Lees Filippense 2: 5-11
Die Griekse woord vir aanbidding is proskuneō. Dit word vertaal as “om in nederigheid te kniel, om jouself in nederigheid te verlaag, om aan iemand anders oor te gee, om eerbied te betoon”.
Toe Jesus Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en niks te word (vgl Fil 2: 5-11), het Hy gedoen wat enigiemand doen wanneer hulle iets of iemand aanbid.
Jesus het Homself verneder.
Hy het ’n dienaar vir die mensdom geword.
Hy het ons geëer en Homself vir ons oorgegee.
Hy het na ons gekyk en ons liefgehad.
Hy het sy lewe ten volle aan ons oorgegee.
Hy het sy lewe en sy veiligheid in die hande van sy aardse ouers geplaas.
Jesus het ons mag oor Hom gegee, selfs tot die punt waar ons Hom mishandel en doodgemaak het.
Jesus het gegaan van die Een wat dag en nag deur die engele van die hemel aanbid is, na die dienskneg wat sy dissipels se voete gewas het. In sy eie woorde: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Mark 10: 45).
Dit was ’n daad van aanbidding. Dit is heel normaal om aan God te dink as die Een wat aanbid moet word. Ons verstaan dat God God is en ons nie. Wanneer ons dus dink aan hoe ons met God omgaan, kom die woord aanbidding natuurlik by ons op.
Vandag is aanbidding ’n multimiljoenrand-industrie. Kunstenaars, liedjieskrywers, konferensies en selfs werkwinkels word gewy aan aanbidding. Gewoonlik vind hierdie tipe aanbidding plaas in die vorm van musiek, maar Skriftuurlike aanbidding gaan meer oor hoe ons ons lewens in verhouding met God leef.
In Romeine 12 skryf Paulus dat ons ons liggame as lewende en heilige offers aan God moet gee en dat dit vir God aanneemlik is. Hy noem dit die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Rom 12: 1). Van liedere sing word niks hier gesê nie; bloot net om ons lewens in totale oorgawe by sy voete neer te lê.
Met ander woorde, wanneer ons ons lewens aan Christus oorgee, is dit hoe aanbidding lyk. Op dieselfde manier as wat Hy sy lewe vir ons afgelê het, soos Paulus ons in Efesiërs 5: 25 herinner, moet ons ons lewens vir Hom en vir mekaar aflê.
Jesus het vir ons gewys hoe aanbidding werklik lyk. Toe Hy van die troon afgekom en Homself verneder en ’n dienskneg vir ons geword het, het Hy die heelal gewys wat aanbidding werklik is. Op grond daarvan en na aanleiding van sy voorbeeld, moet ons Hom aanbid deur ons lewens as lewende offers te gee om ander te dien, soos Hy gedoen het. Dit is wat God eer. Dit is wat Hom vreugde verskaf.
Wanneer ons verstaan dat sy liefde vir ons Hom gedwing het om te kniel en ons te dien en ons te aanbid met ’n absolute oorgawe wat Hom na die kruis gedryf het en as Oorwinnaar uit die graf laat tree het, hoe anders kan ons hierop reageer?
Hoe kan jy nie die God liefhê wat Homself vir jou oorgegee het nie?
Hoe kan jy nie die God dien wat jou eerste gedien het nie?
Hoe kan jy nie die God aanbid wat alles neergelê en jou aanbid het totdat dit Hom doodgemaak het nie?
Daar is niemand soos ons God nie. Laat ons Hom aanbid. Laat ons ons lewens vir mekaar neerlê. Daar is geen groter liefde as dit nie. Amen.