Hier by ons, net soos seker orals elders in ons Kerk, is dit begrotingstyd. En die een gedagte wat ons daarvan oorhou, is dat kerk nie goedkoop is nie. Die kerk is een van die min plekke waar jy gratis kan in- en uitstap sonder dat jy ’n enkele sent armer raak. Maar soos vriend en vorige kassier en nou al lankal oorlede Leon de Lange altyd gesê het: There’s no such thing as a free lunch. Want, iewers, betaal iemand tog die gelag.
Dog, die kerk en erediens is selde die plek vir grappe en hier by ons lag niemand meer oor die gemeente se begroting nie. Dieselfde projektor wat ons flussies nog laat lofsing het, het ons beleefd aan’t kug oor die syfers wat die ding nou op die skerm langs die kansel uitspoeg; hulle weet húlle gaan moet uithaal en wys. Die dominee is meer as net effens verleë: Die grootste uitgawe is juis hý, al kom hy skaars deur die maand! Hulle maak seker somme om te peil of hy die klein fortuin werd is.
Waag jy dit om rond te kyk – want grond toe kyk, voel meer gepas – laat jou leë banke agterkom. Ons is maar min, nes met tamaties, ’n kleiner oes in ’n te-veel-reën-jaar. Dié van ons wat nog durf opkyk, is sieklik groen. Ook maar goed so, want groen is waar jy met begrotings wil uitkom. Maar siek (en sat) voorspel ook niks goeds vir hoeveel koesisters en vetkoek, kerrie en konfyt en pap-en-kaiings hierdie jaar se basaar gaan moet oplewer nie. Intussen is die berekeninge mooi rooi, die kleur van tekort. Die dominee sal ’n haas uit ’n hoed moet ruk – dalk ’n nag (of wat) op die kerkdak moet sit.
Ons kry almal swaar. Ek is oud genoeg om die enkelsyfers te onthou waarmee my bediening begin het. Hierdie begroting herinner aan dié van ’n klein derdewêreldstaat.
Kerk is (te) duur. So goedkoop as wat genade is, só duur is dit om genade te bedien: toenemend onbetaalbaar.
Hier by ons gaan ons eersdaags eiendomme moet begin vervreem. Moet ons nie jammer kry nie, talle gemeentes is hierby al lankal verby; gun ons tog net vir eers die selfbejammering van hierdie fase van agteruitgang. Verduur dat ons inkennig wonde lek, ons voel dit nou vir die eerste keer aan eie lyf. Die kontantinspuiting van ’n verkoopte pastorie, besef ons egter by voorbaat al, sal nie noodwendige uiteinde keer nie; ons koop net ’n bietjie meer tyd. Goddank, solank daar nog bates te verkoop is…
Ons oorleef nog danksy twee bates wat God ons gun: gelowiges wat gee, uit die dood uit aanhou gee, by wyse van ’n erflating, en gelowiges wat tot die dood toe aanhou gee van die skamele kragte wat hulle nog oor het.
Kerk is (te) duur.
Maar die ware koste is nie in sente af te tel nie; dit kos ons veel meer aan geloof, want om baie eerlik te wees, ons verstaan nie hoekom dit, hierdie bloedgeld, nie meer genoeg is nie. Die gebrek aan begrip vir hoe en hoekom die gemeente deur ons vingers glip, laat ons na strooihalms gryp en verwyte slinger na almal wat ons in tamatiestraat agtergelaat het.
Moet net nie die evangelie goedkoop maak nie, kom van iemand ’n vermaning. Alles moet goedkoper, net nie dít nie! Dog, sedert die begin van die nuwe skooljaar, kon ons nog nie die kategese aan die gang kry nie. Sondag se gemeentevergadering het toe maar besluit ons doen hier nie meer kategese nie: Die ouers sal moet self. As die Kerk se verkondigingsgestaltes een vir een ’n stil dood sterf, is die skrif seker maar aan die muur. Dit gebeur net te maklik; dit is net te goedkoop. Miskien gaan ons veel beter oor die gebrek aan kategese voel as ons meer uitkomsgerig dink: Min katkisante kom ná hul eerste Nagmaal weer hier uit. Dalk gaan ons die kategese nie eens mis nie!
Ons is klaar te klein, te min van ons, en te kleingelowig.
Wie weet, dalk hou die geld tóg nog langer as die lidmate.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Dit is voorwaar meer negatief as positief maar realiteit. Net ‘n klein groepie lidmate probeer nog manmoedig om te help en die uiteinde te vertraag.
Gelukkig is die Here se hand en genade nog daar.
Dit is ‘n absolute voorreg om nog in Afrikaans die woord van die Here aan te hoor in sy huis. As lidmate tog net hierdie voorreg waardeer en wil insien.