Covid-19 het ons lewens verander en omgekeer. Ons kan elkeen baie verhale daaroor vertel en menings daaroor lug. Ook die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) dink in hierdie tyd nuut oor die toerusting van predikante en kerkrade.

Dr André Ungerer, hoof van die HTK, kon bloot gesê het: Jammer, ons is vasgevang in grendeltyd en alles wat daarmee saamgaan. Hy dink egter nuut, en ’n baie aktuele tema sien die lig: Wie het my kansel geskuif?

Die betrokke aanbiedings is die volgende: My welstand tydens Covid-19; die SCARF-breinmodel; my virtuele kansel; Nagmaal aanlyn; die U-teorie van Otto Scharmer; my roeping en spiritualiteit.

Die Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT) en Voortgesette Toerusting vir Kerkrade (VTK) is aanlyn in ses Zoom-byeenkomste oor ses dae / drie weke aangebied. Daar was ’n keuse tussen ’n oggend- of aandsessie. Wat dié jaar se aanbiedings ook interessant gemaak het, was die verskillende aanbieders wat insette gelewer het. Hulle was goed voorbereid en het moeite gedoen met lewendige aanbiedings.

Wat bied die VTT 2020 vir ’n gewone dominee in hierdie uitdagende tyd? Uit die aanbiedings en die gesprekke wat daaruit voortgevloei het, is dit duidelik dat Covid-19 nie ’n stopstraat is nie, maar ’n geleentheid om nuut te dink. Dit is beslis ’n uitdagende tyd waarin ons is. Woorde soos die “nuwe normaal” is nou al deel van ons woordeskat en beslis ook deel van ons handel en wandel.

Ons Kerk en gemeentewees is ook daardeur geraak. Dit was goed om te hoor dat, al was die kerkgeboue se deure vir ’n tydperk toe, die evangelieverkondiging kragtig voortgegaan het. Prof Jaco Beyers het byvoorbeeld gevra: Het dit nou regtig eers ’n krisis nodig gehad om anders kerk te wees? Die andersoortige kerkwees het tot gevolg gehad dat letterlik duisende mense bereik kon word in Suid-Afrika en in die buiteland. Is die Nederduitsch Hervormde Kerk ook geskud deur die Covid-19-virus? Beslis. Het daar opnuut ’n besef van hoop in die Here ontstaan? Beslis. Dit is baie sterk tydens die VTT/VTK gehoor. Dit maak ’n mens in hierdie uitdagende tyd opgewonde oor die Kerk.

Het ons al die antwoorde in so ’n tyd, vir so ’n tyd? Die aanbiedings het duidelik aangetoon dat ons op ’n onbekende pad is en dat ons die verlede nie sommer weer oor sal hê nie. Ons is dankbaar, want God navigeer ons oomblik, sê dr Martin van Rensburg. Ek het uit die aanbiedings beleef dat daar altyd hoop is – altyd hoop in God.

’n Ander kosbare belewenis was dat ’n mens weer ’n keer saam met kollegas oor die hele land die VTT/VTK kon bywoon. Die laaste paar jaar het ons in streke bymekaar gekom, wat ’n goeie ervaring is. Ons streek – die ringe van Klerksdorp, Potchefstroom en Zeerust – kom op ds Hein Kloppers se plaas bymekaar. Dit is meer as net ’n kursus, ons kuier veral lekker saam. Vanjaar het ons die geleentheid gehad om ander kollegas se stemme en menings te hoor, of sommer net oor Zoom saam te wees. Dit was vir my persoonlik ’n voorreg om ’n keer saam met dr Christo van der Merwe of di Gert Macdonald of Kathleen Smith of Charel van den Berg die VTT/VTK te kon bywoon. Dit was ook ’n voorreg dat een van Zeerust se ringskollegas, dr Annelie Botha, genooi is om ’n aanbieding te fasiliteer.

Dit sou ’n groot bonus gewees het as meer kerkraadslede die VTK kon bywoon. Kerkraadslede se teenwoordigheid en menings was vir die Kerk nog altyd van onskatbare waarde. Ek dink byvoorbeeld dat in veral die gesprek rondom die virtuele Nagmaal nog meer kerkraadslede ’n sinvolle bydrae kon gelewer het. Dankie vir die kerkraadslede wat wel bydraes tydens die VTT/VTK gelewer het. Die Kerk is deur die genade van die Here op verskeie gebiede ryk aan leiding.

Wat bied die VTT 2020 vir ’n gewone dominee in hierdie uitdagende tyd? Ons hoop bly altyd in die Here. Kollegas is begenadig om kennis en ervaring met mekaar te deel.

Dank aan dr André Ungerer wat die VTT/VTK vanuit die HTK beplan en met groot sukses uitgevoer het. Slegs my kansel was toe geskuif! Dit is ’n voorreg om deel van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika te wees.

(Ds Gerrie Senekal is leraar in Gemeente Lichtenburg)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap