Gebruik woorde, indien nodig…

Dr Gerhard en Pelica Nel

Moeder Teresa se treffende uitspraak sal seker altyd bly voortleef en ons inspireer: Gaan en verkondig die evangelie van die redding van Jesus Christus en, indien nodig, gebruik woorde.

Daar was aanvanklik een man wat oorkom was deur die toestand waarin baie mense in sy omgewing geleef het. Hy het toe sy kleinhoewe met twee wonings daarop prysgegee sodat etlike gesinne daar kon woon. Later het hy met die hulp van sakemanne ’n klomp houthuise laat oprig op die perseel, met al die noodsaaklike dienste. Die inwoners het mettertyd meer geword. Vandag is daar meer as 300 mense wat Villa Gloria hul tuiste noem.

Geleë in die Oatlands-hoewearea in Krugersdorp-Wes tref jy die kommunes aan waar mense wat meesal haweloos en inkomsteloos is, kan oorleef. Maar hulle oorleef nie net nie, hulle lewe met ’n merkwaardige moedigheid.

Soos in die afgelope dekade of twee reg oor ons mooi land gebeur, spring informele nedersettings veral in die omgewing van stedelike gebiede soos paddastoele op. Mense wat meesal voorheen ’n normale lewe met genoeg middele tot hul beskikking geleef het, verval in ’n situasie waar hulle skielik geen heenkome het nie. Die verlies van ’n werk en inkomste is hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik.

’n Behoefte

Horison Roodepoort se kerkraad het ’n tyd gelede die behoefte uitgespreek dat die gemeente die geleentheid gebied moet word om op ’n gereelde en georganiseerde wyse by ’n diakonale uitreik betrokke te raak. Ons het gekies om die aktiwiteite van Villa Gloria te ondersteun. Ek en Pelica het die plek een Saterdagoggend besoek en was verras om ’n groot aantal mense van verskillende kerke daar te sien. Almal het kruideniersware en klere gebring wat op tafels uitgepak is. Die skenkers het onder leiding van mense wat Villa Gloria organiseer, pakkies opgemaak. Die inwoners het ’n lang ry gevorm en elke gesin het hul pakkie ontvang.

Ons het die gebeure met ’n skyfievertoning voor die erediens aan die gemeente vertoon en ’n oorweldigende reaksie ontvang soos lidmate Sondae skenkings kerk toe gebring het, wat ons weer een Saterdag per maand as ons gemeente se bydrae aan Villa Gloria gaan aflewer het. Ons het gevind dat as mense bewus gemaak word van die moeilike omstandighede van ander en hulle dit ook by wyse van ’n skyfievertoning sien, dit hulle in beweging bring om te help. Ons mense wil graag ander help.

Blymoedigheid

Wat ons tydens besoeke aan Villa Gloria tref, is dat wanneer ’n mens met die inwoners praat, daar nie ’n algemene moedeloosheid by die meeste raakgehoor word nie. Daar is ’n merkwaardige moedigheid en dankbaarheid ten spyte van die min wat hulle besit en waarmee hulle oor die weg kom. Tydens een van ons besoeke daar sien ek en Pelica hoe jong seuns eenkant besig is om boompies te plant wat ook as skenking aan hulle gegee is. Dit is hul boompies wat hulle goed gaan versorg, sê hulle.

Die belang wat mense by mekaar het, word ook by Villa Gloria mooi geïllustreer deur dames wat ’n kleuterskool genaamd Engedi op die perseel bedryf. Die kleuterskoolklassies is tydelike strukture wat maar erg warm of koud kan word, maar wat jou eerste tref, is die helder kleure en blomme wat op die mure geverf is deur die inwoners self. ’n Groot aantal kleuters word hier geakkommodeer, en heeltemal gratis.

Laerskool Ebenhaeser

In dieselfde straat as Villa Gloria is die Laerskool Ebenhaeser geleë waar baie van die laerskoolkinders van Villa Gloria hul skoolopleiding ontvang. Daar is ook ’n wedersydse ooreenkoms tussen die skool en die inwoners waarvolgens kinders wie se ouers nie die skoolgelde kan bybring nie, geakkommodeer word. Uiteindelik is dit die skoolopleiding wat drome lewend hou – veral vir die ouers, dat hul kinders eendag ’n ander lewe sal hê as waaraan hulle nou gewoond moet wees.

Meerdere betrokkenheid

Ons stel dit ook in die vooruitsig om in die toekoms op verdere wyses betrokke te raak by Villa Gloria. Daar word reeds ook eredienste en ander geestelike insette gelewer, maar ons sou ook daarby betrokke kon raak. Ons weet mos dat mense se grootste behoefte altyd aan die Here en sy Woord is en dat dit ’n kerk se diepste bydrae behoort te wees as mense nood ervaar.

Versorging van ander

Die groot veranderinge op politieke en ekonomiese gebiede in ons land oor die afgelope tyd bring noodwendig mee dat die diakonale verantwoordelikheid van die kerk, wat nog altyd een van die kerk se wesenseienskappe was, voortaan net meer beklemtoning sal kry. Die wonderlike van hierdie opdrag, het ons gevind, is dat as jy jou lidmate bewus maak van die nood van mense, hulle reageer. Dit laat mense weer dink oor dit wat hulle het en kan gee. Dit doen iets aan ’n gemeente en beteken ook vir die individuele skenker baie. Om goed te doen aan ander, maak jou lewe sinvol.

Evangelie

Die praktiese uitleef van geloof is so fundamenteel aan die boodskap van die Bybel. En tog bly dit om verskeie redes in ons besige lewens dikwels agterweë. Om hieraan uitvoering te gee, begin dikwels met klein dingetjies, soos die bring van nie-bederfbare kos en klere waarvoor jy in elk geval nie meer nut het nie, kerk toe. Wat ons met die uitreik beleef, is dat die ontvangers van hierdie dinge ervaar dat daar êrens mense is wat hulle nie ken nie, maar wat vir hulle omgee. Hulle is nie alleen soos hulle gedink het nie.

(Dr Gerhard Nel is leraar in Gemeente Horison Roodepoort, en Pelica is sy vrou)

 

 

Soos ’n wildsbok smag na water

Dr Martin J van Rensburg en diak Andries Pretorius

Die bekende woorde van Gesang 163 het tydens die ADV Kommissie se besoek van 26 tot 28 Augustus aan Williston opnuut in my ore opgeklink.

In die omgewing van Williston in die Noord-Kaap het dit die afgelope sewe jaar bitter min gereën. Weens die ondergemiddelde reënval is daar nie meer gras in die veld nie en sien ’n mens Gesang 163 se soeke na uitkoms. Wanneer ’n bakkie in die veld in ry, kom die skape aangehardloop in die hoop om voer te kry. Die hartseer van sewe jaar se droogte is dat dit al hoe moeiliker vir die boere word om voer aan die blêrrende skape te voorsien. Die ADV het in die lig hiervan ’n vrag van 20 ton voer na Williston geneem.

Die meeste boere is in finansiële nood, met banke wat nie meer kan help nie. Die koöperasie probeer nog om krediet te gee, maar die terugbetaal word ’n onmoontlikheid, want die bietjie inkomste wat nog verdien word met die verkoop van skape, word gebruik om voer vir die ander skape te koop.

Die woorde van Soos ’n wildsbok eggo in my kop as ek en diak Andries Pretorius van die ADV by die pastorie van ds Muller Oosthuizen van die NG Kerk instap. Geloof raak moeilik, sê hy terwyl hy vir ons koffie maak. Hulle sal aanhou bid en vertrou, want hulle weet die Here is getrou en Hy sal voorsien. Dit is egter waar dat hulle diep moet delf in hul vertroue op die Here om nie moedeloos te raak nie.

Met die woorde van Gesang 163 in ons gedagtes, stap ons by ’n privaatskooltjie met tien kinders in en ervaar kinders se geloof. Hulle is klein maar deeglik bewus van die gevolge van die droogte. Hulle is egter vol vertroue dat die reën in die nuwe seisoen gaan kom.

By die hoërskool laai ons boeke af en hoor die hoof se uitdaging om elke dag ’n sopkombuis aan die gang te hou vir honger kinders.

Wat ons altyd sal onthou, is die trane van ’n laerskool-onderwyser toe ons ’n klomp boeke aflaai en sy vertel hoedat hulle die oggend gebid het vir boeke en hier daag ons op met ’n sleepwaentjie vol boeke, en hul gebede is verhoor.

By die kleuterskool en die bejaardesorgsentrum ervaar ons weer Soos ’n wildsbok wat smag na water… Die droogte word verder sigbaar met ’n klomp werkloses wat op die straathoek staan en hoop dat iemand hulle dalk ’n tydelike werkie sal aanbied.

Die boerevereniging deel die voer uit, en die toneel van bakkies wat kilometers ver in ’n tou staan, verwoord iets van die nood. Elke boer kry so ’n bietjie uitkoms, totdat die volgende vragmotor opdaag met nog hulp.

Soos ’n wildsbok smag ons na die hulp van die Here. Ons oë en ons hoop bly gerig op die Here wat hemel en aarde geskape het en getrou bly aan sy beloftes.

Dankie aan die NHKA se Diakonaat wat uitreik na diegene in nood. Gesang 163 het nuwe betekenis gekry.

(Dr Martin J van Rensburg is voorsitter van die Werkgroep: Armoede en leraar in Gemeente Delmas; diak Andries Pretorius is voorsitter van Rata Maatskaplike Dienste)

 

 

Die ADV reik uit in Krugersdorp

Diak Mac van Zyl

Op Saterdag 22 Junie het die ringe van Roodepoort, Losberg en Krugersdorp saam uitgereik na hawelose mense in Krugersdorp. Aanvanklik sou net sop en brood bedien word, maar uiteindelik kon ’n driegangmaaltyd voorberei word.

Net na 13:00 kom my groen bus tot stilstand voor die skuiling. In die kombuis is dit ’n miernes van bedrywigheid. Kos word vir 200 mense voorberei. Die dienswerkers word aangemoedig om met die personeel en die hawelose mense te gesels.

Die kinders word vermaak en ontvang lekkergoedpakkies. Elkeen ontvang ook My eerste Bybelboek, en kombersies, serpe en wolmussies word deur die loop van die dag uitgedeel. Bybels en Liedboeke word ook uitgedeel.

Oral sit groepies mense en praat. Die tas met klere en skoene word in ’n oogwink opgeraap. Een jong man het ’n paar Nike-hardloopskoene gekry, en uitgedraf om sy vriend sy nuwe skoene te wys. Ek sien hoe ’n dienswerker haar baadjie uittrek en dit aan ’n jong vrou gee om die koue te trotseer. Nog ’n paar loopskoene het so voete verwissel – die ontvanger het met trots al die karre opgepas, want hy het nuwe skoene gehad om sy werk te kon doen…

Kaartjies is gekoop en uitgedeel aan mense om in die skuiling te kan slaap. Met groot glimlagte is die kaartjies geneem, en dadelik het hulle gaan inboek. Vanaand kry ek nie koud op straat nie. Dankie, Tannie, vir die groot bederf!

Tydens aandete is daar geen tekort aan mense om die tafelgebed te doen nie – 13 hande het opgeskiet! Kos is opgeskep en daar is heerlik gesmul aan die koningskos.

Tyd vir rondstaan was daar nie. Ons het die groen bus gelaai en gery. Daar is die Tower of Life 2 waar 15 dames gehuisves word, en The Cradle of Hope waar jong moeders en hul kinders tuisgaan. Ons ry ook na nog ’n skuiling waar kos gegee word aan diegene wat nie kon afloop om dit te kom haal nie.

Hier is nog baie werk en soveel mense met wie ons moet gesels om hulle positief te hou vir hierdie koue winter. Van die kommentaar wys dit duidelik:

“Elkeen het sy eie storie en seer. Die man is 44 jaar oud en hoor Maandag of hy ’n werk kry of nie. Dankie dat jy hom ’n bietjie hoop gegee het met jou gesprek met hom.”

“Hier is mense wat nie die R25 kan betaal vir een nag se verblyf nie. Ek is bly ek kon leer dat daar tog hoop is.”

“Vanaand het ek geluister en gehoor wat die mense soek. Hulle vra nie veel nie, net ’n roompie of Vaseline om die skurwe hande mee te smeer in die winter. Hulle het swart tee gedrink, want hulle het nie suiker of melk nie, niemand het gekla nie… Hulle was tevrede met die bietjie wat hulle kry.”

Tydens ons afsluitingsgebed sê ons dankie vir die voorreg om te kon dien. Om vir een dag ’n verskil in ander se lewens te kon maak. Om te aanvaar dit wat ek nie het nie, is niks, daar is baie wat niks het nie maar tevrede is met die aalmoese wat na hul kant toe kom.

Bewusmaking van die probleem en hoe daar gehelp kan word, dit het ons reggekry. Deur as ’n eenheid te werk, het die Werkgroep Armoede bewys dat die diakens se taak nog lank nie klaar is nie.

Met die samewerking tussen die drie ringe in die Kerk bevestig ons dat ons as gelowiges hande moet vat en moet uitreik na God se kinders.

Hoe kan jy help? Skakel in by jou naaste Rata-kantoor, of kontak die ADV-kantoor.

(Diak Mac van Zyl is voorsitter van die ADV)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap