Die Kinderhuise van die NHKA is gedurende 1922 deur die NHKA in die lewe geroep, om kinders in nood te versorg. Ons is dus reeds meer as 100 jaar lank aktief besig met die versorging van minderbevoorregte kinders. (Sien ook die middelblad van hierdie uitgawe.)
Gedurende 1997 het die Kinderhuise omgeskakel vanaf twee sentrale kinderhuise na ’n gedesentraliseerde pleegsorgsisteem om kindersorg af te wentel na gemeentes en lidmate. Daar is tans ses DPS-huise in twee provinsies: een elk in Montana en Ninapark in Pretoria; Potchefstroom; Elsburg; Krugersdorp; en Rustenburg.
Die DPS-sisteem is op ’n gewone gesin gebaseer. Elke huis het ’n huisvader en huismoeder wat na die kinders omsien. Die wonings is in gewone woonbuurte en word nie gemerk as “kinderhuise” nie. Dit gee ons kinders die geleentheid om so normaal moontlik in die gemeenskap te funksioneer sonder om geëtiketteer te word as wetsbestede kinders. Gesinne skakel ook in by hul plaaslike Hervormde gemeente. Die meeste kinders wat geplaas word, is ongelukkig kerklos, dus word hulle so bekend gestel aan die evangelie en ons gemeenskap as Christene.
Elke DPS-huis het ’n toesigkomitee wat bestaan uit predikante en diakens wat na die gesin se fisiese versorging omsien en die finansies van die huis bestuur. Vrywilligers of gemeente-afgevaardigdes word aangemoedig om by die komitee aan te sluit. Elke DPS-huis het ook ’n evaluasiekomitee wat multiprofessioneel saamgestel word uit predikante, maatskaplike werkers en vakkundiges en wat die kinders se welstand en behandelingsprogramme hanteer.
Met die hulp van ’n multidissiplinêre span wat bestaan uit senior maatskaplike werkers, predikante, opvoedkundige sielkundiges en onderwysers kan ’n holistiese benadering gevolg word om elke kind te lei van gebrokenheid na heelheid.
Binne die eerste ses maande nadat ’n kind aan ons sorg toevertrou word, word die kind volledig geassesseer, ’n persoonlikheidsprofielontleding word gedoen met die hulp van Tall Trees, en ’n Individuele Ontwikkelingsplan (IOP) word vir die betrokke kind saamgestel. Die IOP fokus op die spesifieke kind se sterkpunte en groeiareas. Spesifieke traumatiese gebeurtenisse word ook in die plan ingewerk om die kind te help om die trauma te hanteer en te verwerk. Die kind, die pleegouers, lede van die multiprofessionele span en ook in sommige gevalle die biologiese ouers van die kind vorm deel van die kind se pad na herstel.
Pleegouers ontvang die nodige leiding om die kind met sy of haar spesiale behoeftes en uitdagings te hanteer. Elke plan word saamgestel om die kind se emosionele, spirituele, skolastiese en kulturele behoeftes in ag te neem, met die einddoel om ’n gesonde jong volwassene die samelewing in te stuur. Die pleegouers word streng gekeur en volg ’n ses weke lange oriënteringsprogram waarin hulle opgelei word om erg getraumatiseerde kinders te hanteer. Aspekte soos die impak van trauma op die kind se breinontwikkeling, dissipline, emosionele regulering, ontspanningstegnieke en die belangrikheid van selfsorg om uitbranding te voorkom, word behandel.
Die maatskaplike werkers bied jaarliks opleidingskampe aan waar ons nuwe vaardighede vir sowel die pleegouers as die kinders leer. Dit behels onder andere opleiding in traumahantering, emosionele regulering, praktiese versorging en veel meer.
Spesiale aandag word geskenk aan ons skoolverlaters om hulle gereed te kry vir die grootmenslewe. Aspekte wat hanteer word, sluit in die opstel van ’n begroting, waarna om te kyk wanneer jy ’n kontrak teken, ’n bestuurslisensie, die opstel van ’n CV, en hoe om jouself voor te berei vir en op te tree tydens ’n werkonderhoud.
Selfs na die kinders uit die huis is, word ondersteuningsdienste aan hulle gelewer (mits dit hul behoefte is). Hulle word begelei om selfstandig te raak. Baie van ons kinders kom, nadat hulle die huis verlaat het, terug om te help as vrywilligers en mentors vir die kinders wat nog in die huis is.
Die nood is ontsettend groot en word by die dag erger. Die lewenskoste van basiese noodsaaklikhede soos kos, water, elektrisiteit en brandstof raak ook by die dag duurder. Vrywillige bydraes, klein of groot, maak ’n daadwerklike verskil aan ons kinders se welstand.
(Mnr Otto Viljoen is bestuurder: DPS-sisteem.
Kontak hom by kinderhuise@nhk.co.za / 060 968 4907)