Wanneer ’n persoon sy of haar aftrede beplan, is die grootste fokus en bekommernis meestal die finansiële aspek daarvan. Wat ook heeltemal reg is. Maar, buiten die fondse wat benodig word om jou aftrede te geniet, moet daar ook gedink word aan wat jy fisies gaan doen in hierdie jare. Die sosiale aspek van aftrede word soms vergeet.
Terwyl die idee om hoegenaamd niks te doen nadat jy vir jare werkend was baie aantreklik klink, hou hierdie fantasie nie lank nie. Uiteindelik gaan afgetredenes weer produktief wíl raak, of dit behels om nuwe stokperdjies op te neem of om bloot met ander te sosialiseer. Volgens verskeie van die bestuurders by Ons Tuis se residensiële fasiliteite bestaan daar ’n werklike gevaar om geïsoleerd en eensaam te word, wat selfs kan lei tot ernstige gesondheidsprobleme. By Ons Tuis se residensiële fasiliteite is daar verskeie programme en aktiwiteite waaraan bejaardes daagliks kan deelneem.
Wanneer mense hulself nie voldoende voorberei vir die sosiale aspek van aftrede nie, kan gesondheidsrisiko’s soos ’n toename in gereelde siektetoestande, verminderde mobiliteit en ’n afname in geestesgesondheid voorkom. Navorsing dui daarop dat hierdie negatiewe gevolge van aftrede verminder kan word indien ’n persoon ’n sterk sosiale ondersteuningsnetwerk in plek het. Met ander woorde, met deeltydse aftrede (halfdagwerk) of om sosiale aktiwiteite te verrig, kan ’n persoon ’n langer, gelukkiger en meer vervulde lewe leef.
Alhoewel dit dwaas mag klink, kan die Engelse idioom dying of boredom ’n werklike risiko wees by aftrede. Basies moet jy jou afvra wat jy uit jou aftrede wil kry. Alhoewel daar geen regte of verkeerde antwoord hierop is nie, is dit iets wat oorweeg moet word. Gelukkig behels die opsies meer as net deeltydse werk. Ja, om langer te werk, verminder die aantal jare wat ’n persoon vir aftrede moet betaal, maar dit is nie vir almal ’n opsie nie.
Bly egter aktief!
Vrywilligerwerk is ’n goeie alternatief wat jou help om aktief te wees, terwyl jy teruggee aan die gemeenskap. Dit help om afgetredenes die gevoel te gee dat hulle steeds ’n doel in die lewe het. Hulle kan terselfdertyd hul vaardighede benut, en vrywillige organisasies verwelkom soms die volwassenheid wat ’n afgetredene bied. Die afgetredene sosialiseer ook dan met die ander lede van die gemeenskap. Hierdie vrywilligerwerk bied ’n meer volhoubare, veerkragtige en lonende benadering as om werk heeltemal te staak en ’n kluisenaar te word.
Aftrede is beslis ’n beduidende lewensverandering waarby jy moet aanpas. Om aan te sluit by klubs, klasse te neem, en selfs aan te teken op sosiale netwerke, kan grootliks help met die oorgangstydperk.
Aftrede, soos enigiets anders in die lewe, vereis ’n gebalanseerde oogpunt. As gevolg van die sosiale aspekte wat met aftrede gepaardgaan, kan dit ’n negatiewe effek meebring om slegs op die finansiële beplanningskomponent te fokus.
Aftrede moet beskou word as ’n opwindende nuwe lewensfase, wat geniet kan word met ’n gemeenskap van mense wat ’n soortgelyke lewensbenadering het.
[Ons Tuis: OTMT is ’n maatskappy wat onafhanklik funksioneer, maar steeds binne die raamwerk van die Kerk se diens van barmhartigheid. Die direksie word so saamgestel dat die bydraes van sowel die NHSV (Monumenttehuise) as Ons Tuis erken word.
Kyk gerus wat alles die afgelope 18 maande by die tehuise gebeur het. Klik op hierdie skakel vir ’n videogreep: https://youtu.be/0_54PumlDlI]
