’n Paar weke gelede woon ek ’n teoloog van Stellenbosch se aanlyn verjaardagvieringe by – natuurlik ’n simptoom van ons tyd, dié aanlyn feesvieringe! Die geleentheid is ter ere van sy 60ste verjaardag en soos in die akademie die gebruik is, vind daar rondom hierdie verjaardag ’n huldiging plaas. Op merkwaardige wyse is op sy teologie en menswees gereflekteer deur te verwys na die manier waarop hy altyd sy e-pos of geskrewe kommunikasie afgesluit het:

in verbondenheid,
Nico

Nadat die refleksie op prof Nico Koopman se werk plaasgevind het, lewer ’n aantal ander kollegas huldeblyke en in een daarvan verwys ’n kollega spesifiek na hoe prof Nico se groet met ander mense s’n vergelyk kan word. Sy (die kollega) het my aan die dink gesit daar voor my rekenaar. Is ons oplettend of nadenkend genoeg oor die manier waarop ons mekaar groet, wat hallo én goodbye insluit (soos die Beatles gesing het). Hoe groet ons in ’n e-pos of SMS of WhatsApp? Hoe groet ons mekaar in die algemeen? Is dit dikwels met ’n teenstrydige, haastige Hello, I must be going?

Een van die heel eerste e-posse wat ek in my werkkonteks ontvang het, is afgesluit met Groete! Die uitroepteken was vir my opvallend en ek het gedink: Sjoe! Dit is baie vriendelik en hartlik. Die uitroepteken het iets van ’n opregtheid uitgestraal, het ek gedink, of ’n blydskap om met my te kommunikeer. Vir ’n rukkie het ek dit ook gebruik, totdat iemand in daardie werkkonteks eendag te kenne gegee het dat my e-postaal nie respekvol genoeg is nie. Nou ja. Vir ’n lang ruk gebruik ek toe eerder die meer formele Vriendelike groete, of Groete sonder ’n uitroepteken, in die algemeen, vir almal, totdat ek die gebruik van Groete! vir myself na ’n paar jaar reclaim het.

Soos die tyd aanstap, skryf ek al hoe meer in Engels – e-pos, WhatsApp, SMS. Die formele Yours sincerely voel nie gepas vir ’n e-pos of SMS-kommunikasie nie – so my default-groet word toe Kind regards. Algaande begin ek ook nou en dan om Best regards te gebruik. Ek kom dit na ’n ruk agter en wonder of dit nie te generies is nie. In haar huldeblyk bevestig my kollega my aanvoeling: Sy gebruik dikwels Best regards omdat sy nie daaroor hoef te dink nie en dit outomaties kan skryf, veral wanneer sy ’n groot klomp e-posse moet beantwoord. Dit is ’n manier om korrek en vriendelik te wees, maar onpersoonlik en onbetrokke ten opsigte van die ontvanger te bly. En ek besef dit is presies hoekom ek mettertyd ’n onderskeid begin maak het tussen kind en best.

En dan kom ons by die regards. Bedoel ons dit? Bedoel ek dit? Regard(s) verwys immers na “agting”, “besorgdheid” en miskien selfs ’n tikkie meelewendheid vir die situasie, of respek vir die persoon met wie jy kommunikeer. My een Duitse kollega gebruik net Best – (so met die aandagstreep) in al sy Engelse korrespondensie. Elke keer as ek dit lees (ons korrespondeer baie), wonder ek wat op dees aarde dit beteken. Miskien laat hy dit aan my oor om die ontbrekende woord in te vul en is dit daarom inklusief. Maar meestal laat dit my kopkrap. My Nederlandse kollegas gebruik weer dikwels Met hartelijke groeten / vriendelijke groet en ’n Afrikaanse kollega van Stellenbosch skryf altyd met waardering / with appreciation. Na ’n ruk begin ek dit ook hier en daar gebruik en vind toenemend dat my vingers so oor die sleutelbord huiwer vir ’n oomblik omdat ek daardie groet wil reserveer vir wanneer ek regtig iets met waardering vir iemand skryf, of baie waardering het vir iets wat iemand gedoen het.

Ek is ook ’n groot Trekkie (Star Trek), en daarom het ek baie waardering vir die manier waarop die karakter Spock mense groet: Live long and prosper met sy hand in die kenmerkende V-vorm. ’n Jarelange vriend wat saam met my gestudeer het, groet my dikwels so per WhatsApp omdat hy weet wat dit vir my beteken. Daar is natuurlik heelwat wisselvorme van “groete” wat mense gebruik. So lees ons dat “Grootseun” (synde Barend Vos) die briewe wat hy vir sy ma en pa skryf oor sy plattelandse gemeente en pastorie met liefdegroete afsluit, en dat Kleinjan Kluitgraaf (in die woorde van Johan van Pletzen) sy briewe aan Liewe Ma met groetnis afsluit.

So, inderdaad, word ’n kort woord of twee swaar aan die betekenis of afwesigheid wat dit oordra. Ek het dikwels gehoor hoe sê iemand goed en met jou voordat jy nog gevra het hoe dit gaan. Dit skep die indruk van haastigheid en afwesigheid. In ons nuwe lewe, midde-in ’n pandemie, waar ons Zoom of Microsoft Teams of Google Meets of Skype of wat ook al gebruik om te kommunikeer, gebruik ons soms nie eens woorde nie. Ons gebruik emoji’s, dikwels in die vorm van ’n hand wat wuif of klap as ons groet. Tydens die min kere dat ons mekaar in lewende lywe kan sien, gebruik ons elmboë om te groet. In hierdie situasie waarin Covid-sterftes al hoe nader aan ons binnekringe kom, en waarin baie van ons dalk onwetend mense vir die laaste maal groet, het ons groetwoorde miskien lewensbelangrik geword. Daarom kan ons miskien ’n oomblik stilstaan om na te dink en te oorweeg wat dit presies is wat ons wil kommunikeer en die manier waarop ons dit doen.

In ons haastige kultuur neem ons dikwels nie die tyd om na te dink oor die betekenis wat ons met ons woorde wil oordra nie (hello, hello… I don’t know why you say goodbye, I say hallo). Trouens, ons kort deesdae ons woorde af deur die vokale (klinkers) meestal uit te laat. Eeue lank het mense egter baie tyd geneem om na te dink oor wat hulle met woorde, op skrif, wil oordra – omdat retoriek, literatuur, digkuns, en natuurlik teologiese en mistieke geskrifte, dikwels ’n teks agter die teks wou oordra. Metaforiese taal en literêre tegnieke was nodig om jou boodskap oorgedra te kry in ’n genre wat mense sou verstaan en mee kon identifiseer. Taal was die spreekwoordelike televisie, die skerm, die beeld waarmee iets geïllustreer is. En die manier waarop jy iemand gegroet het, was weldeurdag (baie bewustelik).

In hierdie opsig is die apostel Paulus se groet aan die begin en einde van sy briewe aan gemeentes opmerklik en betekenisvol: Genade en vrede vir julle, van God ons Vader en die Here Jesus Christus, of Die genade van die Here Jesus Christus sal met julle wees. Ons lees dit onder andere in Romeine 1:7; 1 Korintiërs 1:3; 1 Korintiërs 16:23; 2 Korintiërs 1:2; 2 Korintiërs 13:13; Galasiërs 1:3; Galasiërs 6:18; Filippense 1:2; Filippense 4:23. Die patroon herhaal telkens aan die begin en einde van Paulus se briewe en kan ook gesien word in 1 Tessalonisense. Die tradisionele Griekse groet van sy tyd was charein wat net “hallo of groete” (Greetings!) beteken het. (Ons dekaan skryf byvoorbeeld altyd Greetings! Hy is die enigste mens wat ek ken wat dit doen.)

In Paulus se hande word die charein-groet charis (genade) en hy voeg ’n tradisionele Joodse groet, shalom (vrede), ook by. Dit was ’n groet met ’n kragtige betekenis – charis en shalom (genade en vrede). En die groet was ook ’n belydenis op verskeie vlakke.

Eerstens, was dit die vroeë Christene se belydenis van die verskillende maniere waarop God werk, naamlik God as Skepper, Verlosser en Trooster, omdat die groet juis so verwoord is dat die genade en vrede van God die Vader (die Ouer) én van Jesus afkomstig is. Later is “en deur die werk van die Heilige Gees” en “van die Heilige Gees” ook deur ander bygevoeg. Dit was ook ’n belydenis van die insluitende en omarmende en breë genade van God wat op wonderbaarlike wyse – nie op grond van wat ons doen nie, maar ten spyte van wat ons doen – vryelik aan ons geskenk word. Dit was laastens ook ’n belydenis oor ’n spesifieke tipe vrede – en nie die tipe wat ons soms as bloot “instemming” of “ooreenstemming” verstaan nie. Die Hebreeuse shalom het verwys na om met God versoen te wees en om God se vrede in jou hart te hê. Toe Paulus “vrede” in die groet ingesluit het, het hy verwys na innerlike vrede, ’n gewaarwording van heelheid en genesing.

In hierdie tyd is dit iets waarna elkeen van ons smag. Dit is iets wat ons vir mekaar hoop: genade en vrede. Genade om met ons dagtaak te kan voortgaan en om onsself aan die lewe te kan hou. Genade dat ons naasbestaandes van Covid kan herstel. Genade, dat wanneer dit uiteindelik ons beurt is, ons anderkant sal uitkom. En vrede: vrede vir wanneer ons uitmekaar geskeur word van onsekerheid, vrees en rou, wanneer ons saam met die klippe wil uitroep of ons klere skeur of in stilte na mekaar staar omdat ons woorde opgeraak het. Dit is dan wanneer ek reikhalsend smag na wat Jesus volgens die Evangelie van Johannes vir die dissipels sê: Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie… (Joh 14:27). Dit sê Ek vir julle, sodat julle kan vrede vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Joh 16:33). O hemel, hoe smag ek nie na daardie vrede nie!

Covid het op ’n manier ’n aaklige siklus van “hallo” en “tot siens” meegebring. Die siklus het ’n bepaalde awareness by ons teweeggebring. Nadenke oor ons prioriteite. Oor ons gesondheid. Oor ons planeet. Oor ons nietigheid en weerloosheid. En juis daarom is dit gepas dat ons vir ’n oomblik stilstaan en nadink oor die manier waarop ons met mekaar kommunikeer en mekaar groet – sodat ook ons met mekaar “in verbondenheid” kan wees en só kan groet. Dit is dalk die laaste keer dat ons dit kan doen.

 

(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap