1 Petrus 1: 13-21

My natuurlike neiging, soos Petrus dit noem, wanneer ek hoor ’n bepaalde groep raak aggressief teenoor ’n groep waarbinne ek van nature val, is om uit vrees of woede te begin sê hoe verkeerd en goddeloos die aggressiewe groep is. Maar in daardie natuurlike neiging word ek eie aan die aggressiewe groep. Want dis die eie van alle groepe wat eie is aan die wêreld.

Dit vat bewustelike, verstandelike paraatheid om myself uit te vang wanneer ek so eie aan die wêreld reageer. En om myself dan doelbewus te vervreem van watter identiteit ook al in daardie stadium bedreig voel. Om ’n vreemdeling te raak vir my wêreldse mens wat bekendstaan as byvoorbeeld blanke, Afrikaanssprekende, Hervormde man op ’n middelklas sosio-ekonomiese vlak en met al die belange wat deur daardie mens behartig word. Vreemdeling, sodat ek met die kennis van Christus kan sê: Ek is ’n kind van God. Al die dinge van my aardse identiteit wat tans deur gegewe mense bedreig word en inderdaad deur hulle vernietig kan word, is in ieder geval vir die verderf bestem.

Maar my Vader, wat Heilig is, het in sy Andersheid bepaal dat ek nie vir die verderf bestem is nie, maar vir die ewigheid. En daarom hoef ek nie meer volgens hierdie verderf-bestemde identiteit te leef nie. Ek mag heilig wees. Ek moet heilig wees. Anders op hierdie verdorwe mense reageer, soos my Vader anders op my verdorwenheid gereageer het. Ek mag kies om nie teen hulle te velde te trek nie, gelowig of ongelowig, en ek mag kies om anders as hulle te wees deur hulle lief te hê. Deur begrip te hê vir hul onkunde. Barmhartig te wees teenoor hul wreedheid. Geloof as antwoord op goddeloosheid. Vergifnis as antwoord van geregtigheid op enige onreg wat teen my gepleeg word. En daarin ook die vrede te ervaar wat so absoluut vreemd is aan hierdie wêreld. Ons God is Gans-Anders. Ons God is Heilig. Sy liefde is vreemd – en maak ons, eie aan Hom, vreemd – vir die wêreld.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link