Philipp Melanchthon: Die denker, leermeester en opvoeder van die Reformasie
(HTS Religion & Society Series, Volume 12)
IWC van Wyk
AOSIS Books, Cape Town 2022

’n Kleurvolle portret van Philipp Melanchthon, geskilder deur die jonger Lucas Cranach, versier die buiteblad van die jongste boek van Natie van Wyk, wat hy aan sy seuns Gert en Naas opdra. Seker maar die einste portret wat Herman Melville in sy erkende groot Amerikaanse verhaal Moby Dick laat opmerk het dat daar min voorkoppe is wat so hoog opgaan en weer so laag afdaal soos dié van William Shakespeare of Melanchthon. ’n Teken van hoogs begaafdheid.

Op 25 Augustus 1518 kom die 21-jarige Philipp Melanchthon, aangewese dosent, te perd aan by die pas gestigte Universiteit van Wittenberg. Aanvanklik is hy daar vir ’n proeftydperk van drie jaar. In sy bagasie is ’n Griekse Grammatika wat hy self opgestel het. Twee jaar tevore het die eerste volledig gedrukte Nuwe Testament in Grieks verskyn. Hy gaan die studente onder andere Grieks leer. Grieks is belangrik, want dit maak deure oop na filosofie, literatuur en godsdiens. Sy drie jaar lange proeftydperk het toe lewenslank geword.

Lesers van Die Hervormer het miskien wel al Melanchthon se naam gehoor, maar van hom self is nog min bekend. Daarom is elke bydrae tot kennismaking met hom welkom, te meer omdat hy in een asem met Shakespeare genoem word. Wat die onderwerp verder aktueel maak, gee die subtitel aan: denker, leermeester en opvoeder van die Reformasie. Die boek is belangrik, sowel oor die figuur wat daarin behandel word as die ryk stof wat in die nege hoofstukke daarvan verwerk is. Ons is die skrywer dank verskuldig vir ’n deeglike studie.

Van Wyk vertel onderhoudend, sekerlik ook omdat hy die ervaring het dat van sy nuutste gedagtes in hierdie ou boeke terug te vind is. Wat hy aanbied, is deeglik gedokumenteer, en daarmee handhaaf hy die humanistiese noukeurigheid in historiese en filologiese navorsing. As humanis het Melanchthon baanbrekerswerk gedoen om die waarde van die oorspronklike bronne van die Europese beskawing te ontgin. Dit het vereis dat die tale Latyn, Grieks en Hebreeus deel van die leerplan moes uitmaak. Eksegese van teologiese tekste kon daarom, danksy die humanistiese gees, nuwe vlakke van wetenskaplikheid bereik (27). En die voordele van goeie opleiding en opvoeding moet ook deursuur en die hele bevolking bereik vir ’n samelewing om te oorleef (52).

Dat dit destyds en vandag makliker gesê as gedaan is, kom eerlik uit wanneer die leermeester van Duitsland beweer dat onderwysers en dosente mense is wat erge onreg ly, aangesien hulle met die luiheid van leerders gekonfronteer word (66). Melanchthon stel hom die hiernamaals voor as ’n hemelse universiteit waar hy sonder die belemmering van vyandelikhede sy onderrigtaak en navorsing kan voortsit, ook oor hoe die twee nature van Christus, goddelik en menslik, inmekaarpas (76; 88). Vir tyd en wyl is dit genoegsaam om die hooftemas van die Skrif te ken, naamlik die gewig van die sonde, die wet en die genade:

Dit is op grond van [hierdie temas] dat Christus werklik geken word. Dit kom dus daarop neer dat om Christus te ken, beteken om sy weldade te ken; [die implikasie hiervan is dat die volgende leer nie geldig is nie], en dit is die [blote] leer [of inligting] oor Christus se nature, en die aard en wyse van sy menswording. Wanneer daar nie ook gestel word tot watse nut Christus die menslike vlees aangeneem het, of aan die kruis geslaan is nie, wat is die nut om hierdie verhale te ken? (99).

Melanchthon kon nie vrede maak met die destydse Roomse aanbod waarin Jesus tot ’n voorbeeld van ’n sedelike lewe verlaag is nie. Behalwe dat die Skrif Jesus nie so wetties voorhou nie, sal dit ook dom wees om geloof deur etiek te wil aanbeveel aangesien die Christelike moraal nie noodwendig ander beïndruk nie (25).

In 1520 het Melanchthon vir sy studente aan die Universiteit van Wittenberg die brief van Paulus aan die Romeine uitgelê, en hy gebruik die materiaal om ’n jaar later die eerste Reformatoriese dogmatiek loci communes oftewel “Grondbegrippe van die Christelike Leer” uit te gee. Daarin volg hy die draad van die Romeinebrief en behandel hy in volgorde die sonde en die wet, die verlossing en die genade, en dan die lewe van die gelowige. ’n Opbou wat ouer lesers uit hul katkisasie sal onthou: die mens se sonde en ellende, sy verlossing en sy dankbaarheid.

Melanchthon onderskei tussen ’n wêreldlike geregtigheid en die geregtigheid van die geloof. ’n Beskaafde gemeenskap berus op ’n uiterlike geregtigheid, terwyl die Bybelse geregtigheid berus op die geloof in die barmhartigheid van God in Jesus Christus. Die universele belofte van die geregtigheid van die evangelie word vir alle mense aangebied, en die uitverkorenes is ook dié wat die boodskap hoor en glo.

Volgens Melanchthon bou Christus self sy ryk, en dit is van geestelike aard. Die tweede tafel van die wet bied weer op sy beurt ’n vae riglyn vir die samelewing van mense, maar dit moet met die Romeinse reg aangevul word en verder deur die kuns en Christelike gebede en etiek ondersteun word. Christene het die roeping om die reg en onderliggende billikheid te bevorder (149). Melanchthon deel gebed in twee hoofdele: aanroeping en danksegging. God word gedank vir seëninge, hulp en bystand, en dit sluit ook lofprysing as erkenning in. God word aangeroep deur Hom plegtig om iets te vra. Die moraliteit van die samelewing word deur gebed gehandhaaf (160).

Melanchthon het hom sterk uitgelaat teen die Charismatiese Beweging. Hulle ignoreer enige teologiese tradisie. Hul boodskap vind aanklank by mense wat die wetenskap minag. Hul groter gehore vuur hulle aan tot meer luidrugtigheid en handgebare, en sodoende word die vlak van die redelike aanbod verlaag. Hul optrede skakel teologies opgeleide predikante uit en lei tot vernietiging van die kerk (131).

In ooreenstemming met die Christelike tradisie het Melanchthon die beoefening van filosofie, waaronder hy alle wetenskappe ingedeel het, gehandhaaf. Die wetenskappe staan in diens van die menslike samelewing en moet met sorg bejeën word. Die kerk kan net daarby baat dat predikante oop sal wees om deur die humanistiese benadering tot filosofie gevorm te word tot geleerde en ontwikkelde mense. Studie, navorsing en ywerige ondersoek is die diensplig wat die teoloog verrig (202).

(Dr Piet Boshoff is ’n emerituspredikant van die NHKA)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap