Die begeerte om die Bybel in ’n volk se eie moedertaal te lees, ken ’n lang voorgeskiedenis. Vir baie was dit ’n ideaal, terwyl dit by ander ’n sterk ywer geword het.
William Tyndale
In die vroeë 1500’s het William Tyndale teenoor ’n vriend van hom die wens uitgespreek dat elke mens in Engeland oor ’n Bybel moet kan beskik. Tot in daardie stadium is dit nog as onwettig beskou dat gewone mense oor hul eie Bybels in Engels kon beskik. Bybels was slegs in Latyn gedruk en slegs vir hoogs opgeleide mense beskore. Die gemeenskap was ook daarmee tevrede dat dit die pous se voorreg is om die Bybel in Latyn te lees en aan mense uit te lê.
William Tyndale het die ideaal gehad om die Bybel in sy moedertaal aan almal beskikbaar te maak. Hy is vir sy poging aan kettery skuldig bevind en op 6 Oktober 1536 dood verwurg omdat hy die Bybel in Engels vertaal het. Sy liggaam is daarna op die brandstapel verbrand.
Tyndale se bekende stelling was dat dit sy begeerte was om die Bybel só beskikbaar te maak dat selfs die seun agter die ploegskaar die Bybel beter as baie ander kon verstaan. Tyndale het gesê: I defy the Pope and all his laws, if God spare my life, I will make a boy that driveth the plough, know more of the Scripture than thou dost.
Afrikaanse ywer
Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling het in 1933 verskyn. Tot met die verskyning van die 2020 Afrikaanse vertaling het 87 jaar verloop.
Vóór die verskyning van die 1933-vertaling het mense nog van die ou Hollandse Statevertaling gebruik gemaak om Bybel te lees. Die eerste geluide om ’n eie Afrikaanse Bybel te kon hê, het in 1878 van Arnoldus Pannevis en die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gekom. In daardie stadium het die Afrikaanse kerke in die gereformeerde tradisie nog letterlik in hul kinderskoene gestaan. Die medewerking van hierdie kerke is eers vanaf die einde van 1919 verkry. Eers daarna het Afrikaans ook ’n kanseltaal geword. In 1925 het Afrikaans Nederlands ook as amptelike taal in Suid-Afrika vervang.
Sekere uitdrukkings in die ou Hollandse Statevertaling het vasgesteek in die gebruiks- en godsdienstige taal van Afrikaners, soos: brood van smarte; Dawid en Jonathan; kwelling des geestes; bitter kelk ledig; goedertierenheid; en insettinge. Dan is daar ook sekere idiomatiese uitdrukkings wat deel van Afrikaans geword het, soos: steen des aanstoots; in die duister tas; berge versit; ’n boom word aan sy vrugte geken; ’n doring in die vlees; en vreemdeling in Jerusalem.
Die verskyning van die 1933-vertaling het ’n groot invloed op die ontwikkeling en groei van Afrikaans as spreek- en skryftaal gehad. Vir die eerste keer het Afrikaanssprekendes ’n standaardriglyn vir die spelling van woorde gehad. Ná die verskyning van die eerste Afrikaanse Bybel het Afrikaans as taal geweldig gegroei.
SJ du Toit
Die eerste proefvertalings wat gemaak is, het nie dadelik byval gevind nie. Mense was nog baie onseker oor die reëls en verstaan van dié jong taal. Ds SJ du Toit se vertaling van Psalm 23: 4 het in 1911 soos volg gelui:
Al gaan ek deur di kloof van doodskadewe, ek frees geen kwaad nie; want U is met my: uw knopkiri en wandelstok fertroos my.
Hierdie vertaling is nooit gepubliseer nie. Die beswaar daarteen was veral die verwysing na die idee dat die Here ’n knopkierie gehad het. Onder Afrikaanssprekendes het die verwysing na ’n knopkierie nog ’n bitter assosiasie gehad. Afrikaanssprekendes het destyds nie daardie woord in hul Bybel gesoek nie, want hulle het die knopkierie met ’n moordwapen uit die Voortrekkeroorloë geassosieer.
Hierdie poging van ds SJ du Toit het sóveel weerstand ontvang dat dié vertaling nie verder gevorder het nie. Ds Du Toit is in dieselfde jaar, 1911, ook oorlede.
’n Tweede kwessie was dat taalkundiges ook nog nie duidelikheid gehad het wanneer die “f” of “v” in woorde gebruik moes word nie.
Ds SJ du Toit
Totius
In 1922 het die volgende voorgestelde vertaling van Psalm 23: 1-2 gevolg. Hierdie vertaling het ook nie byval gevind nie. Die probleem het veral by die volgorde van die sinsnedes gelê. Mense het gevoel dat die Here se woorde vir hulle lomp geklink het. Dié vertaling het só geklink:
Die Here is my Herder; my sal niks ontbreek nie. Hy laat my neerlê in grasryke weivelde, Hy lei my saggies aan seer stille waters.
In 1933 word die eerste Afrikaanse Bybelvertaling amptelik tydens ’n plegtigheid in Bloemfontein in gebruik geneem. By dié geleentheid dra ds JD (Totius) du Toit sy eie vertaling van Psalm 23: 1-3 soos volg voor:
Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen; Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Die 1983 Afrikaanse vertaling is bekend as ’n dinamies-ekwivalente vertaling. In die proses is baie van die uitdrukkings ook só vertaal dat die betekenis daarvan verduidelik is eerder as om die woord letterlik te noem. Dit was dus bedoel om as ’n moderne spreektaal-Afrikaans te dien. In hierdie vertaling lui Psalm 23: 1-3 soos volg:
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my in groen weivelde rus. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
Biografie
Ds SJ du Toit was die 13de en jongste kind uit die ouerhuis van David Petrus du Toit en Helena Elizabeth du Plessis.
Ds SJ du Toit was ’n stigterslid van die GRA. Verder was hy redakteur van De Patriot, Ons Kleyntje en Ons Taal. Hy was ook die Superintendent-Generaal van Onderwys in ZAR.
Ds JD (Totius) du Toit was die tweede van vier kinders van ds SJ du Toit en sy eerste vrou, Elizabeth Jacoba Joubert. Ds SJ het verder nog drie kinders by sy tweede vrou, Anna Francina Malan, gehad.
Totius is getroud met Maria Postma en saam het hulle ses kinders gehad. Maria Postma was die dogter van ds Dirk Postma van Burgersdorp en sy vyfde vrou, Johanna Willemina van Biljon.
Totius was ’n predikant in die Gereformeerde Kerk en hoogleraar, dekaan en rektor van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk. Verder was hy ook vertaler van die 1933 Afrikaanse Bybel en berymer van die Psalms in Afrikaans (1936).
Ek het die voorreg gehad om drie van ds SJ du Toit en Totius se nasate te kon ken.
Nicoline Johanna Singleton (née Du Toit, * 11/03/1949 † 22/07/2019), ’n kleindogter van Totius en agterkleindogter van ds SJ du Toit, het ek in Warmbad begrawe. Sy het drie kinders gehad. Met een dogter, Wilma van Niewenhuyzen, het ek steeds kontak. Nicoline was uitermate trots op haar stamgeskiedenis.
Magdel (Pienaar) Marais (née Van der Merwe) is ’n agterkleindogter van ds SJ du Toit se sewende kind. Ons het saam aan die Universiteit van Pretoria Grieks, Hebreeus en Bybelkunde deurloop voordat sy haar nagraadse studies aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gaan voortsit het. Ons het steeds kontak met mekaar.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)