan weer tot onsekerheid oor die lewe en sinloosheid (2: 26). Hoe dikwels is dit ook nie waar ons onsself bevind as ons sukkel om ons lewensgebeure te verstaan en die lewe sinvol te beleef nie? God kan dan selfs vir jou die probleem word.

Die Prediker breek hier ’n belangrike perspektief oop – ’n mens kan tereg wonder of hy werklik besef waarby hy in sy kritiese denke uitkom: Die lewe is ’n gawe van God – God gee rigting aan ’n mens se lewe. Wie hieraan vashou, beleef die lewe as sinvol. Lewensin word nie geskep nie, dit moet ontdek en geleef word!

Ds Japie Coetzee, Emeritus      

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link