’n Kollega vertel dat toe hy in ’n nuwe gemeente begin, daar in die eerste jaar wat hy in die gemeente was drie meisies was wat swanger geword het terwyl hulle nog op skool was. Hy vertel dit was naderhand so opvallend dat hy gevoel het hy moet dalk soos die predikante van ouds sedepreke van die kansel af lewer. Maar hy het nie. Hoekom nie? Was dit dalk ’n te sensitiewe onderwerp? Of was dit dalk net omdat ons nie gemaklik is om oor seks te praat in die kerk nie?
Onlangs berig die Gautengse Departement van Gesondheid in ’n verslag dat sedert die begin van Covid die getal tienerswangerskappe met 60% gestyg het. (Sien bronverwysing aan einde van die teks.) Dit is egter waar dat hierdie tienermoeders waarskynlik nie lidmate is van die Hervormde Kerk nie, maar eerder uit die swart gemeenskap kom. Dit bly egter onheilspellend as daaraan gedink word dat die mediaanouderdom waarteen kinders seksueel aktief raak, 15 is vir seuns en 16 vir dogters. Binne hierdie datastel sal daar wel kinders wees wat in ons gemeentes is of vriende van ons gemeentekinders is.
Die kerk (ons Kerk, maar ook kerke in die algemeen) vermy dit egter om met ons gemeentekinders te praat oor seks en seksualiteit. In ons totale kategeseopleiding word ’n gedeelte van een les daaraan bestee in die finale jaar. Dit lyk of die kerk tevrede daarmee is dat skole die grootste las van geslagsopvoeding sal dra. Die krisis daarmee is egter dat die skole geslagsopvoeding op ’n a-godsdienstige manier benader, met die klem daarop dat as jy onvermydelik seksueel aktief gaan wees, jy net die kennis moet besit om dit veilig te kan doen. Die kerk mis die kans om seks en seksualiteit binne ’n Christelike raamwerk te plaas.
Hierdie raamwerk staan op twee bene:
Die eerste been is dat seks en seksualiteit ’n gawe van God is. Wanneer God aan die mens sê Wees vrugbaar en word baie (Gen 1: 28) en ook aan Noag en sy seuns Vermeerder op die aarde en word baie (Gen 9: 7), impliseer dit dat God se seën sal rus op die geslagsgemeenskap wat nodig is vir hulle om baie te word. Daarom moet enige geslagsopvoeding wat gebeur altyd vanuit hierdie positiewe verstaan van seks gebeur. Dat dit nie iets skandelik is of ’n onderwerp wat vermy moet word nie.
Die tweede been is die verstaan dat die gawe van ons seksualiteit deur die sonde verwring is en daarom aan bande gelê moet word. Die wonderlike gawe van God het iets geword wat tot geweldige skade en hartseer kan lei. Dit het al ’n cliché geword om te sê dat geld, seks en mag die drie sterkste motiverende kragte vir die mens is, en ook die drie goed is wat die meeste misbruik en verafgod word.
Dit is juis om hierdie rede dat ons seksualiteit aan bande gelê word. Op verskeie plekke in die Bybel (veral in die boek Levitikus) word dit gestel dat die enigste plek waar ons seksualiteit uitgeleef kan word, binne die huwelik is. Daarom dat verhale soos dié van Dawid en Batseba aan ons voorgehou word om as morele lesse te dien.
Die band waarmee hierdie skadelike seksualiteit ingeperk word, is die huwelik. Onmiddellik kan daar gestel word dat die antieke huwelik waarvan die Bybel praat, ’n ongelooflik ongelyke en onderdrukkende instelling was. Tog geld dieselfde beginsel wat Johannes Calvyn toepas in sy interpretasie van 1 Petrus 2: 13-14, dat selfs ’n goddelose regering deur God daargestel word om die wettelose en sondige elemente van die samelewing in toom te hou. So ook is selfs ’n gebrekkige instelling soos die antieke huwelik beter as dat mense toegelaat word om losbandig te leef net soos hulle wil, met kinders wat ouerloos en onversorg grootword. So kan ’n samelewing nie funksioneer nie.
Genadiglik het die huwelik as instelling tot so ’n mate verander dat die growwe ongeregtigheid waardeur die antieke huwelik gekenmerk is, nie sommer in ons moderne huwelike voorkom nie. Ons moderne huwelik is soveel te meer die ideale rem op ons seksualiteit, sodat dit nie die oorhand sou kry in ons lewens en skade aanrig nie.
Solank enige geslagopvoeding plaasvind met hierdie positiewe verstaan van seksualiteit, wat nogtans getemper word met die wete dat dit (soos alles) deel is van ’n sondige wêreld en daarom aan bande gelê moet word, is dit moontlik om konstruktiewe gesprekke daaroor met ons gemeentekinders te hê. Dit is egter nie iets wat gelos kan word tot ons kinders 17 jaar oud is nie. Teen daardie tyd was 40% van seuns en 30% van meisies reeds seksueel aktief. Verder het die regering deur middel van ons skole dan lankal reeds begin met geslagsopvoeding. Dit alles gebeur dan sonder ’n raamwerk vanuit ons Christelike geloof om ons kinders te help om as gelowiges oor die saak na te dink.
Daarom die pleidooi dat die kerk die geslagsopvoeding van ons gemeentekinders ernstig sal begin opneem. Want as ons hulle nie gaan leer nie, sal die wêreld beslis.
[RICHTER, L; MABASO, M; RAMJITH, J and NORRIS, SA. Early sexual debut: voluntary or coerced? Evidence from longitudinal data in South Africa – the Birth to Twenty Plus study. SAMJ, S. Afr. med. j. [online]. 2015, vol.105, n.4 [cited 2021-09-13], pp.304-307. Available from: <http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0256-95742015000300029&lng=en&nrm=iso>. ISSN 2078-5135. http://dx.doi.org/10.7196/SAMJ.8925 .]
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
