Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het tydens ’n vorige vergadering (1 Maart 2024) besluit dat ’n skrywe aan gemeentes van die Hervormde Kerk gestuur sal word, wat handel oor aktuele aangeleenthede in Suid-Afrika in die aanloop tot die nasionale verkiesing wat vir 29 Mei 2024 beplan word. Op versoek van die Kommissie van die AKV word die skrywe ook in Die Hervormer opgeneem.
Ordinansie 4.6.2 van die Kerkorde van die Hervormde Kerk bepaal dat die Kommissie van die AKV by geleentheid amptelik in herderlike skrywes standpunt inneem oor ernstige vraagstukke wat die kerk, gemeenskap of staat raak, en daarom word gemeentes en predikante vriendelik versoek om hierdie skrywe langs alle moontlike kommunikasiekanale in hul gemeentes te versprei sodat ons lidmate self die brief onder oë kan kry.
Die oomblik het aangebreek dat die Kommissie van die AKV, en per implikasie die Hervormde Kerk in geheel, teenoor die owerheid en elke burger van Suid-Afrika moet getuig dat ons diep bekommerd is oor die situasie in Suid-Afrika. Sake waaroor ons bekommerd is, is die volgende:
- Die Kommissie is bekommerd oor die toename in moord en ander geweldsmisdade in Suid-Afrika, waaronder geslagsgeweld, huisbrake en ontvoerings. Tans word 75 mense per dag vermoor. In 2023 alleen is 45 boere op plase vermoor, ook lidmate van die Hervormde Kerk. Ons dra elkeen wat deur misdaad getraumatiseer is, in gebed aan die Here op.
- Die Kommissie is bekommerd oor die Bela-wetgewing wat besluitneming oor sleutelsake soos skole se taal- en toelatingsbeleid in die hande van staatsamptenare sentraliseer. Dit kan daartoe lei dat moedertaalonderwys, en spesifiek die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium, nog meer in openbare skole onder druk kom. Die Bela-wetsontwerp misken die waardevolle en regmatige inspraak wat plaaslike gemeenskappe en skoolbeheerliggame in die opvoeding van ons kinders het.
- Die Kommissie is bekommerd oor die verval van maatskaplike dienste en subsidies aan welsynsorganisasies. Die provinsiale regering van Gauteng het die welsynbegroting vir die 2024-2025-boekjaar met R223 miljoen verminder. Dit plaas die kindersorg, kinderhuise, ouetehuise en maatskaplike dienste van die kerke en ander organisasies onder geweldige druk, en het reeds gelei tot die sluiting van verskeie instellings wat na kinders en bejaardes omsien.
- Die Kommissie is bekommerd oor die verval in die openbare sektor. Dienslewering deur staatshospitale, klinieke, howe, munisipaliteite, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Eskom en Rand Water bedreig die lewenskwaliteit en daaglikse bestaan van talle Suid-Afrikaners.
- Die Kommissie is bekommerd oor wydlopende armoede en werkloosheid wat die sosiale kohesie in Suid-Afrika ondermyn. In 2023 was 32,6% van die Suid-Afrikaanse bevolking werkloos. Volgens Statistieke Suid-Afrika se 2023-verslag leef 18,2 miljoen mense in Suid-Afrika van minder as R40 per dag. Dit beteken dat 30% van die kinders in Suid-Afrika aan chroniese wanvoeding ly, met gevolglike fisiese en intellektuele uitdagings. Ons bid elke dag vir ons daaglikse brood, en so bid ons ook vir elkeen wat elke dag honger gaan slaap en wat in armoede leef.
- Die Kommissie is bekommerd oor die betrokkenheid van sommige politieke partye in Suid-Afrika in korrupsie, polarisasie tussen verskillende bevolkingsgroepe, nepotisme, politieke geweld en selfs politieke moorde. Dit bedreig die demokratiese bestel in Suid-Afrika op ’n fundamentele wyse. Dit is ’n hartseer werklikheid dat politici die mense van Suid-Afrika se vertroue geskend het en hulle beroof het van hoop op ’n voorspoedige en vredevolle toekoms.
Die reformatoriese standpunt, soos deur die Franse Hugenote verwoord, is dat ’n volk nie ter wille van die owerheid bestaan nie, maar dat die owerheid ter wille van die volk bestaan. Die owerheid het ’n heilige roeping om tot voordeel van ál die burgers van die land te regeer. Waar dit nie gebeur nie, verander die owerheid in ’n rowerbende wat net vir eie gewin regeer.
In die lig van bogenoemde, doen die Kommissie ’n beroep op elke gemeente, ampsdraer en lidmaat van die Hervormde Kerk, en elke burger van Suid-Afrika, om –
- met verantwoordelikheid deel te neem aan die verkiesing wat op 29 Mei plaasvind;
- betrokke te raak by gemeenskapsprojekte wat die welstand van al die inwoners van die land sal bevorder;
- opnuut deur middel van die kerklike diakonaat uit te reik na mense in nood;
- die verhouding tussen die mense van Suid-Afrika te verbeter deur elkeen wat ons teëkom met respek en Christelike liefde te behandel;
- fundamentele en universele morele waardes (soos respek vir lewe) te bevorder; en
- gereeld vir mekaar, die mense van Suid-Afrika en die owerheid te bid; en te bid dat God se koninkryk sal kom sodat sy wil hier in ons land gestalte sal kry.
Ten slotte: Daar is ’n oneindige afstand tussen die evangelie van Jesus Christus en die alledaagse politiek. Jesus Christus het voor sy kruisiging vir Pontius Pilatus gesê: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. God se koninkryk en wêreldse koninkryke verskil radikaal van mekaar. Daarom hoop ons nie op politieke leiers nie, maar op God wat tot in ewigheid regeer. Ons hét hoop vir die toekoms, want ons bou ons hoop op God Drie-enig.
Tegelykertyd is die evangelie van Jesus Christus van oneindige belang vir die politiek. Jesus Christus het ons geleer dat ons mekaar moet liefhê, na mekaar moet omsien en mekaar moet versorg. Die evangelie is ’n krag tot hervorming en versoening, omdat dit mense in Christus verenig en transformeer tot volk van God.
Daarom is die evangelie van Jesus Christus die enigste hoop vir die wêreld, vir vrede in Suid-Afrika en voorspoed vir almal.
(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)
*** Kyk by https://www.youtube.com/watch?v=z3ejrodT3pc vir prof Dreyer se YouTube-opname van hierdie boodskap.
