Waar ek hier by my lessenaar sit en skryf, het twee weke, twee preke en wat voel na 200 (maar wat waarskynlik nader aan 20 is) persoonlike gesprekke verloop sedert ’n pastoor die finale produk van ’n matriekeindeksamenkunsprojek gesien, namens God aanstoot geneem, die kuns afgeneem en sonder konteks, agtergrond of toestemming die wêreld ingestuur het.

Ten spyte daarvan dat die skoolhoof en ’n diensdoende teoloog hom gevra het om net tot ná die prysuitdeling te wag voordat hulle met hom praat.

Ten spyte daarvan dat die kunsuitstalling deur afskortings omring was en daar ’n uitdruklike waarskuwing was dat die kuns bedoel is om te ontstel en daarom nie geskik is vir kinders of sensitiewe mense nie.

Ten spyte daarvan dat die einste kennisgewing ook versoek het dat daar geen foto’s of video’s van die werke geneem word nie.

Ten spyte daarvan dat die duidelik deurdagte motivering vir elke liewe kunswerk in die uitstalling reg langs elke ooreenstemmende kunswerk in die uitstalling gestaan het.

Niks hiervan word in die video genoem nie en die motivering vir die kunswerke verskyn ook nie in die video nie.

Die vrae wat die man in die video vra is nie deurdagte kritiese vrae nie.

Dis vrae wat reeds ’n waardeoordeel gevel het.

Die laaste vraag wat hy vra, is wat hierdie kunswerke ons kinders leer.

Die ironie is dat nie een enkele kind die uitstalling gesien het voor die video nie.

Ná die video is daar nie ’n kind in die land wat dit nie gesien het nie.

Ek kreun hardop toe ek die video van begin tot einde kyk, want ek kan net dink wat die Christene op sosiale media hiervan gaan maak.

En hulle stel nie teleur nie.

Afgryse, aanstoot, ontsteltenis, verdoemenis!

Op sosiale media is die Christene wat in hoofletters en met uitroeptekens vir Jesus opstaan, liefdeloos teenoor ’n tiener wat nodige vlymskerp sosiale kommentaar op die Kerk van vandag lewer. Kerk met ’n hoofletter.

Die kuns vervang die Jesus-figuur in bekende kunswerke met Ronald McDonald – die ikoon van ons huidige verbruikerskultuur.

Vir mý vra die werke waaroor die Kerk meer besorg is:

Oor Jesus en die evangelie

of

oor ons eie voortbestaan in hierdie verbruikerskultuur?

Op sosiale media is die Christene wat in hoofletters en met uitroeptekens vir Jesus opstaan, verdoemend teenoor ’n tiener wat die hart en siel van sy eie reis van gelowig na ongelowig in sy kuns uitbeeld.

Daar is ’n beeldwerk waarin die kunstenaar die vorm van sy eie kop gebruik het en Bybelbladsye gebruik het om sere en swere en bokhorings uit te beeld. (Dis tog interessant dat wanneer daar bokhorings teen die mure van ons huise hang, dit van ’n sekere lewenstandaard getuig, maar wanneer dit in kuns voorkom, dit skielik van die duiwel is.

Hoe minder die Bybelbladsye word, hoe gesonder word die mensekop.

Ek kan regtig hiermee identifiseer.

Hoe meer ek afskeid neem van ’n verstaan van en omgang met die Bybel wat lewe steel, hoe vryer en gesonder kan ek in hierdie wêreld, saam met God en voor God bestaan.

Op sosiale media is die Christene wat in hoofletters en met uitroeptekens vir Jesus opstaan, onchristelik in hul reaksie op die video.

Daar is nog ’n beeldende werk waar die kunstenaar flardes Bybelbladsye gebruik het om pille en kapsules mee te maak.

Dit vra vir ons hoe ons die Bybel gebruik, hoe ons ons godsdiens gebruik. Gebruik ons dit soos medisyne wat ’n mens oor die toonbank kan koop? Soos ’n chemiese kuur vir die menslike kondisie?

Wie word deur ons geloof gehelp? Wie baat by ons godsdiens?

Gebruik ons die Bybel en geloof soos een van die honderde verskillende soorte vitamienaanvullings op Dischem se rakke wat net vir ’n klein persentasie van die samelewing beskore is? Is die bevryding wat geloof in Jesus bring net vir dié wat dit kan bekostig?

Of kan geloof wat uit die Bybel groei werklike bevryding bring, soos antiretrovirale middels?

Mense wat namens God aanstoot neem asof God nie vir Godself kan besluit nie, rig met liefdeloosheid meer skade aan as wat enige bedoelde belediging vir die Christelike geloof ooit kan doen.

Dit beteken nie dat ons nie mag kwaad word en nie aanstoot mag neem nie. Kwaad en aanstoot kan katalisators vir beweging en verandering wees. Maar dan moet ons oor die regte dinge kwaad word.

10% van Suid-Afrikaners leef op R345 of minder per maand.

As jy meer as R1 149 per maand verdien, verdien jy meer as die helfte van die land.

As jy meer as R7 313 per maand verdien, tel jy onder die rykste 10% in die land.

As jy meer as R15 000 per maand verdien, tel jy onder die rykste 3% in die land.

Die skreiende ongelykheid in ons land is iets waaroor Christene kwaad kan word. Dis iets waaroor ons petisies kan teken en optogte kan hou en as vrywilligers by NRO’s kan hand bysit en ja, in hoofletters en met uitroeptekens op sosiale media te velde kan trek.

Verbeel jou die verskil wat die Christene in die land kan maak as ons oor die regte dinge kwaad word.

Prentjie gekry by:

https://www.sadecor.co.za/interior-design-blog/decor-accessories-and-homeware/beautiful-horns-embody-the-spirit-of-africa/

Share via
Copy link
Powered by Social Snap