Daar was nog altyd onder ons verskille, en soms ook ernstige geskille, oor hoe die 1938-gelofte op jaarlikse Geloftedagvieringe onthou en gevier behoort te word.

Dat dit steeds ons erns is, is goed.

Interpretasie van historiese dokumente en -gebeure

Die Gelofte soos ons dit het, is ’n dokument waaroor van die teks redelike sekerheid bestaan, en wat in ons bekende omstandighede ontstaan het. Die Gelofte is deur die jare met afwisselende toewyding gedenk.

Die teks en diskoers daarrondom het ’n eie lewe aangeneem, en in die gebruik en herdenking daarvan, het die interpretasie en toepassings van die teks na gelang van omstandighede geskuif. Die vraag is hoe die Gelofte hier en in die hede geïnterpreteer kan/moet word, en of en hoe dit steeds relevant is.

Teks

Die oorgelewerde teks van die Gelofte het enkele variante. Maar dit blyk uit hulle almal dat diegene wat die Gelofte met God sluit, God vra vir oorwinning oor ’n vyand. Hulle verbind hulle tot twee optredes na afloop van so ’n moontlike oorwinning.

Hulle sal vir die Here ’n huis bou. Dis duidelik dat hiermee ’n kerkgebou bedoel is, want so ’n kerkie is later in Pietermaritzburg opgerig. (Die Israelvisie praat deesdae al hoe meer van ’n “huis” in metaforiese sin, wat dan moet dui op ’n kerngroep van “ware Afrikaners”.)

Hulle sal die dag elke jaar soos ’n sabbat vier. (Dog, die vieringe op die dag was altyd meer as net erediens met Woordbediening. Dit het gewoonlik ook ’n feesrede ingesluit. Dikwels was die feesredes onverbloemde politieke ideologie, en die prediking was soms bypassend.)

Die nadraai van die Gelofte was ʼn militêre oorwinning wat beleef is as ’n Godswonder: God het ingegryp en uitkoms gegee.

In ooreenstemming met die Gelofteteks is die beloofde kerk opgerig. Net so is talle ander kerkgeboue ook opgerig, almal van hulle tot eer van dieselfde Drie-enige God wat by Bloedrivier aanbid en om hulp gevra is. Uiteindelik het ook die altaarvormige Voortrekkermonument verrys. Daar, en in talle van die kerke, word 16 Desember steeds met eredienste en viering herdenk.

Historiese agtergrond

Nie almal in die laer was met ’n gelofte van watter aard ook al gelukkig nie. Die weerstand was nie weens ongeloof nie, ook nie oor die bewoording van die teks nie, maar juis weens kommer dat dit dalk beter is om nie so aan God beloftes te maak nie, want op mense kan nie vertrou word om geloftes na te kom nie. Die gewigtigheid van ’n gelofte het swaar op harte gedruk. Uiteindelik is daar wel besluit om met die Geloftesluiting voort te gaan, maar dis nie te sê dat almal in die laer daarmee heelhartig eens was nie. Die nood was groot genoeg om eendrag en instemming te bewerk.

Ten gunste van die gelofte of nie, die algemene oortuiging in die laer was dat dit ’n geloofsaak is.

Die verwagte veldslag het vir die Geloftesluiters gelowig geregverdigd gevoel, gegewe die historiese aanloop tot 16 Desember 1838. Die twee beloftes waartoe die laer hulself verbind het, is albei van hul uitinge van geloof: kerk en sabbatsviering.

Gevolgtrekking

Die Geloftesluiting was ’n geloofsaak.

Wat is geglo? Dat God regverdig oordeel oor onreg? Beslis. Dat mense van God afhanklik is? Ongetwyfeld. Dat met God wonders moontlik is? Ja! Dat God uit genade red? Dit en vele meer. Die beste viering van die Gelofte met die jaarlikse herdenking daarvan, is ’n geloofsfees in die vorm van ’n erediens aan God waarin hierdie en ander moontlike temas ondersoek word.

Uiteraard kan dit ongelowiges van die vieringe vervreem. Daaroor ’n bietjie later meer. Synde ’n geloofsaak, kan en mag die vieringe egter nie losgemaak word van eerbetoon en diens aan God nie.

Daarteenoor is die herdenking van die ingrype van God, Vader, Seun en Gees, ook ’n uitnodiging aan alle gelowiges om op die dag te besin oor God se deelname aan en betrokkenheid by mense hier ter plaatse. Dit nooi mense uit om hulle by wat vir God reg is, te skaar.

Dis goed dat viering van die dag, soos met sabbatte en Sondae ook nog die geval is, steeds met ’n openbare vakansiedag moontlik is.

Met dié dat nie eens almal in die laer gediend was met hierdie of enige gelofte nie, kan aanvaar word dat ander Trekkers, wat nie by Bloedrivier teenwoordig was nie, dalk ook afkeurend op ’n gelofte of hierdie Gelofte sou reageer, op goeie geloofsgrond. Geloftes is gevaarlik, weens mense se volslae en sondige onvermoë om geloftes in stand te hou. Dit het die laer ook versigtig gemaak.

Hierdie Gelofte maak nie beloftes aan God om daarmee God se guns te wen en God te oortuig dat dit in God se belang sal wees om die belofte te aanvaar nie. Hiervoor bestaan geen grond in die Hervormde of Gereformeerde teologie nie. Laasgenoemde was heel waarskynlik die geloofstradisie wat die beste in die laer verteenwoordig was, hoewel die Trekkers nie homogeen Hervormd of Gereformeerd was nie.

Maar selfs by gelowiges wat verkies om liefs nie die Gelofte te herdenk of te vier nie, mag nie by voorbaat ongeloof of onverskillige ondankbaarheid jeens God as vanselfsprekend veronderstel word nie. Talle gelowige mense sou op goeie geloofsgrond kon wegskram van sulke geloftesluitinge, en dis dalk ook wyser. Dis goed dat berig word dat daar in die laer al sulke verskille was.

Vereenselwiging met die Gelofte en die jaarlikse viering daarvan, is ’n keuse waartoe God mense uitnooi, ook diegene wat nie by Bloedrivier was nie (daar was geen La Granges nie), gesien in die lig van God se genadebetoning aan gelowiges hier op eie bodem. Genade word altyd met uitnodiging aangebied, en nooit uit dwang verplig nie, en word deur die werking van die Heilige Gees eers herken vir die Godgegewe genade wat dit wesenlik is. Diegene wat onder die indruk van God se oorweldigende genade gekom het, en hulle aan die Gelofte gebonde voel, vier dit om genade en redding wat van God af kom te onthou en aan God daarvoor dank te betuig. Alles is genade.

Hierdie Gelofte se beloftes het nie van God die oorwinning op die slagveld “gekoop” nie, en ons nimmereindigende verbintenis daartoe is nie ’n langtermyn skuldafbetaling nie. Geen mensgemaakte gelofte oortuig God hoe om op te tree nie. God handel altyd in ooreenstemming met die genadeverbond wat in Jesus Christus met alle mense gesluit is.

Die laer is getrek met die verwagting dat ’n slag sou plaasvind: Dit is ’n dreigende oorlogsituasie, Bloedrivier is ’n slagveld. Daar is daarom vanselfsprekend ook politiek betrokke.

Aanvanklik het daar min gekom van die jaarlikse viering van 16 Desember soos ’n sabbat. ’n Uitsonderlike groot fees vind egter plaas by Paardekraal, die jaar voor die Eerste Vryheidsoorlog (Eerste Engelse Oorlog), toe die volk byeengeroep is om voornemens te formuleer oor Britse aggressie en anneksasie van die ZA Republiek. Toe is besef dat die dag ’n gawe geleentheid bied vir volksgesprek en eendrag. Hoewel die geloofsaard van die Geloftefeesvieringe behoue gebly het, het die dag daarnaas toe ook, in ’n nuwe oorlogsituasie, ’n politieke kleur bygekry, al lyk die vyand nou anders. By geleentheid het politiek by vieringe van die dag ook die oorhand gekry, sodat selfs in die prediking van die dag se erediens, gewetenloos verklaar kon word dat God polities geskaar staan aan die feesgangers se kant.

Geloftedag het daarmee ook nasionalisme aangeblaas, maar, helaas, ook veel meer. Die Gelofte, indien gesien as diepste oorsaak van die Godgegewe oorwinning, kon maklik misbruik word as bewysplaas van amperse uitverkorenheid. Nasionalisme sou op Goddelike beskikking kon reken, en oorheersing kon maklik herlei word tot en geregverdig word deur die Bloedriviergebeure: ’n Godgegewe oorwinning waarvan die geseënde gevolge vir ewig voortduur.

Dit is ’n tragiese anomalie dat die Gelofte tot onlangs toe nog juis so verstaan en gevier is, want in 1902 reeds, en toe weer in 1994, het hierdie Gelofte in duie moes stort, die gewaande oorwinning, die onbetwiste soewereiniteit en die oorhand wat dit gegee het, finaal verby.

Geloftefeesvieringe sal altyd ook politieke implikasies hê. Dit hou onlosmaaklik ook met oorlog verband. Dit sou welmenende gelowiges van viering van die dag kon weerhou, ongeag hul politieke affiliasie. Veel meer sou dit ook ongelowiges van die viering kon vervreem, wat ’n vraagteken laat ontstaan oor die openbare vakansiedag waarmee dit gevier word. Is ’n doodgewone Sondag die naaste daaraan, soos met Hemelvaart, Bartolomeusnag en Hervormingsondag, nie meer gepas nie?

Alle politiek is magstryd, en bepaal die spelreëls waarmee wet en orde afgedwing word, en behoort ook eerlike pogings tot gedeelde vryheid en vreedsame samelewings wat op reg en geregtigheid gebou is, in te sluit. Oorlog is die aftakeling en uiteindelike vernietiging van sulke bestaande ordes. Oorlog is die uiterste van verset en ’n allerlaaste uitweg: Soek immers liewer vrede en jaag dit na. Maar as oorlog dan moet, gee oorwinning aan oorwinnaars die geleentheid tot magsgebruik en gesagsuitoefening. Dit was eens feesgangers se voorreg.

Maar alle gesag kom van God af, ook dié van na 1994, ongeag daarvan of ons dit as heidens sou bestempel. Onreg is steeds deur die staat strafbaar. Orde is enige gesagsliggaam se Godgegewe opdrag. Blote assosiasie met oorlog kan ’n staat dus laat skepties staan jeens die viering van ’n slagveldoorwinning, veral in wat nou (dog anachronisties) getipeer sou kon word as ’n burgeroorlog. ’n Konstitusionele eenheidstaat sou verstaanbaar onrus ervaar oor ’n gewagmakery met oorlog van een groep teen ’n ander. Vandaar die staat van na 1994 se weersin teen ’n “Dingaansdag”, en ongemak selfs jeens ’n “Geloftedag”.

Hoef ons daaroor sensitief te wees? Is insluiting van enigiemand anders as net gelowiges hoegenaamd gewens? Is die idee om van die dag iets soos ’n Amerikaanse Thanksgiving te maak waaraan almal (so ver ek weet) geesdriftig deelneem? Kan die gelofte in die huidige tydsgewrig nog hoegenaamd tot sy reg kom?

Ek is daarvan vas oortuig. Hoe?

Keer terug na die bedoeling wat die laer by Bloedrivier daarmee gehad het: Gegewe dreigende vernietiging, neem nou en altyd toevlug tot God. Sluit eerlike verootmoediging voor God daarby in, want sonde is daar altyd om te bely. Reken net op God se genade, en nie op die voornemens of die vermoëns om God vir genade te vergoed nie. Dit kan nie. Doen jy dit, is dit nie meer genade waarin jy glo nie. Dink by voorbaat aan die lof en dank wat God verwag, Gelofte of nie.

Oorwinning na die Gelofte van Bloedrivier is nie ’n verbondsluiting vergelykbaar met of plaasvervangend van dié van God met Israel nie. Daardie verbond geld wel vir alle mense, daarom natuurlik ook vir mense wat by Bloedrivier geveg het sonder dat nog ’n gelofte eens nodig was. En die Christusverbond geld onverswak ook vir almal wat hulle met die Bloedriviergelofte vereenselwig, as hulle in die God glo wat ook by Bloedrivier aanbid is. Maar daardie verbond geld vir ons deur Jesus Christus, die Woord van God wat mens geword het, in die Nuwe Testament neergepen, en nie deur die teks van ’n Gelofte nie, hoe kosbaar ook al, geskryf deur Sarel Cilliers en kie. Ons verbond met God staan of val nie by of Trekkers of impi’s by Bloedrivier wen nie, maar of Jesus Christus leef.

Die Gelofte van Bloedrivier was gemik op die Slag van Bloedrivier. Daar eindig dit ook. Dit verseker nie aan daardie dag se oorwinnaar op die slagveld ewige oorheersing of soewereiniteit nie, nie oor Zoeloes nie, en ook oor niemand anders nie. As dit die Gelofte se bedoeling was, het dit in 1902 al die eerste keer gesneuwel, en in 1994 weer.

Die Gelofte hou wel die tasbare werklikheid voor aan wie ook al glo God red ook ons, en God red ook hier by ons, uit sonde, maar ook uit erge benouing. Nie die Gelofte of die oorwinning by Bloedrivier belowe die herrysing van die Afrikaner tot maghebber nie. Of selfs die ewige bestaan van ’n Afrikanervolk of die oprigting van ’n aparte volkstaat in Afrika net vir Afrikaners nie. Die Gelofte sê God luister na bang mense.

Na oorloë en konflik moet noodgedwonge weer versoen word. Dit kos Jesus Christus sy lewe om sondaars, verraaiers en loënaars, met God te versoen. Nie een van ons is Jesus Christus nie. En Golgota is nie in KZN nie. Ook hier by ons kom vir mense versoening met God, op geen ander manier nie as deur Christus se verlossingswerk.

Mense wat met God versoen is, word Christus-gelykvormig, hulle word self al hoe minder belangrik, en Christus al hoe meer in hul doen en late. Sulke mense word barmhartig, soos hul God barmhartig is. God is liefde en jy kan dit aan hulle, sy kinders, sien afvryf. Sulke mense kry selfs hul vyande lief. En daarvan kom ’n soeke na vrede en selfs ’n versoening van ’n aard, van mense met mekaar onderling, al is dit nie veel meer as net verdraagsaamheid nie.

Verdraagsaamheid is al ’n goeie begin. Dis God wat agter alle versoening sit, want al is mense meer as oorwinnaars in die sondestryd, dis God se Heilige Gees wat denke vernuwe en lewens heilig en sy vrede gee, wat van ons nuwe mense maak.

Die sekulêre staat is nie met godsdienste gemaklik nie, want godsdienste roem op verskillende waarhede en elkeen dring aan op voorkeur. Dit is nie die godsdienste self nie, maar die uitwasse daarvan, waaruit sekulêres nog voordeel put: die liefde, of genade dan, en die genadeliefde se potensiaal om mense wedersyds verdraagsaam te maak en selfs te versoen. Daarin kan selfs ongelowiges deel, en waardevol saam met ons aan vieringe van die dag deelneem.

Of doen ons gelowiges nie meer die soort versoening wat vrede tussen mense aanbring nie? Versoen ons net met God? Watter nut het dit dan dat ons glo as ons werke niks daarvan sê nie? Dat ons God liefhet en mekaar haat? Ek ken Jesus anders. Jesus staan met sy lewe vir sy vyande in, en sê dan: Dis vir julle! Dan word sy moordenaars sy kerk.

Waarom dan is die “versoening” in “Versoeningsdag” ’n vloekwoord? Omdat dit ons dring om van verydelde ideale, bitterheid, wraak en oorlog af te sien? Ek het nogal gedink dis juis waarmee gelowiges goed is: vergifnis en versoening. Dalk, as ons wat glo, met ander kon versoen – ook met hulle wat vir God nie ken of verstaan nie en van nature aanhou haat, nes ons ook maar – sou mense wat nog nie glo nie, miskien vir Christus in ons agterkom en oor Hom vir God loof en vir ons groter agting kry? Hoef ons van Geloftedag ’n “Versoeningsdag” te maak met mooi tablo’s wat saamwees in die keel afdruk? Nee. Ons hoef net na God op te kyk.

Ten spyte van die plek wat “versoening” en “vredemaak” in die konteks van Geloftedagvieringe het, moet Geloftedagvieringe op veel meer as net horisontale versoening fokus. Dit sou gepas wees dat die volgende fasette tot hul reg kom:

  • Belydenis van opstandingsgeloof.
  • Belewenis van veerkragtigheid wat God in opstanding vergestalt.
  • Dankbaarheid aan God.
  • Afhanklikheid van God se genade en uitredding.
  • Vergifnis van die vyand.
  • Viering van nuutgeskape te wees deur Jesus Christus en die Heilige Gees.
  • Eerbetoon en diens aan God.
  • Verootmoediging voor God.
  • Volgehoue sorg vir die kerk.
  • Hoop wat van God af kom.

Trouens, die ganse spektrum van geloofsartikels is ter sake.

Jy kan weer vra hoekom het God ons dan laat wen? Wat impliseer die oorwinning vir ons identiteit? Was ons so goed, dat ons dit verdien het? Ek dink van nee. Of was dit dalk om goed te gaan wees? Tot seën te wees dalk, vir ander? Was ons bedoel om vir ewig te heers oor ander? Kennelik toe nou nie. Was dit om ons soewerein te maak, en ons op dié manier eenkant af te sonder waar ons en net ons op ons eie vir God ’n volk kan wees? Nie eens Israel kon op dié posisie voor God aanspraak maak nie; hul geïntegreerde gemeenskappe selfs binne-in die Beloofde Land en orals anders, maak saambestaan, tot seën wees vir ander en voorbeeldlewens voor ander ’n groter waarskynlikheid.

Of sou God ons wou sus en in die versoeking inlei om te glo daar is vir ons ook hier plek, dat ons ons toe houtgerus hier tuisgemaak het net om te leer die wereld is ons woning nie?

Of het God ons tog geroep om aan donker Afrika lig (Lig!) te kom gee? Want intussen het God ons weer laat verloor, in oorlog en in demokrasie. Of het God gewen? Ons kan besluit om weer laer te trek en ons opnuut te verset en oorlog te beplan. Ons het, om eerlik te wees, oorgenoeg rede. Net die een ding, dink ek, keer nog: Geloof.

  • Geloof in God wat liefhet.
  • Geloof in God wat red.
  • Geloof in God wat luister na gebed.
  • Geloof in God wat sonde vergewe en die dood se angel uittrek.
  • Geloof in God wat mense herskep.
  • Geloof in God in en agter alle versoening, van mense met Godself, en mense met mekaar.
  • Geloof in God wat vrede gee en vrede maak.
  • Geloof in God wat die lotgevalle van volkere en nasies bestier.
  • Geloof in God wie se wil geskied.
  • Geloof in God wie se wil ons doen.
  • Geloof in God van wie ons vir alles afhanklik is.
  • Geloof in God wat mense gebruik om sy koninkryk te laat blyk.
  • Geloof in God. Net geloof, sonder aandrang op bevoorregting, eie voordeel of voorkeurseën.
  • Geloof in God. Met niks anders op die agenda nie as net lof en dank aan God.
  • Geloof in God wat die reg liefhet en geen onreg duld nie, daarom dat Jesus Christus ook aan ons gegun is.
  • Geloof in God wat met ons hande en voete onreg regmaak.
  • Geloof in God wat met mense barmhartig is, en vir sy vyande pleit.
  • Geloof in God, in alle moontlike uitinge van geloof in God…

Gegewe die oorsprong van die viering – die oorwinning van ’n oorlog teen ’n ander volk wat tans binne dieselfde landsgrense woon – het dié wat dit vier ’n verantwoordelikheid om minstens die eenheidstaat wat Suid-Afrika tans is, in ag te neem. Dit sluit die veiligheid van feesgangers nie net by die fees in nie, maar ook in die handel en wandel. Dit sluit ook noodwendig in dat diegene wat hulle met die Gelofte vereenselwig, die versekering aan ander sou moes gee dat Gelofteviering vir hulle wat nog daar ver is, geen bedreiging inhou nie.

Daar is steeds so baie om op Geloftedag te vier. Doen dit!

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

hendriklagrange@gmail.com

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap