Romeine 12: 17, 19

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Langenhoven het gesê: Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir jou vriend, jou hart vir jou medemens, jou oordeel vir jouself, en jou gewete vir jou God. Hiermee bedoel Langenhoven dat ons ’n lewe van egtheid moet leef – eg Christelik. Christene se lewe moet die grenslose liefde van God weerspieël. In Christene se lewens het die reëls verander. Dit is nie meer die reël van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand nie. Hulle moet die ekstra myl saam stap; hulle moet die ander wang draai; hulle moet glimlag as die ander ou dink hy gaan gevloek word.

Hulle moenie mooiweersvriende wees nie. Ware vriende huil saam met mekaar, lag saam met mekaar, werk saam met mekaar. Hulle moet vir ander mense, die onbekendes, die onaansienlikes, die onbemindes, hul harte gee. Hulle moet bedag daarop wees om eers die balke uit hul eie oë uit te haal – dan sal hulle eers kan sien om die splinters uit ander se oë uit te haal. Hulle moet hulle laat lei deur die gewete wat God in hulle gevorm het.

Hulle? Wie is hulle? Dit is ek en jy wat onsself Christene noem. Kom ons misbruik God se Naam nie deur onsself Christene te noem en soos ongelowiges te lewe nie.

Ons Vader in die hemel, help ons om eerlik en eg voor U te lewe. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

af
af
Deel met behulp van
Copy link