Haggai 1: 1-15
Die lewe word gekenmerk deur aanpassings wat vanweë veranderinge gemaak moet word. Sommige aanpassings is maklik en eenvoudig. Ander aanpassings kan ons hele bestaan omkeer en selfs vir ons traumaties voorkom. In ons land, in ons kerke, in ons huisgesinne worstel ons voortdurend met hoe ons moet aanpas by die realiteite waarmee ons daagliks te doen kry. Ons bevind ons in posisies waar ons telkemale kopskuiwe moet maak. ’n Kopskuif verwys na ’n nuwe denkpatroon, om anders te dink as wat jy vroeër gedoen het, om ’n nuwe rigting in te slaan of om nuwe gewoontes aan te kweek.
In Haggai 1 sien ons dat die volk van die Here gesukkel het met wat die regte prioriteite in hul lewens moet wees. Grootskaalse ontnugtering was aan die orde van die dag vir die teruggekeerde ballinge. Die volk dink hulle is besig met die regte prioriteite, om hul lewens te probeer herbou, om hul kinders groot te maak en hul boerderye en besighede aan die gang te hou in hierdie moeilike omstandighede. Die Here se boodskap deur Haggai is egter dat die tempel in Jerusalem herbou moet word en dat nie langer daarmee uitgestel moet word nie. Hulle moes ’n koersaanpassing in hul lewens maak. Deur die tempel te herbou, sou die volk getuig dat hulle verlang na God se teenwoordigheid onder hulle en dat hulle ernstig is oor hul verhouding met God. Deur die tempel in sy vervalle toestand te laat bly, sou hulle getuig dat hulle baie min voel vir hul geloof en vir die God wat hulle aanbid.
Die Here wil ons steeds op die regte koers hou. Daarom roep Hy ons op om aanpassings in ons lewens te maak soos wat dit nodig is om aan sy wil gehoorsaam te bly. Watter koersaanpassings is in jou lewe nodig?
Ds Martin Meyer, Secunda
