Verlate strate en die voortdurende geloei van ambulanssirenes was ’n algemene verskynsel in China hierdie tyd verlede jaar. Vir my as buitelander was die situasie vreesaanjaend, aangesien dit gepaard gegaan het met ’n onkunde van die taal en duisende kilometers weg van alles wat bekend en eie is. Stories van inspirasie was daar in oorvloed.
Van die mense in Wuhan, waar die virus oorspronklik uitgebreek het, het hemel en aarde versit om tydelike hospitaalgeriewe te bou. Daar was ook gebare van uiterste behulpsaamheid en omgee van vreemdelinge en kollegas.
Die jaarlikse Lentefees is ’n groot gedoente en ’n vakansie wat baie mense ’n kans gee om na hul tuisdorpe of stede te reis of tyd saam met familie deur te bring. Die regering het stappe geneem om besighede en skole wat na die vakansie sou heropen, gesluit te hou om die verspreiding van die virus te probeer bekamp. Daar was ’n tekort aan maskers en die paniek in die lug was tasbaar. Sekere apteke het maskers te koop gehad op spesifieke dae, so as jy kon toustaan, kon jy drie maskers op ’n slag koop.
Supermarkte en apteke was verplig om hul deure oop te hou en maatreëls was in plek om mense te monitor vir koors of enige ander simptome. ’n Mens kon nie sonder ’n masker ingaan nie, jou temperatuur is gemeet by die ingang, en jy moes ook jou gesondheidskode op jou foon wys, bekend as “jiàn kāng mă”. China gebruik Alipay en/of Wechat om vir alles te betaal, so die kode is gekoppel aan hierdie toepassings (Apps) vir gebruikersvriendelikheid, maar ook om mense se bewegings te monitor. Die kode wys gewoonlik groen, maar kan ook oranje of rooi wys as jy byvoorbeeld na ’n hoërisiko-area gereis het of eerlik genoeg was om te erken dat jy koors het.
Ek was gelukkig om te kon terugkeer Suid-Afrika toe vir ’n wyle, aangesien ek aanlyn kon werk. Ek het net betyds weer teruggekeer China toe voor hotelkwarantyn uitgerol is, waarvoor mense uit hul eie sakke moes betaal. So ek kon gelukkig vir 14 dae in my eie woning isoleer met ’n gesondheidswerker, ten volle uitgevat in haar mediese pakkie en sonder ’n enkele woord Engels, wat elke nou en dan huisbesoek gedoen het om my vir die virus te toets.
Stadig maar seker het dinge weer op dreef begin kom. Die inwoners van Nanjing het gewoond geraak aan die feit dat temperatuur in elke openbare plek gemeet word en dat maskerdra nou ’n gewoonte is en nie meer ’n uitsondering nie. Om afstand van ander te behou, is letterlik onmoontlik in ’n land met ’n bevolking van meer as 1,4 biljoen, maar omdat die regering voorkomende maatreëls so goed uitvoer, is daar minder en minder positiewe gevalle.
Hierdie jaar se Lentefees het gepaard-gegaan met groot publisiteit om mense af te raai om te reis, insluitend besighede wat allerhande voordele vir werknemers aangebied het as hulle daarteen besluit het. Die feit dat kwarantyn verpligtend was, selfs met tussenprovinsiale reise, het baie buitelanders oortuig om eerder met Jan Tuisbly se karretjie te ry.
’n Boer maak ’n plan? Die Chinese is nie ver agter nie! Virusvoorkoming en -bekamping is tans ’n goed geoliede masjien. Asems word nou opgehou en vingers bly gekruis met ’n blik op die toekoms, soos die meeste nasies, vir algehele virusuitwissing.
*** Maureen is al vier jaar in China. Sy is gegradueerd hier, maar gee onderrig aan Chinese kinders om hulle Engels te leer en word vir waarvoor sy nie opgelei is nie, veel beter vergoed as wat sy hier kon kry!
(Maureen van Wyk is die dogter van dr Barry van Wyk)
