Dr Frikkie Labuschagne, direkteur van die SGB, rig hierdie skrywe aan ons lesers.
Ons verkeer almal in isolasie! Die isolasie gebeur tans op fisiese, sosiale sowel as emosionele en geestelike vlak. Emosionele ontwrigting en ander vorme van trauma skep ’n volgende vlak van isolasie. Die beginsel van isolasie-in-isolasie maak dit vir mense moeilik om met hul omstandighede te oorleef. Ons het nog nooit voorheen so iets beleef nie en daarom is ons antwoorde op en uitkomste rakende hierdie uitdagings beperk. Gesinne is in baie klein spasies saam waar druk en spanning na alle waarskynlikheid in die volgende weke gaan toeneem. Kom ons praat…
Hoe kan die Sentrum vir Gemeentelike Bediening u in hierdie grendelperiode ondersteun?
Almal is reeds en word toenemend bewus van die individuele en kollektiewe ervarings van frustrasie, ongemak, isolasie en weerstand wat die konteks teweeg gebring het. Hierdie ervarings mag moontlik intensiveer oor die volgende paar weke. Die SGB vat hande met ’n gemeenskap van sielkundiges, beraders, begeleiers en terapeute wat bereid is om hierdie dienste pro bono en teen verlaagde tariewe beskikbaar te stel aan ons geloofsgemeenskap. Hierdie dienste is beskikbaar vir diegene wat nie toegang het tot mediese fondse nie en wat moontlik nie normale tariewe vir dié tipe dienste kan bybring nie. Gespesialiseerde psigiatriese en sielkundige ingrepe word hiervan uitgesluit. U kan een van die volgende persone kontak wat u sal help om met die regte terapeut/berader kontak te maak:
Prof Theuns Dreyer: 083 660 6486 / proftheuns@gmail.com
Mev Elna Esterhuizen: 079 878 6041 / elna@esterhuizenconsulting.co.za
Dr Frikkie Labuschagne: 082 873 6557 / frikkie@nhk.co.za
Zoom en telefoniese berading is beskikbaar deur hierdie beradingsnetwerk. Individuele beradingsessies en groepondersteunings sal ook beskikbaar wees. Elna sal die versoeke verwerk en kanaliseer na die netwerk van beraders. Uiterste vertroulikheid sal gehandhaaf word, onderskryf deur die etiese beginsels van die onderskeie beradingsliggame en rade.
Die hulpdiens het ten doel om die impak van die Covid-19-omstandighede op die lewens van lidmate en geloofsgemeenskappe te verminder. Ons wil graag bydra daartoe dat die Lockin-Faith periode onthou sal word as ’n periode waar die geloofsgemeenskap op spirituele, psigo-, sosiale en emosionele vlakke ondersteun is, en gegroei en verdiep het.
Indien daar binne die werkruimte van die NHKA nog hulp beskikbaar is, word u vriendelik versoek om vir Elna te kontak: elna@esterhuizenconsulting.co.za.
Kom ons praat…
