Bybelgenootskap vier 200 jaar

Die Saaier, die betroubare karakter wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se logo uitgebeeld word, is steeds besig om onverpoos die saad van God se Woord, die Bybel, te saai. Vir byna 200 jaar, sedert sy stigting op 23 Augustus 1820, het die BSA miljoene mense gehelp om toegang tot die Woord van God te kry.

Soos die getroue saaier in die Bybelse gelykenis, is die Bybelgenootskap toegewyd besig om bekostigbare Bybels te voorsien aan alle Suid-Afrikaners in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar. As ’n organisasie glo die BSA dat die Here sal voortgaan om hul werk oor die volgende 200 jaar en daarna te seën.

Ter viering van die mylpaalverjaardag wil die BSA selfs meer doen. As deel van hierdie viering wil hulle tweemiljoen Bybels versprei onder Suid-Afrikaners wat nie ’n Bybel kan bekostig nie. Ja, dit is die BSA wat verjaar, maar pleks van net ontvang, wil hulle graag gee. Hulle benodig egter goedgesindes se hulp om van die tweemiljoen-Bybels-projek, wat van 23 Augustus 2019 tot 23 Augustus 2021 duur, ’n sukses te maak.

’n Geskenk van R100 kan help om ’n Bybel en ’n stel geletterdheidsboekies beskikbaar te stel. Saam met die BSA kan jy help om Bybelarmoede in ons land te verlig en ook om basiese geletterdheid te bevorder. Hierdie klein bedraggie kan ’n groot verskil in iemand se lewe maak.

Daar is verskillende maniere hoe jy R100 tot die projek kan bydra en ’n saaier van hoop kan word:

Direkte inbetaling

ABSA; rekeningnommer 260 208 950; takkode 632-005; verwysingsnommer 2020.

Snapscan 

Gemeentes kan oorweeg om sport- en ander geleenthede te organiseer, byvoorbeeld ’n Bybelstap, om fondse vir die tweemiljoen-Bybels-projek in te samel. Kombineer jul passie met hierdie groot saak en verdien soveel meer!

Soos besluit by die afgelope AKV, gaan die NHKA op Sondag 23 Augustus (Bybelsondag) ’n eenmalige spesiale offergawe insamel ten bate van die projek. Gemeentes sal by die ringsvergaderings en deur korrespondensie meer inligting hieroor ontvang. Lidmate is egter steeds welkom om ook individuele donasies te maak.

Ons taak is om gewoon te volhard met die proses van die saai van die saad en om dan te vertrou dat God die res sal doen. Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie.”  (Mark 4: 26-27)

So lyk die feesembleem

Die spesiale 200-jaar-feesembleem is ’n eenvoudige ontwerp wat boekdele spreek oor die kernwerksaamhede van die BSA en sy ryk geskiedenis. Die 200 verwys na die twee eeue van toegewyde diens aan die Bybel en sy gebruikers.

Die oop Bybel in die middel van die nul wys dat die Bybel sentraal staan tot alles wat die BSA doen. Dié nul is ook ’n arm wat die Bybel omhels. Hierdie koesterende gebaar onderstreep hoe ernstig die BSA hul taak van Bybelvertaling ag.

Die hand is simbolies van die BSA se hart om met die Bybel na ander uit te reik en van hul visie: ’n Bybel vir elkeen. Die nul is ook onvoltooid. Die werk van die BSA is nog lank nie klaar nie. Die behoefte aan Bybels is groot.

30,4 miljoen Suid-Afrikaners leef in armoede. Een uit elke drie Suid-Afrikaners leef met ’n inkomste van minder as R797 per maand. Werkloosheid in Suid-Afrika is kommerwekkend. Die jongste syfer noem dat meer as 27,6% van die ekonomies aktiewe bevolking werkloos is.

Intussen styg Bybelarmoede. Ongeveer 23 miljoen Bybels word tans in Suid-Afrika benodig. In baie Christen-huishoudings is daar nie genoeg Bybels nie en in sommige is daar glad nie ’n Bybel nie.

En dan is daar die probleem van geletterdheid. Stel jou voor: Jy kan nie lees nie. Jy gaan winkel toe en jy kan nie etikette of pryse lees nie. Lees en skryf is vaardighede wat noodsaaklik is om ’n vol lewe te lei. In Suid-Afrika is geletterdheid tans ’n groot probleem, met vier uit elke vyf graad 4-leerders wat nie met begrip kan lees nie. Dit beteken dat hierdie kinders ook sukkel om te leer. Dit is slegs wanneer jy kan lees dat jy kan leer.

Die BSA se Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal is daarop gerig om hierdie ontstellende situasie te help verlig. Die tweemiljoen-Bybels-projek sluit die verspreiding van tweemiljoen stelle geletterdheidsboekies in.

Die Bybel – hoop vir almal

Die BSA is dankbaar dat so baie kerkgenootskappe ingestem het om saam met hulle 2020 as Jaar van die Bybel te vier. Die tema vir die jaar is Die Bybel: Hoop vir almal. Ons land het ‘n groot behoefte aan hoop, en ons weet dat die Bybelse boodskap handel oor die Lewende Hoop.

Om kerke te help om opnuut op die Bybel te fokus, stel die BSA die volgende hulpmiddels aan gemeentes beskikbaar:

  • Die Bybel: Hoop vir almal, ’n gratis boekie om die waarde van die Bybel te beklemtoon, asook die unieke karakter en inhoud van die Bybel, hoe die Bybel ontstaan het, hoe om die Bybel te lees en vele meer.
  • ’n Bybelleesplan om mense te help om die Bybel in een jaar deur te lees. So ’n Bybelleesrooster in ingebind in die NHKA se Almanak van 2020.
  • ’n Reeks ekumeniese preeksketse wat fokus op die Bybel en hoop vir almal. Die verwagting is dat predikante in hierdie versameling preeksketse ten minste een preek sal vind wat hulle sal help om die Bybelse boodskap van hoop gedurende hierdie spesiale Jaar van die Bybel aan hulle gemeente te bring. Die versameling preeksketse is in elektroniese formaat beskikbaar.
  • ’n 40-dae-Bybelstudie sal in die derde kwartaal van 2020 beskikbaar wees en meer inligting sal betyds gekommunikeer word.
  • Bybel 2020, ’n wêreldwye Bybelleesinisiatief wat gebruik maak van ’n toepas-sing waar mense hulself opneem met die lees van daaglikse teksgedeeltes in hul eie taal (kyk by www.bible2020.org).

Al hierdie materiaal is by die naaste Bybelhuis beskikbaar.

Indien elke kerkgenootskap of kerklike groep gedurende die Jaar van die Bybel die geskenk van een Bybel en stel geletterdheidsboekies per lidmaat aanmoedig, sal die BSA goed op pad wees om hul doelwit te bereik. Dit is hul gebed dat elke kerk in Suid-Afrika deel sal word van hierdie groot geleentheid om ’n Bybel, met sy boodskap van ewige lewende hoop, in die hande te plaas van iemand wat nie ’n Bybel kan bekostig nie, en terselfdertyd kindertjies te help om reeds op ’n vroeë ouderdom die Bybel te ontdek. Die organiserende sekretarisse in die streekkantore kan praktiese hulp in hierdie verband op gemeentevlak verleen.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap