Ons bars om met net vier voltydse predikante en twee deeltyds, die nege gemeentes in die ring, oor ’n afstand van 273 km, sinvol te bedien. In ons vasgelooptheid om volhoubaar voort te gaan, het ons as Ringskommissie by die SGB aangeklop vir hulp.

Met hierdie noodkreet begin die meeste gemeentes se versoek aan die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) om hulle met ’n begeleidingsproses te help. Meestal verstaan gemeentes nie wat met hulle gebeur nie, maar op ’n dag tref die werklikheid hulle net. Daar is al 24 gemeentes en vyf ringe aan die begeleidingsproses blootgestel.

Die SGB het in 2017 ontstaan uit die Sentrum vir Missionale Bediening nadat die Algemene Kerkvergadering in 2016 besluit het dat dié Sentrum in bedryf gestel moet word. Sedert die ontstaan van die SGB is die bedoeling dat gemeentes, predikante en kerkraadslede nie net begelei word nie, maar ook ontwikkel en toegerus sal word.

Wanneer die SGB by ’n gemeente betrokke raak, is die eerste stap om na die gemeente te luister en die onmiddellike konteks te probeer verstaan. Let asseblief daarop dat die SGB nie ’n vooraf uitgewerkte plan het waarmee die gemeente begelei word nie. Elke begeleidingsproses is ’n onderskeidende geloofsreis wat saam met die gemeente aangepak word.

Die metodologie wat gebruik word, berus op Richard Osmer se vier take van die praktiese teologie:

  • Wat gebeur? (Beskrywend-empiriese taak)
  • Waarom gebeur dit? (Interpreterende taak)
  • Wat behoort te gebeur? (Normatiewe taak)
  • Hoe gaan dit geïmplementeer word? (Pragmatiese taak)

Skematiese voorstelling van die begeleidingsproses 

Tydens die begeleidingsproses word ruim van eie ontwikkelde vraelyste gebruik gemaak om te help vasstel wat in die gemeente aan die gebeur is. Aan die hand van die 12 fasette van gemeentewees word bedieningsbeplanning gedoen.

Hierdie hulpmiddel is in die vorm van ’n bordspel waarop die gemeente se toekomsroeping uitgepak word met kaarte wat verskeie moontlikhede op elke faset bied.

Verder word die gemeente begelei aan die hand van die bedieningsaktiwiteite soos vervat in die Kerkorde. Dit  help die gemeente om te besin oor die werkruimte, byvoorbeeld ’n voltydse of deeltydse of samewerkende werkruimte.

Die missionale bordspel

Die hele begeleidingsproses word gebou op gebed, en die werking en teenwoordigheid van die Heilige Gees. In kort leef die gemeente in biddende afhanklikheid onder die leiding van die Heilige Gees.

Tydens hierdie fase word die gemeente aangemoedig om geloofvormende gewoontes aan te leer bo en behalwe die basiese van Bybel lees en bid, byvoorbeeld wandel in die Woord (Lectio Divina) en Examen, om bewus te raak van die lewegewende teenwoordigheid van die lewende Here in ons daaglikse lewe. Die gemeente word breedvoerig hieroor toegerus.

Die gemeente se roeping word onderskei deur in die gemeenskap na die gemeenskap se behoeftes te luister en vas te stel waar die lidmate reeds betrokke is. Algaande ontdek die gemeente nie net sy roeping nie, maar ook God se beloofde en voorkeurtoekoms vir die gemeente.

Met die ontdekte roeping en die 12 fasette van gemeentewees en bedieningsaktiwiteite begin die gemeente om ’n eie unieke bedieningsplan te ontwikkel binne die konteks van die gemeente. Indien die gemeente besluit om ’n beroep uit te bring, help die SGB met die beroepsbegeleidingsproses. 

Die missionale bordspel

Hierdie beroepsbegeleiding kan onafhanklik aan enige gemeente verleen word. Indien die betrokke gemeente aan NCLS-Kerkspieël deelgeneem het, word die resultate daarvan geïnkorporeer in die begeleidingsproses.

Wanneer gemeentes die SGB kontak om met die ontwikkelingsproses te help, maak ons gebruik van tegnologie wat bekendstaan as Appreciative Inquiry (’n waarderende ondersoek). Hier word nie gefokus op die probleem of dit wat stukkend is nie, maar op dit wat werk en ’n positiewe uitwerking op die gemeente en bediening het.

Die sterkpunte word verder uitgebrei aan die hand van die sogenaamde vyf “D’s”:

  • Define/Definieer: Wat behoort hier te gebeur? Waarop wil ons fokus?
  • Discover/Ontdek: Deel stories, verhale en ervaringe in die gemeente.
  • Dream/Droom: Oor wat in die toekoms moontlik is.
  • Design/Ontwerp: Die moontlike toekoms.
  • Destiny/Toekoms: Implementeer die toekoms.

Die begeleidingsproses waarby die SGB betrokke raak, kan van drie tot 18 maande duur afhangende van wat die gemeente versoek. Die koste daaraan verbonde word gewoonlik gedeel tussen die SGB, die ring en die gemeente. In uitsonderlike gevalle staan die Kerk sinodaal in daarvoor.

Ek sluit af met die slotparagraaf van ’n dankiesêbrief wat ons ontvang het: Dankie vir die SGB wat die Kerk in die lewe geroep het. Ons het weer MOED geskep! Mag ek die afkorting SGB anders bewoord met: SKIELIKE GROOT BEDUIDENDE verwagting!

Vir verdere inligting oor die ontwikkelings- en begeleidings-proses van die SGB is u welkom om my, as sameroeper vir ontwikkeling, begeleiding en toerusting by die SGB, te kontak: johansgb@nhk.co.za en 082 455 1636.

(Dr Johan Bester is deeltyds betrokke by die SGB en Gemeente Pretoria Noorderlig)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap