Die hoërskool waar ek gematrikuleer het, het ’n Latynse leuse gehad wat lees Age Quod Agis, wat vry vertaal beteken, Wat jy doen, moet jy goed doen.

’n Klompie maande gelede sê ’n predikant vir my dat hy geïrriteerd raak met die Calvinistiese verknegdheid in die susterskerke. Hy wil graag meer voorkeur gee aan ’n vrye bediening.

Waarvan hy hom allles wil losmaak, en wat hy dink dié vrye bediening alles moet behels, is nie seker nie. In sy verduideliking het hy wel onder andere genoem dat die Kerk moet wegbreek van haar formele dogmas.

Wel, geen kerk kan sonder ’n dogma bestaan nie. ’n Dogma vertel immers wat jy preek en glo van God, Christus, die Kerk, vergifnis, versoening, ensomeer. As jy van een dogma wil wegbreek, kies jy inderwaarheid om ’n ander dogma aan te hang. Die Kerk kan tog nie kerk wees sonder om te kan verklaar wat sy bely nie. Die Kerk bely ’n bepaalde geloof, oftewel ’n dogma waarvolgens die Kerk haar geloof en belydenis beoefen.

In die Calvinistiese etiek word mense se plig en verantwoordelikheid beklemtoon. Jou verantwoordelikheid teenoor God se skepping, teenoor jou medemens, die plig en verantwoordelikheid van die regering en burger wedersyds teenoor mekaar, van werkgewer teenoor werknemer en andersom.

Volgens hierdie oortuiging leer gelowiges om hard te werk om beloon te word. So ook dat werk só verrig moet word dat die uitkoms daarvan tot die verdere ontwikkeling van die skepping en gemeenskap sal wees. Verder ook dat gelowiges verantwoordelik is vir die versorging van die skepping en die kerk van God.

Die dogma in die Kerk behoort eintlik geen bedreiging te wees nie, maar eerder as ’n sleutel beskou te word wat gelowiges kan help om die geloof wat hulle bely, te verstaan.

Calvinistiese grondslag

Johannes Calvyn (1509-1564), ’n Franse boorling van Switserland, het oorspronklik regte studeer. Sy regsagtergrond het uiteindelik baie daartoe bygedra dat hy die leer van die kerk sistematies kon neerskryf en tegnies verwoord. Op hierdie wyse het hy nie net die kerk se leer dogmaties saamgevat nie, maar mense ook help leer hoe om hul plek en verhouding teenoor God te verstaan.

In Calvyn se groot werk, Die Institusie, sit hy die Protestantse geloof, soos wat dit in die kerk bely word, uiteen in vyf hoofpunte:

  1. Hy het begin deur te beklemtoon dat God almagtig en heilig is. Niks en niemand is groter as Hy nie.
  2. Daarna het hy beklemtoon dat die mens sondig is. Daar is niks goeds in die mens nie. As gevolg van Adam se sondeval is die ganse mensdom daardeur geraak. Alle mense is dood in oortredinge en sondes. Geen mens kan homself red nie (Gen 6: 5; Jer 17: 9; Rom 3: 10-18).
  3. God het egter deur die uitverkiesing dit so bestem dat mense weer “kind van God” kon word. Deur Jesus se versoeningsdood het daar, danksy die genade van God, vir die mens redding gekom deurdat hy uit verlorenheid gered is. Hierdie uitverkiesing is onvoorwaardelik aan die mens gegee. Dit spruit nie uit goeie werke wat hy doen nie, want sonde bring mee dat die mens se werke nooit heilig is nie, maar volg op die geloof in die verlossing wat hy in Christus verkry (Rom 8: 29-30, 9: 11; Ef 1: 4-6, 11-12).
  4. In erkenning vir die Here se genade, moet die gelowige ’n dankbare leefwyse volg. Hierdie leefwyse wys die vrug van die Gees wat in verloste gelowiges werk.
  5. Vervolgens word gelowiges aangespoor om in hierdie geloof te volhard, omdat hulle weet dat wie deur God uitverkies is, en wie deur die Heilige Gees na Hom toe getrek is, nooit verlore sal gaan nie. Hulle is vir die ewigheid gewaarborg (Joh 10: 27-29; Rom 8: 29-30; Ef 1: 3-14).

Verloopte denke

Ongelukkig het die wêreld se kultuur in ’n rigting verander waar mense vry wil wees van beproefde strukture en belydenisse. Die Calvinistiese etiek het vergete begin raak. Sedert 1994 het wetteloosheid en misdadigheid, asook pligsversuim op talle terreine in die land, ook ’n invloed op mense se insig en denke begin uitoefen. Die resultaat hiervan is dat mense se ingesteldheid op hul etiek en bydrae in die samelewing ook onvermydelik beïnvloed is. In baie gevalle het sommige mense, soos hul omgewing, argeloos geraak en selfs die trots op hul werk verloor.

Ander het waarskynlik in hul strewe na vryheid, en om bevry te word van hierdie ongewenste vervalle kultuur, idealistiese vergesigte en drome begin koester oor ’n nuwe bestel en vrye bediening waar hulle glo dit beter sal gaan. So al asof ’n vrygevonde verandering noodwendig oplossings vir hul frustrasie sal bring.

Die verloop van die geskiedenis het al gewys dat gemeenskappe selde terugkeer na ou weë, maar dat die sukses en groei van gemeenskappe wel altyd op vaste beginsels berus. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is dat die oproep om terug te keer na God, en dat mense moet luister na die woord van die Here, oor die eeue heen nog altyd weerklink het.

Die ou Latynse leuse mag dalk vanuit ’n Calvinistiese agtergrond spruit, en mag dalk na ’n ou beginsel klink, maar moenie die heilswaarde daarvan ignoreer of onderskat nie: Age Quod Agis: Wat jy doen, moet jy goed doen. Volg maar gerus hierdie raad.

(Ds Neels van Tonder is ’n emerituspredikant van die NHKA)

 

Foto: ’n Standbeeld by die Reformatoriese Muur in Genève, Switserland, waarin vier gesaghebbende teoloë in die Reformatoriese geloof uitgebeeld word, naamlik Guillaume Farel, Johannes Calvyn, Theodore Beza en John Knox.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap