Psalm 127

Psalm 127 is ’n pelgrimslied. Wanneer die pelgrimgelowige elke jaar afreis na Jerusalem en nader aan die stad Jerusalem kom, sien hy die stad voor hom lê. In die aand hou die wagte op die stadsmure wag.

’n Pelgrimstog was nie net ’n gewone reis nie. Dit was ook ’n geestelike ervaring, ’n reis waartydens jy tyd vir nadenke en bepeinsing gehad het. Wanneer die pelgrim die stad in die verte sien, kan hy aan sy eie lewe by die huis dink. Hoe hy moet swoeg om sy huis op te bou en sy mense te versorg. Kyk hoe loop die wagters op die mure van Jerusalem. Hoe moet hyself nie swoeg en spartel om sy huis en lewe te bewaar nie?

Ons dink na oor ons lewe vandag. Hoe kan ons die beste toekoms vir ons huis verseker in vandag se moeilike tye? Maar ons moet ook weet: Hoe hard jy ook al werk om dit alles te verseker, as God die huis nie bou nie en die stad nie beskerm nie, bly alles tevergeefs.

Net so geld dit ook vir die opbou van ’n gemeente. Hoeveel maal is lidmate en ampsdraers nie bekommerd oor die voortbestaan van die Kerk nie! Probeer hulle met alle menslike pogings om dit op te bou en te beskerm. Die Here sê vir ons: As Hy die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou tevergeefs. As Hy die stad nie beskerm nie, waak hulle wat dit beskerm tevergeefs.

Dit is tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hul slaap. Daarom moet elkeen van ons onthou: Doen jou werk so goed moontlik, en laat dit dan aan die Here oor, in geloof en vertroue. Anders sal jou beste pogings ook tevergeefs wees.

Ds Arie Kuyper, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link