Wat maak ’n geskenk ’n goeie geskenk? Is dit die hoeveelheid geld wat ons daaraan spandeer? Of gaan dit oor die winkel waar ons die geskenk gekoop het?
In die tyd waarin ons leef, vergeet baie mense dat Kersfees eintlik die tyd is wanneer ons Jesus se geboorte vier. In plaas daarvan, word die tyd bestee aan ’n oordadige gekoop van presente en die bywoon van die een Kerspartytjie na die ander.
As sodanig, is daar niks verkeerd met die gee van geskenke en om lekker saam te kuier nie. Maar dit gaan daaroor dat ons moet onthou om, wanneer ons gee, te bly gee soos Jesus gegee het.
Die fokus van ons Kersfeesvieringe behoort te wees op Jesus en sy koms na die wêreld. Met Jesus se koms na die wêreld het Hy vir ons verlossing gebring en die voorreg van ’n tweede kans om weer in die regte verhouding met God te staan. So, ons het natuurlik baie rede om opgewonde en bly te wees, en lus om fees te vier.
Kom ons doen ’n toets. Wat het jy verlede jaar gekry vir Kersfees? Die kans is skraal dat die meeste van ons sal onthou, tensy dit iets groot was.
So hoe kan ons dan gee sodat ons geskenke iets blywend agterlaat? Ons leer by God self. God gee Homself. Toe die engel aan Maria bekendmaak dat sy ’n Kind in die wêreld sou bring en dat sy Naam Immanuel sou wees – wat beteken God met ons – het God sy grootste geskenk aan ons gegee: die geskenk van Homself, die geskenk van sy teenwoordigheid.
Ons onthou dalk nie die presente wat ons verlede jaar gekry het nie, maar ons onthou saam met wie ons Kersfees deurgebring het. Dis ons saamwees met ander wat tel, ons daarwees vir en saam met mekaar.
So, kom ons dink ’n bietjie hoe ons meer van onssself kan gee hierdie Kersfees. ’n Gewilde present is daardie besonderse enkelkoppie-koffiemakers wat met die broukapsules werk. Dink jy as jy vir iemand ’n boksie met 24 broukapsules sou gee, sal hulle dit volgende jaar onthou? Miskien. Maar wat van as die boksie ook ’n nota daarby gehad het wat sê dat daardie kapsules net gebruik mag word die eerste Saterdag van elke maand wanneer jy en die persoon saamkom en ’n bietjie kuier?
Dink jy hulle sal die geskenk volgende jaar onthou? Ek dink so. Dis die geskenk van jouself. Dit sê: Jy is belangrik in my lewe.
Of wat van as jy vir jou seun ’n bal koop of vir jou dogter ’n pop, maar daarmee saam ses koeponne wat hulle kan gebruik enige tyd wanneer jy by die huis is om saam met hulle te speel? Jou kinders sal dalk nie die bal of die pop onthou nie, maar ek kan jou waarborg dat die impak van jou tyd ’n geskenk sal wees wat ’n effek sal hê op hulle, vir die res van hul lewens.
Kom ons gee dus soos Jesus ons leer gee het. Kom ons gee die geskenk van onsself soos Hy Homself vir ons gegee het.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
Visetesourier: NHSV Hoofbestuur