Die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring is onlangs gemaak aan prof Johan Buitendag, emerituspredikant van die NHKA en ’n vorige dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria.

Navorsing as ’n kritiese ondersoek na ’n beter verstaan van die werklikheid en gebeure, in ’n soeke na waarheid teenoor gepropageerde persepsies, word meermale by die ernstige ondersoeker ’n lewenstaak. So gesien, kan ons inderdaad praat van navorsing wat jou lewe in beslag neem.

Dit het ook met prof Johan Buitendag gebeur – die studie van sy jong dae het gaandeweg ’n akademiese loopbaan geword en sy navorsing ’n lewenstaak. Navorsing wat oor baie jare kom, moet waardeer word, omdat dit die potensiaal het om ’n positiewe bydrae in die samelewing te maak. Dit bied ook waardevolle rigtingwysers aan mense wat nie bloot alles aanvaar nie, maar daarop ingestel is om logies vir hulself te dink.

Dit is goed dat daar kundige instansies is wat verdienstelike navorsing raaksien en onder ons aandag bring met toekennings aan navorsers. So het ons met groot waardering kennis geneem van die waardevolle werk wat prof Johan Buitendag gelewer het: In die kategorie vir persone of instansies wat deurentyd of oor ’n leeftyd heen ’n besondere bydrae gelewer het tot omgewingsbewaring en omgewingsgeregtigheid, het die Christelike Lektuurfonds (CLF) by die oorkoepelende Andrew Murray-prysfonds aanbeveel dat die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir 2023 gemaak word aan prof Johan Buitendag.

Hierdie toekenning het op 26 Mei 2023 in Kaapstad plaasgevind. Ons gelukwensing gaan aan prof Johan Buitendag, met groot erkenning van en waardering vir sy kundigheid.

Johan Buitendag was die eerste in ons land om ’n doktorale proefskrif te skryf oor teologie en ekologie. Deur die jare was hy outeur of mede-outeur van 38 artikels oor skepping en ekologie in erkende vakwetenskaplike tydskrifte, afgesien van ander skryfwerk en referate by internasionale konferensies oor die onderwerp. Hierby kom ook sy populêre lesings oor die onderwerp.

Sy teologiese benadering tot hierdie studieveld kan beskryf word as ’n hermeneutiek van ekologiese verantwoordbaarheid teenoor die Skepper en die skepping. Teologie is vir hom werklikheidsverstaan, en dit gaan nie net oor verstaan nie, maar ook oor doen. Die natuur moet verstaan word as die handewerk van die Here God. Daar moet altyd onthou word Wie geskep het en wat geskep is, en menslike verantwoordbaarheid ten opsigte van misbruik en uitbuiting is daarom aan die orde. Ons word opgeroep tot waardering en bewaring van ons natuurlike omwêreld.

Wanneer prof Johan Buitendag se navorsing in detail bestudeer word, word ons toenemend bewus van die geweldige uitdaging wat aan ons gestel word. Mag hy steeds die krag ontvang tot voortgaande navorsing. Ons onthou die woorde van ons Here Jesus wat sy waarheid se vrymakende krag aan ons leer, in Johannes 8: 31-47.

(Dr Kobus Labuschagne is ’n emerituspredikant van die Kerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap