Hierdie woorde is ’n direkte vertaling uit Engels van die lirieke van een my gunsteling-popgroepe. Dit val dalk effens swaar op die Afrikaanse oor. Die titel is ’n woordspel met “nommers” en “tel” wat ongelukkig nie ewe goed in Afrikaans weergegee kan word nie.
Ek kry die idee dat die skrywer sê dat die mensdom goed bewus is daarvan dat ons dae genommer is – ons sou miskien in Afrikaans moes sê, ons dae is “getel”. Maar in Afrikaans het laasgenoemde soms ’n pejoratiewe of negatiewe implikasie, amper asof dit ’n dreigement is, terwyl ek dink die skrywer van die lied eintlik probeer te kenne gee dat ons bestaan beperk is – letterlik, is daar nommers aan ons dae gekoppel, want ons weet tog ons het 365 dae in ’n jaar (byvoorbeeld). En, vra die skrywer van die lied, as ons weet dat ons beperkte tyd het om iets te verrig en ’n sinvolle bestaan te voer, hoekom mors ons ons tyd deur met mekaar te kompeteer, onsself konstant met ander te vergelyk, onsself toe te sluit en sommetjies te maak, of om op te gaar op ’n manier wat eintlik beteken ons besittings sal ons oorleef – hoekom mors ons ons tyd deur konstant te tel? Hoekom bestee ons so baie tyd om onsself oor die dag van môre te bekommer? Hoekom kan ons nie ons beperkte tyd aanvaar en met dapperheid en insig sowel ons geleenthede as ons foute aanvaar nie?
Dit laat my dink aan ’n bekende toneel uit die Harry Potter-verhale, wat in die eerste boek afspeel. Die klein seuntjie Harry staan voor die spieël Erised, wat natuurlik van regs na links “desire” spel. Iemand wat voor die spieël te staan kom, sal sy of haar grootste behoefte in die spieël gereflekteer sien. Die klein seuntjie wie se ouers dood is, nooit ’n enkele lid van sy familie leer ken het nie en deur aaklige voogde grootgemaak is, sien sy familie in die spieël: sy ouers, ooms en tantes (aan vaderskant) en sy grootouers. Sy beste vriend, Ron, wat onsigbaar voel en konstant met sy broers in ’n groot familie moet kompeteer vir aandag, sien homself in die spieël gereflekteer as sportkampioen en leier, omring deur bewonderaars. Die uniekheid van Harry se refleksie (hoe skaars dit is) teenoor die algemene van Ron se refleksie as verteenwoordigend van die menslike toestand, word meesterlik deur die skrywer uitgebeeld. En voor die spieël is daar natuurlik nie wegkruipplek nie – jy sien jouself soos jy is.
As iemand wat in ’n enkelouergesin grootgeword het, het my grootwordjare gewentel om die bekommernis oor geld. Die kommer oor hoe om te sorg en uitgawes te dek (die Engelse, to make ends meet) was ’n konstante teenwoordigheid in die huis. In Harry se spieël sou ek moontlik ’n finansieel-kommerlose lewe gereflekteer gesien het. Later in my lewe moes ek baie hard werk om nie in ’n bepaalde obsessiewe patroon ten opsigte van geld te verval nie – om te sorg dat my hele bestaan nie daarrondom draai nie. Dit het jare se oefening gekos om te keer dat ek die hele tyd “tel” en om tevrede te wees met wat ek het, realisties en sorgsaam te lewe en nie in ’n konstante waas van kommer te leef nie. Om nie te veel uit te gee nie en nie te veel op te gaar nie. Ek weet vandag dit is ’n konstante proses, en soms kry ek dit beter reg as ander kere.
In sy weeklikse oordenking, skryf die Franciskaanse priester Richard Rohr en sy span skrywers op die webblad van die Centre for Action and Contemplation onlangs oor die gevaar van aanhoudend “tel”. Hy skryf oor hoe ons ’n obsessiewe houding het oor geld, konstant met mekaar kompeteer en ’n selfbepaalde “etiek” oor verdienste het. Hy verwys na die gelykenis van die oneerlike bestuurder wat Jesus aan sy dissipels vertel en waarvan ons in Lukas 16 lees. In die gesprek met sy dissipels wys Jesus op die gevaar daarvan om aanhoudend “te tel” en hoe ’n mens daar ingesuig kan word en uiteindelik verlore gaan. ’n Mens kan so opgaan in die “tel” dat jy ook wat jy nié hoef te tel nie, nie meer raaksien nie. En, in die taal van die skrywer van die lied waarna ek verwys het, as ons weet ons het ’n geskenk ontvang wat beperk is – ons lewensdae – hoekom hou ons steeds aan met tel? Watter doel het dit om iets wat beperk is, te tel? Ek vind Rohr se woorde só treffend dat ek uit sy stuk hier aanhaal:
To participate in the reign of God, we have to stop counting. We have to stop weighing, measuring, and deserving in order to let the flow of forgiveness and love flow through us. The love of God cannot be doled out by any process whatsoever. We can’t earn it. We can’t lose it … you cannot move around inside the world of grace and mercy and at the same time be counting and measuring with your overly defensive mind. As long as we stay in this world of earning and losing, we’ll live in perpetual resentment, envy or climbing.
Die afgelope 18 maande het van ons almal “tellers” gemaak – uit vrees, uit kommer, as gevolg van verlies, selfbeskerming en kompetisie vir goedere wat nog meer beperk geraak het as ooit. Ons veg vir ons oorlewing op ’n manier wat ander se lewe van hulle ontneem. Die werklikheid van die saak is dat ons sal moet leer om te deel – en om op te hou tel. Daar is dae wanneer ek so moeg is, want ook ek moet op verskillende maniere “tel” om myself aan die lewe te hou: tel my sente want ek het net myself om vir myself te sorg; ek moet my uitsette en werksprestasies konstant tel omdat my werkgewer dit verwag en omdat dit my vooruitgang/bestaan in my werkskonteks beïnvloed; en in onbewaakte oomblikke tel ek op ’n gans ander, gevaarliker manier: Ek meet en weeg myself aan ander. Ons leef in ’n wêreld waar sosiale media veroorsaak dat “meet en weeg” ’n tipe kanker word en ons ervarings slegs vir ons eg (outentiek) is as iemand anders dit raakgesien het, “ge-like” het, “ge-follow” het en “ge-share” het. Hoe hartseer is dit dat ons dit makliker vind om te tel, as om nie te tel nie. Genade kan egter nie getel word nie – ons almal verdien dit ewe min en kry dit ewe veel (in gelyke mate). En as ons weet ons dae is genommer – hoekom hou ons aan met tel?
Dit laat my dink aan ’n gedig wat die karakter Sophia skryf in die verhaal van Rona Rupert se Drie Lemoene en ’n Duif (1992, Tafelberg). In die verhaal sterf Sophia se pa in ’n landmynontploffing in Angola toe sy klein was, en sy sukkel om dit te aanvaar. Sy skryf fiktiewe briewe aan haar pa in ’n poging om haar gedagtes te orden en haar skryftalent te ontwikkel, want haar joernalis-pa het haar aangemoedig om te skryf toe sy baie jonk was. Baie jare later raak haar ma weer verlief op iemand. Sophia, wie se jonger boetie se naam Tobias is, word bang dat sy ook haar ma sal “verloor” en miskien selfs haar broer. Maar Daniel, ’n glasblaser en die man wat haar ma liefkry, sê dat sy nie só moet tel nie, want sy verloor nie – sy kry by. En aan die einde van die verhaal skryf sy hierdie gedig:
Tel bymekaar
drie lemoene
en ’n duif.
Of werk uit wat weeg swaarder:
sand wat glas geword het,
verf, ’n skildery –
of woorde – ’n gedig?
Hoe meet jy
wie se hartpyn
is die seerste?
Vergeet van syfers, en van rekord hou –
die som is onberekenbaar.
Oor die kloof wat tussen mens en mens is
loop net ’n dun gespanne tou
’n lewenslyn –
’n goue draad wat alles vasgebind hou,
onsigbaar –
Dis die liefde.
Dit is juis die belangrikste dinge wat nie getel kan word nie – so hoekom mors ons ons tyd met die tel van onbelangrike dinge? Kom ons hou op tel, meet, weeg, kompeteer, en rus in God se genade. Dit is ware rykdom.
(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
