Dit is moontlik nie algemene kennis nie, maar ’n dialek van Afrikaans is, aldus ’n paar bronne, reeds so vroeg as in 1595 gepraat. Nederlandse seevaarders, wat dekades voor Jan van Riebeeck se vestiging van ’n verversingspos aan die Kaap dikwels daar aangedoen het om vars proviand vir hul handelsreise te bekom, het dikwels met die plaaslike bevolking kontak gehad. Hierdie kontak het daartoe gelei dat die inheemse groepe moeite gedoen het om ’n eie weergawe van Nederlands, moontlik ’n vroeë weergawe van Afrikaans, aan te leer. Dit het uiteraard die handelstransaksies tussen die twee groepe vergemaklik.

Afrikaans het eeue later, trouens eers op 8 Mei 1925, amptelike status as landstaal verkry. Afrikaans is op twee na die jongste taal wat tans wêreldwyd erkenning geniet. Slegs Faroëes, wat in 1948 amptelike status verkry het, en Luxemburgs, wat in 1984 amptelike status verkry het, het ná Afrikaans formele erkenning verkry. Tans is daar byna sewe miljoen mense wat Afrikaans praat – dus ’n beduidende persentasie van ons bevolking.

Die liefde vir Afrikaans en die stryd om amptelike erkenning vir die taal te verkry, word duidelik sigbaar in die passie van die vroeë en latere gebruikers daarvan. Dit is trouens die enigste taal ter wêreld wat met monumente vereer word. Hiervan is die Taalmonument in die Paarl, wat in 1975 geopen is, seker die bekendste.

Wat nog meer merkwaardig is, is die feit dat daar binne agt jaar nadat Afrikaans amptelike erkenning as landstaal verkry het, ’n Bybel in Afrikaans verskyn het – dus vanjaar 90 jaar gelede. Die strewe na ’n Bybel in eie taal het vir die Afrikaanssprekendes in die laat 1800’s egter reeds sterk geleef. Presies hoe belangrik ’n Bybel in eie taal is, word geïllustreer deur die bekende staaltjie van ’n Rus wat aanvanklik met ’n Engelse Bybel moes klaarkom en later ’n Russiese Bybel in die hande gekry het. Nadat hy vir die eerste keer uit sy Russiese Bybel kon lees, het hy opgemerk: Die Engelse Bybel het met my verstand gepraat; die Russiese Bybel praat met my hart.

Dit bly natuurlik ’n onuitspreeklike voorreg om die Woord van God in jou eie taal ter hand te neem en om in eie taal ’n ontmoeting met Hom te kan hê. Hierdie voorreg wat Afrikaanssprekendes reeds vir 90 jaar geniet, dring ons tot dankbaarheid. Die jaar 2023 bied aan ons die geleentheid om ons dankbaarheid sigbaar te maak.

Twee datums is van belang en kan in 2023 herdenk word. Die eerste datum is die aankoms van die eerste besending Afrikaanse Bybels uit Londen. ’n Vragskip met die naam Carnarvon Castle het op 29 Mei 1933 Tafelbaai se hawe binnegevaar, en is met groot opgewondenheid deur kerkleiers, politici en belanghebbendes verwelkom. Net vir interessantheid, Carnarvon Castle, wat die eerste besending van 10 000 Afrikaanse Bybels vervoer het, is in September 1939, tydens die Tweede Wêreldoorlog, ook gebruik as kruiser. Die skip is met wapens toegerus en het vanaf Simonstad die Atlantiese Oseaan ingevaar om die vloot van die geallieerde magte te steun.

Die tweede belangrike datum was die ingebruikneming van die eerste Afrikaanse Bybels op 27 Augustus 1933 in Bloemfontein. Al drie die susterskerke was by dié feesdag betrokke. Toevallig val die 90-jarige viering vanjaar weer op ’n Sondag.

Deesdae is daar ’n 1953-vertaling beskikbaar, wat ’n geredigeerde weergawe van die 1933-Bybel was, asook ’n 1983-vertaling en meer onlangs ’n 2020-vertaling. Die Bybel vir almal, toepassings met volledige en gratis Bybels, Luisterbybels en verskeie ander Bybelprodukte het danksy die pogings van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika in onlangse tye die lig gesien. Die gedrukte Bybels is natuurlik ook in verskeie groottes met egte leeromslag, in hardeband of in sagteband beskikbaar.

Die Bybelgenootskap wil graag in 2023 saam met alle Afrikaanse Bybellesers fees vier. Daarom versoek ons gemeentes om op 20 Augustus moeite te doen om ’n fondsinsamelingsaksie van welke aard ook al te loods, hetsy ’n muntlegging, stapgeleentheid, of ’n buitengewone deurkollekte. Kerke word versoek om op 27 Augustus gesamentlike (buitengewone) feesdienste te hou. Verskillende kerke of gemeentes kan hande vat om so ’n dankdiens of feesdiens aan te lê en om op luisterryke wyse, hetsy met sang of ander aktiwiteite, hierdie belangrike gebeure te herdenk. In die aanloop tot 27 Augustus se vierings kan daar natuurlik ook projekte geloods word om ons dankbaarheid jeens die feit dat ons die Woord van God in eie taal beskikbaar het, te gedenk.

Ons dank die Here van die kerk dat ons sy Woord in eie taal beskikbaar het. Hierdie Woord is immers: …deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat elke mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak (Die Bybel in Afrikaans, 2020-vertaling).

(Ds David Barnard is leraar in Gemeente Magaliesmoot en NHKA ambassadeur by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika)

Die eindvertalers van die Afrikaanse Bybel wat in 1933 verskyn het. Vlnr: Dr JD du Toit (Totius), prof EE van Rooyen, dr JD Kestell, proff HCM Fourie en BB Keet

’n Roerende brokkie geskiedenis vertel van een van die bekende kerkleiers van daardie tyd, ds CWM du Toit (Totius se halfbroer). Hy het ’n eksemplaar van daardie eerste besending Bybels aan sy suster geskenk. Dié spesifieke Bybel was afkomstig uit die eerste krat wat op die hawe oopgemaak is. Op hierdie foto kan ons die inskrywing sien wat ds Du Toit voor in die Bybel vir sy suster, Lena van der Merwe, gemaak het.

Die Carnarvon Castle

Share via
Copy link
Powered by Social Snap