Tydens die 72ste Algemene Kerkvergadering in 2019 is besluit dat die Kerk by die volgende AKV die kwessie van bystandsdood onder bespreking moet neem.
’n Bespreking van hierdie onderwerp kan maklik deur emosionele ervarings oorheers word. Dié risiko is méér geldig wanneer bystandsdood en genadedood nie duidelik van mekaar onderskei word nie, of wanneer die twee kwessies as sinoniem verstaan word.
Begripsbeskrywing
Sowel bystandsdood as genadedood het betrekking op hulpverlening tydens iemand se sterwensproses, of minstens die oorweging daarvan. Die lyn tussen die twee kwessies is soms dun, maar die realiteit daarvan staan baie ver van mekaar af.
Baie mense het al deur die pynlike wroeging gegaan om magteloos toe te kyk hoe die naderende dood ’n geliefde dierbare aftakel en hoe daardie persoon deur sy ervaring worstel. In die laaste ure van iemand se lewe kán die oorweging ontstaan om ondersteunende masjiene af te skakel, of medikasie te staak ten einde die intree van die dood te versnel.
Wetgewing maak dit nie moontlik dat so ’n proses na willekeur toegepas kan word nie; dit kan slegs onder bepaalde onomkeerbare omstandighede plaasvind. In die meerderheid van sulke gevalle is die pasiënt reeds in ’n ver gevorderde vegetatiewe toestand en toon die persoon reeds geen tekens van ’n breinfunksie nie. Onder sulke omstandighede sal die hulpverlening om dood te gaan as die toediening van genadedood verstaan word en is die proses eties aanvaarbaar.
Dit mag klink asof hierdie proses ’n vorm van bystand is wat aan iemand verleen word om dood te gaan, maar dit is nie dieselfde as wat met bystandsdood bedoel word nie. Bystandsdood het meer betrekking op iemand se willekeurige besluit om hulp te verkry om ’n einde aan sy of haar lewe te maak.
Die omstandighede vir so ’n besluit kan verskil. Die rede kan geïnspireer wees deur depressie, ’n verlies van lus vir die lewe, of moontlik ’n siektetoestand.
In Nederland, België, Switserland en die Amerikaanse deelstaat Oregon is dit wettig om iemand te help wat uit eie keuse ’n einde aan sy of haar lewe wil maak. In Suid-Afrika is bystandsdood onwettig. Sedert 1977 is verskeie pogings al van stapel gestuur om bystandsdood onder streng toesig en voorwaardes in Suid-Afrika gewettig te kry, maar nie een van hierdie idees het al verder gevorder as konsepvoorstelle nie.
In die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis bestaan daar ook ’n geïsoleerde insident waar ’n persoon ’n man in ’n brandende motor doodgeskiet het nadat niks gedoen kon word om hom uit die voertuigwrak te red nie. In die uitkoms van die regsaak wat daaruit gevolg het, is die persoon wel onder bepaalde versagtende omstandighede van moord vrygespreek.
Die vraag is egter: Waar begin en eindig die etiese verantwoordelikheid om tot so ’n drastiese stap oor te gaan deur iemand by te staan en/of te help om dood te gaan?
Die geval van Saul
In die Bybel word nie eksplisiet na enige geval van bystandsdood verwys waar iemand ’n ander gehelp het om dood te gaan nie. Die naaste daaraan is die geval van Saul wat sy wapendraer versoek het om hom te help om ’n einde aan sy lewe te maak.
Tydens ’n slag op die berg van Gilboa het die Filistyne die Israeliete ’n vernederende nederlaag toegedien waarin aldrie Saul se seuns en talle van sy manskappe gesneuwel het. Die Filistyne se boogskutters het Saul vasgekeer en in ’n poging om nie aan die hand van die vyand te sterf nie, het Saul sy wapendraer gevra: Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en deurboor my (1 Sam 31: 4, AFR1933/53).
Die wapendraer het die versoek van sy koning geweier, wat tot gevolg gehad het dat Saul desperaat op sy eie swaard geval het om sy lewe te beëindig.
Aan die uitspeel van die verhaal is dit duidelik dat die wapendraer om etiese redes geweier het om aan Saul se versoek te voldoen. Meer nog, onder doodsgevaar en in ’n oomblik van doodsbenoudheid het hy volstrek geweier om die gebiedende opdrag van sy koning uit te voer.
Die saak word verder gedryf deur ’n Amalekiet wat by Dawid daarop aanspraak gemaak het dat hý Saul bygestaan het en hom op die koning se versoek doodgemaak het (2 Sam 1: 9-10). Die uiteinde was dat Dawid die man laat teregstel het omdat hy die gesalfde van die Here “doodgemaak” het (2 Sam 1: 15-16).
Lewe as ’n seën
Die lewe is ’n gawe van God. Hy is die fontein van lewe (Ps 36: 10). Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand 17: 28). Die neem van ’n ander se lewe word pertinent in die Bybel veroordeel (Eks. 20:13; 1 Joh. 3:12). Volgens die Bybelskrywers is dit God se wil dat gelowiges die lewe as ’n gawe van Hom moet respekteer.
Die geval van Saul se wapendraer, sowel as Dawid se optrede teenoor die Amalekiet, bevestig dat die neem van ’n lewe en/of bystandshulp om iemand se lewe te beeïndig, volgens die Bybelskrywer verkeerd is.
Die bedoeling is nie dat ’n sterwende persoon se sterwenslyding uitgerek moet word met lewensondersteunende middele nie. Menslikheid, liefde en genade moet steeds met groot verantwoordelikheid betoon word. Dit sou byvoorbeeld verkeerd wees om ’n pasiënt, wat reeds geen breinreaksie toon nie, se lewe te probeer rek ter wille daarvan om meer geld uit sy mediese fonds te probeer kry.
Om genade te betoon aan ’n sterwende persoon is ’n verantwoordelike manier om met die gawe van lewe wat God ons gegee het, om te gaan. Die saak verander egter wanneer mense god speel oor ander se lewe, selfs al sou die persoon willekeurig versoek om bygestaan te word om te sterf.
Die kwessie van die etiese aanvaarbaarheid daarvan raak nóg moeiliker wanneer jy toestem om bystand te verleen aan iemand wat wil sterf omdat hy of sy ’n lus vir die lewe verloor het, aan bipolêre gemoedsversteuring ly, óf ’n bepaalde siektetoestand ontwikkel het, sonder om van beskikbare wetenskaplike hulp gebruik te maak.
Dood as genade
Die dood, net soos die lewe, is ’n realiteit. Die dood is egter ook ’n traumatiese en emosionele saak wat nie ligtelik geag mag word nie. Die pyn, angs en verlies wat die dood bring, lei tot onmeetbare hartseer. In sommige gevalle selfs tot verskillende vorme van vernietiging.
In die Ou Testament is die dood verstaan as ’n straf en realiteit wat ’n permanente skeiding tussen God en mens meebring. Die dood verwyder die mens permanent uit die aangesig van die Here van die aarde af. In hierdie opsig is die dood geïnterpreteer as ’n straf of vloek wat ná die sondeval die lot van die mens geword het (Gen 3: 19).
Die Nuwe Testament het deur geloof in die opstanding van Christus aan gelowiges ’n nuwe interpretasie van die dood gegee. Die dood word nie meer gevrees as die volslae einde van ’n mens se bestaan nie, maar word in ’n sekere sin eerder gesien as ’n vorm van geboorte tot die ewige lewe.
Bystandsdood, as ’n vrye keuse van selfdood, kan nooit reg wees nie. Solank as wat God se soewereiniteit as die Gewer van lewe erken word, sal dit verkeerd bly wanneer mense sonder enige verantwoordelike besinning lewe neem. Hierdie insig is belangrik, omdat ’n saak soos aborsie vir dekades lank reeds onder bepaalde mediese en regsredes toegelaat word. Indien ’n ongebore fetus as lewe erken word, het aborsie dus reeds ’n instrument vir bystandsdood geword.
Wanneer die dood toegelaat word om in te tree, kan dit as ’n vorm van genade kom. Deur die dood kunsmatig te vertraag en lyding uit te rek, raak weer ’n onetiese saak aan.
Lewe moet nooit voortydig beëindig word nie, maar behandeling moet ook nie buitengewoon ver gaan om die lewe te behou nie. Om die dood aktief te verhaas, is verkeerd. Om passief behandeling te weerhou, kan ook verkeerd wees. Deur die dood natuurlik by ’n terminale siek persoon toe te laat, is nie noodwendig verkeerd nie, maar om aan willekeurige selfdood goedkeuring te gee, kan nooit reg wees nie.
Respek vir die lewe en die eer van God moet te alle tye erkenning kry.
(Ds Neels van Tonder is leraar in Gemeente Warmbad)
