DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS VAN 1563

Nadat Luther in 1517 sy 95 stellings aan die kerkdeure in Wittenberg vasgespyker het, het dinge vinnig begin gebeur en het die Kerkhervorming op verskillende plekke in die huidige Europa begin deurbreek en begin om veld te wen.

Die groot probleem was dat al die mense van daardie tyd nog in die Rooms-Katolieke Kerk gebore is en grootgeword het en geleer het uit hierdie Kerk se leer. Dit was dus dringend noodsaaklik vir die Kerkhervormers om kort en eenvoudige samevattings van die hoofpunte van die suiwer Christelike leer wat uit die Bybel geput is, op te stel en om die lidmate daaruit op te voed in die regte kennis en vrees van die Almagtige en van sy saligmakende Woord as die enigste fondament van alle deugde en gehoorsaamheid. As gevolg hiervan het daar talle kategismusse, van sowel Lutherse as Calvinistiese oorsprong, ontstaan. Rondom die ontstaan van die Heidelbergse Kategismus was die twee kategismusse wat Leo die Jood in 1534 en 1535 vir gebruik in Zürich opgestel het en dié van Bullinger, in 1561 vir dieselfde stad opgestel, belangrik; so ook Calvyn se kategismus vir gebruik in Genève van 1545 en die twee Londense kategismusse wat onderskeidelik deur Johannes Lasco en Marten Micron in 1551 en 1552 opgestel is, asook die kategismus wat in Emden, in Oos-Friesland, gebruik is en hoofsaaklik die werk van Lasco was.

Destyds was daar in die gebied wat ons vandag Duitsland noem ’n hele paar Calvinistiese gebiede, onder andere die gebied van die Palts met die hoofstad Heidelberg wat vandag nog bekend is. Die regeerder daarvan was toe die keurvors Frederik III, wat sy regeeramp op dié wyse gesien het dat hy nie net vir die rus, vrede, orde en die deugsame wandel van sy onderdane moes sorg nie, maar ook vir die regte kennis en vrees van die Almagtige en van sy Woorde. By die volk wat onder die pousdom sonder kategismus opgegroei het, het keurvors Frederik allerlei verkeerdhede, misverstand en onordelikheid bespeur, en dit het hy toegeskryf aan die feit dat hulle geen eendragtige onderwysing uit ’n eenstemmige kategismus gehad het nie.

Daarom het hy die inisiatief geneem en aan ons hele Teologiese Fakulteit alhier en aan al die superintendente en vernaamste kerkdienaars opdrag gegee om ’n opsommende onderrig oftewel ’n Kategismus van ons Christelike Godsdiens uit die Woord van God op te stel; in sowel die Duitse as die Latynse taal. Die hoogleraar Zacharias Ursinus het met die oog op die opstelling van ’n nuwe kategismus self twee kategismusse opgestel, sy Groot Kategismus en sy Klein Kategismus. Die werkkomitee waarin hy ’n aktiewe rol moes gespeel het, het in die opstelling van die Heidelbergse Kategismus ruim gebruikgemaak van hierdie twee kategismusse en ook van die sewe Calvinistiese kategismusse wat ons vroeër genoem het. Hulle kon dus op die skouers staan van die opstellers van vroeëre kategismusse en hulle kon van hierdie mense se arbeid, insigte en ervaring gebruikmaak. Olevianus gee dan ook erkenning hieraan wanneer hy in April 1563 in verband met die Heidelbergse Kategismus aan Bullinger skryf en sê dat die Heidelberger se helderheid grotendeels aan Bullinger te danke is en aan die blinkende vernuf van die Switsers. Die Heidelbergse Kategismus is ook vergelyk en krities afgegrens teen die Roomse en Lutherse kategismusse. Een opvallende verskil met die Lutherse kategismusse was dan dat dit die Tien Gebooie uitgelê het, nie onder die leerstuk van die kennis van ons sonde nie, maar saam met die Ons Vader onder die leerstuk van die dankbaarheid.

Nadat ’n groot kerkvergadering agt dae lank die opgestelde kategismus grondig bespreek en seker ook gewysig het, het die afgevaardigdes die kategismus byna eenstemmig aanvaar. Op Sondag 17 Januarie 1563 het hulle tot meerdere bevestiginge Nagmaal gevier; die volgende dag het keurvors Frederik hulle toegespreek, en op Dinsdag 19 Januarie 1563 is dit offisieel te Heidelberg onderteken, waarna dit in die skole, kategese en erediens gebruik is.

Baie gou het ook ander gebiede die uitmuntende kwaliteite van die Heidelbergse Kategismus besef en dit as leerboek aanvaar.

Die Nederlandse vertaling van Petrus Datheen het via Nederland ook na ons land gekom. Vir byna al die jare was die Kategismus óf die direkte bron óf die basis van die kategetiese onderrig van ons kerke, en ons gebruik dit vandag nog in ons kategismusprediking.

UIT DIE VOORREDE BY DIE KERKORDE

Oor die Kategismus

In ons Christelike godsdiens beteken kategismus ’n kort en eenvoudige mondelinge oorsig oor die belangrikste dele van die Christelike leer, waarin van die jongmense en eenvoudiges gevra en gehoor word wat hulle geleer het. Alle gelowiges het van die vroegste tyd van die Christelike kerk af hulle daarvoor beywer om hulle kinders tuis, en in skole en kerke, te onderrig in die eerbied vir die Here, sonder twyfel ook om die volgende redes, redes wat ons ook daartoe moet beweeg. Eerstens het hulle waarskynlik in gedagte gehad dat die aangebore boosheid die oorhand sou kry en kerke en burgerlike regering bedorwe sou laat raak as dit nie betyds met heilsame leer bestry word nie. Tweedens het die uitdruklike bevel van God hulle daartoe verplig, Eksodus 12, 13; Deuteronomium 4, 6 en 11, hoofstukke waar die Here die volgende sê: Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

Laastens, net soos die kinders van die Israeliete ná die besnyding, wanneer hulle tot hulle verstand gekom het, onderrig is oor die geheimenis van dié verbondsteken en ook oor die verbond met God, so moet ons kinders onderrig word oor hulle doop en oor die ware Christelike geloof en boetedoening, sodat hulle hulle geloof voor die hele Christelike gemeente sal bely voordat hulle toegelaat word tot die tafel van die Here. Hierdie gebruik om die kategese te bedryf, wat sy oorsprong het in die bevel van God, het in die Christelike kerk bly bestaan totdat die ellendige Satan deur die antichris, die pous, ook hierdie goeie instelling, net soos alle ander, verbreek en in die plek daarvan die smeerwerk, belediging en ander gruwels gesit het wat hy die vormsel noem.

Die Kategismus moet dus op die volgende wyse gebruik word

Omdat die ouer mense onder die pousdom sonder Kategismus opgegroei het en maklik vergeet waaroor die Christelike geloof gaan, is dit nodig dat op alle Sondae en feesdae in dorpe en stede die kerklike ampsdraers voordat die prediking begin, ’n stuk uit die Kategismus duidelik en verstaanbaar aan die mense sal voorlees, só dat dit in nege Sondae voorgelees word; die eerste Sondag tot voor die tweede deel, die tweede Sondag tot voor die artikel oor God die Seun, die derde tot voor die vraag oor die hemelvaart van Christus, die vierde tot voor die vraag: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?, die vyfde tot voor die heilige Nagmaal, die sesde tot voor die derde deel van die Kategismus, die sewende tot voor die vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?, die agste tot voor die gebed, die negende tot aan die einde van die gebed. Op die tiende Sondag moet die pastor voor die prediking die spreuke voorlees waarin elkeen vermaan word oor sy beroep, soos dit aan die einde van die Kategismus verskyn.

Verder moet elke Sondagmiddag op ’n uur wat plaaslik pas, kategismusprediking gehou word op die volgende wyse: Na die gesange moet die kerklike ampsdraer die Ons Vader bid en God aanroep om die regte verstaan van sy Woord. Daarna moet hy die Tien Gebooie duidelik aan die gemeente voorlees. Dan moet hy dié wat die vrae waaroor reeds gepreek is, nog nie kon leer nie, ondervra en stelselmatig eers ’n tyd lank op die teks en daarna algaande op die vraagstuk afstuur. Daarop laat hy etlike van die jongmense ’n bepaalde getal vrae in die Kategismus opsê wat in die voorafgaande prediking verklaar is en veral dié wat in die volgende prediking verklaar sal word, vrae wat hulle vantevore in die skool of tuis geleer het. (Vir dié doel het ons die Kategismus in Sondae laat verdeel.) Wanneer dié vrae so in teenwoordigheid van die gemeente deur etlike jongmense opgesê is, moet die ampsdraer ’n aantal van die volgende vrae eenvoudig en kortliks verklaar en uitlê, sodat hy die Kategismus minstens een maal per jaar deurpreek.

VOORREDE BY DIE EERSTE UITGAWE

Ons, Frederik, deur God se genade Paltsgraaf aan die Ryn, hoofhofbeampte en keurvors van die Heilige Romeinse Ryk, hertog in Beiere, ensovoorts, bring ons vriendelike groete oor aan almal en elkeen van ons superintendente, pastore, predikers en ander ampsdraers in kerke en skole in ons keurvorstedom, die Paltsgraafskap aan die Ryn. Ons bepaal hiermee dat u kennis neem van die volgende:

Daartoe gemaan deur die Goddelike Woord en ook deur natuurlike plig en gesindheid, het ons die verantwoordelikheid aanvaar en ons voorgeneem om die amp, beroep en regering wat God aan ons opgedra het, uit te voer en te reël nie alleen met die oog op ’n vreedsame en rustige bestaan nie, maar ook met die oog op die handhawing van die ingetoë, opregte en deugsame gedrag en lewe van ons onderdane, vernaamlik egter ook om hulle steeds meer te lei en te bring tot regskape kennis van en eerbied vir die Almagtige en sy saligmakende Woord, as die enigste fondament van alle deugde en gehoorsaamheid. Ons wil ook graag van harte bevorder dat hulle hulle voluit sal beywer vir hulle ewige en tydelike welvaart en wil hulle soveel as wat ons kan, help om hulle daarby te hou.

By ons bewindsaanvaarding het ons gevind dat ons liewe neefs en voorgangers, Paltsgrawe, keurvorste, ensovoorts, van loflike en salige nagedagtenis, allerhande Christelike en nuttige reëlings gemaak en beplan het tot bevordering van die eer van God en die handhawing van burgerlike dissipline en beleid.

Dié maatreëls is egter nie met die nodige erns deur almal deurgevoer nie en die verwagte en begeerde vrugte het nie gevolg nie en kan nie gesien word nie. Dit noodsaak ons om dié reëlings nie alleen opnuut van krag te maak nie, maar ook te verbeter en uit te brei en verdere voorsiening te maak. Ons vind dit ’n ernstige leemte dat oral in ons keurvorstedom die opgroeiende jeug op ’n baie nalatige wyse opgevoed en onderrig word, in die skole sowel as die kerke. Deels word dit glad nie gedoen nie, deels nie eenvormig nie en volgens geen vaste, sekere en duidelike leerboek nie, maar volgens elkeen se eie plan en goeddunke. Naas baie ander groot verkeerdhede het dit tot gevolg gehad dat die jeug in hoë mate sonder eerbied vir God en sonder kennis van sy Woord opgegroei het, geen eenvormige onderwys ontvang het nie of andersyds met omslagtige, onnodige vrae en soms selfs met verkeerde leer belas is.

Sonder die regte onderwys kan nóg die Christelike nóg die wêreldlike ampte, nóg die regering nóg die huishoudings bestendig onderhou word. Dissipline en eerbaarheid en alle ander goeie deugde moet by onderdane toeneem en opbloei. Die jeug moet van die begin af in die eerste plek opgevoed word in die suiwere en ook eenvormige leer van die heilige evangelie en in die regskape kennis van God, en voortdurend daarin geoefen word.

Ons het dit dus hoogs noodsaaklik geag om hieraan, as die belangrikste element van ons regering, behoorlik aandag te gee, die verkeerdheid en ongelykheid af te skaf en noodsaaklike verbetering aan te bring.

Daarom het ons met die advies en medewerking van ons hele Teologiese Fakulteit alhier en ook van alle superintendente en die belangrikste kerklike ampsdraers, ’n samevattende onderrig of Kategismus van ons Christelike godsdiens uit die Woord van God laat opstel en vasstel, in Duits sowel as Latyn. Daarmee sal die jeug voortaan in kerke en skole Godsaliglik onderrig word en eenstemmig daartoe opgevoed word. Ook die predikers en skoolmeesters sal ’n seker en vaste vorm en maatstaf hê hoe hulle in die onderrig van die jeug moet optree, en nie na eie goeddunke die daaglikse onderrig onderneem of verkeerde leer invoer nie.

Ons vermaan en beveel almal en elkeen van u vriendelik en ernstig dat u die opgestelde Kategismus of onderrig dankbaar sal aanvaar ter wille van die eer van God en ter wille van ons onderdane, en ook ter wille van die nut en voordeel vir u eie siele, en dat u die Kategismus korrek, vlytig en deeglik by die jeug sal inskerp in skole en in kerke, en ook by die gewone man van die kansel af, dat u daarvolgens sal leer, doen en lewe. Die ongetwyfelde hoop en vooruitsig bestaan dat die Almagtige ook verbetering van lewe en tydelike en ewige welvaart sal verleen en laat ervaar wanneer die jeug van jongs af so met erns onderrig en opgevoed word in die Woord van God. Dit is ons wens dat sal gebeur wat hierbo gestel is, en dit word na u vir uitvoering verwys.

Gegee te Heidelberg op Dinsdag die negentiende dag van Januarie, in die jaar duisend vyfhonderd drie en sestig na die geboorte van Christus ons liewe Heer en Saligmaker.

TEKS

Sondag 1

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (j).

(a) Rom 14: 8. (b) 1 Kor 6: 19. (c) 1 Kor 3: 22; Tit 2: 14. (d) 1 Pet 1: 18, 19; 1 Joh 1: 7; 2: 2, 12. (e) Heb 2: 14; 1 Joh 3: 8; Joh 8: 34-36. (f) Joh 6: 3; 10: 28; 2 Tess 3: 3; 1 Pet 1: 5. (g) Matt 10: 30; Luk 21: 18. (h) Rom 8: 28. (i) 2 Kor 1: 22; 5: 5; Ef 1: 14; Rom 8: 16. (j) Rom 8: 14; 1 Joh 3: 3.

Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord: Drie dinge (a): eerstens, hoe groot my sonde en ellende is (b); tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word; (c) en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees (d).

(a) Matt 11: 28-30; Ef 5: 8. (b) Joh 9: 41; Matt 9: 12; Rom 3: 10; 1 Joh 1: 9, 10. (c) Joh 17; Hand 4: 12; 10: 43. (d) Ef 5: 10; Ps 50: 14; Matt 5: 16; 1 Pet 2: 12; Rom 6: 13; 2 Tim 2: 15.

DIE EERSTE DEEL: DIE ELLENDE VAN DIE MENS (SONDAG 2-4)

Sondag 2

Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?

Antwoord: Uit die wet van God (a).

(a) Rom 3: 20.

Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?

Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22: 37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat (a).

(a) Deut 6: 5; Lev 19: 18; Mark 12: 30; Luk 10: 27.

Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?

Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).

(a) Rom 3: 10, 20, 23; 1 Joh 1: 8, 10. (b) Rom 8: 7; Ef 2: 3; Tit 3: 3; Gen 6: 5; 8: 21; Jer 17: 9; Rom 7: 23.

Sondag 3

Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?

Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).

(a) Gen 1: 31. (b) Gen 1: 26, 27. (c) Ef 4: 24; Kol 3: 10; 2 Kor 3: 18.

Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van die mens dan vandaan?

Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys (a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (b).

(a) Gen 3; Rom 5: 12, 18, 19. (b) Ps 51: 7; Gen 5: 3.

Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?

Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (b).

(a) Gen 8: 21; 6: 5; Job 14: 4; 15: 14, 16, 35; Joh 3: 6; Jes 53: 6. (b) Joh 3: 3, 5; 1 Kor 12: 3; 2 Kor 3: 5.

Sondag 4

Vraag 9: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?

Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

(a) Ef 4: 24. (b) Gen 3: 13; 1 Tim 2: 13, 14. (c) Gen 3: 6; Rom 5: 12.

Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?

Antwoord: Nee, glad nie. Inteendeel, sy toorn is verskriklik, (a) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen. Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ’n regverdige oordeel straf (b). Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie (c).

(a) Gen 2: 17; Rom 5: 12. (b) Ps 50: 21; 5: 6; Nah 1: 2; Eks 20: 5; 34: 7; Rom 1: 18; Ef 5: 6. (c) Deut 27: 26; Gal 3: 10.

Vraag 11: Is God dan nie ook barmhartig nie?

Antwoord: God is wel barmhartig (a), maar Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.

(a) Eks 34: 6, 7; 20: 6. (b) Ps 7: 10; Eks 20: 5; 23: 7; 34: 7; Ps 5: 5, 6; Nah 1: 2, 3.

DIE TWEEDE DEEL: DIE VERLOSSING VAN DIE MENS (SONDAG 5-31)

Sondag 5

Vraag 12: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God in die tyd en in die ewigheid straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?

Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom moet ons óf deur onsself óf deur ’n ander ten volle betaal (b).

(a) Gen 2: 27; Eks 23: 7; Eseg 18: 4; Matt 5: 26; 2 Tess 1: 6; Luk 16: 2. (b) Rom 8: 4.

Vraag 13: Kan ons deur onsself betaal?

Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter (a).

(a) Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25; 16:26.

Vraag 14: Kan enige ander skepsel vir ons betaal?

Antwoord: Nee, want eerstens wil God aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak het nie (a). Tweedens kan geen gewone skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie (b).

(a) Eseg 18: 4; Gen 3: 17. (b) Nah 1: 6; Ps 130: 3.

Vraag 15: Hoe ’n middelaar en verlosser moet ons dan soek?

Antwoord: So een wat ’n ware (a) en regverdige (b) mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is (c).

(a) 1 Kor 15: 21. (b) Heb 7: 26. (c) Jes 7: 14; 9: 5; Jer 23: 6; Luk 11: 22.

Sondag 6

Vraag 16: Waarom moet hy ’n ware en regverdige mens wees?

Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b).

(a) Eseg 18: 4, 20; Rom 5: 18; 1 Kor 15: 21; Heb 2: 14-16. (b) Heb 7: 26, 27; Ps 49: 8; 1 Pet 3: 18.

Vraag 17: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?

Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God (b) in sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).

(a) Jes 9: 5; 63: 3. (b) Deut 4: 24; Nah 1: 6; Ps 130: 3. (c) Jes 53: 4, 11. (d) Jes 53: 5, 11.

Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is (c)?

Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (e).

(a) 1 Joh 5: 20; Rom 9: 5; 8: 3; Gal 4: 4; Jes 9: 6; Jer 23: 6; Mal 3: 1. (b) Luk 1: 42; 2: 6, 7; Rom 1: 3; 9: 5; Fil 2: 7; Heb 2: 14, 16, 17; 4: 15. (c) Jes 53: 9, 11; Jer 23: 5; Luk 1: 35; Joh 8: 46; Heb 4: 15; 7: 26; 1 Pet 1: 19; 2: 22; 3: 18. (d) 1 Tim 2: 5; Matt 1: 23; 1 Tim 3: 16; Luk 2: 11; Heb 2: 9. (e) 1 Kor 1: 30.

Vraag 19: Waaruit weet jy dit?

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).

(a) Gen 3: 15. (b) Gen 22: 18; 12: 3; 49: 10. (c) Jes 53; 42: 1-4; 43: 25; 49: 5, 6, 22, 23; Jer 23: 5, 6; 31: 32, 33; 32: 39-41; Mig 7: 18-20; Hand 10: 43; 3: 22-24; Rom 1: 2; Heb 1: 1. (d) Heb 10: 1, 7; Kol 2: 7; Joh 5: 46. (e) Rom 10: 4; Gal 4: 4; 3: 24; Kol 2: 17.

Sondag 7

Vraag 20: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Antwoord: Nee (a), maar slegs dié wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).

(a) Matt 7: 14; 22: 14. (b) Mark 16: 16; Joh 1: 12; 3: 16, 18, 36; Jes 53: 11; Ps 2: 12; Rom 11: 20; 3: 22; Heb 4: 3; 5: 9; 10: 39; 11: 6.

Vraag 21: Wat is ’n ware geloof?

Antwoord: ’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

(a) Jak 2: 19. (b) Heb 11: 1, 7; Rom 4: 18-21; 10: 10; Ef 3: 12; Heb 4: 16; Jak 1: 6. (c) Gal 5: 22; Matt 16: 17; 2 Kor 4: 13; Joh 6: 29; Ef 2: 8; Fil 1: 19; Hand 16: 14. (d) Rom 1: 16; 10: 17; 1 Kor 1: 21; Hand 10: 44; 16: 14. (e) Ef 2: 8; Rom 3: 24; 5: 19; Luk 1: 77, 78. (f) Rom 1: 17; Gal 3: 11; Heb 10: 10, 38; Gal 2: 16.

Vraag 22: Wat moet ’n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

(a) Joh 20: 31; Matt 28: 19; Mark 1: 15.

Vraag 23: Hoe lui die artikels?

Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; (6) wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (11) die opstanding van die vlees (12) en ’n ewige lewe.

Sondag 8

Vraag 24: Hoe word hierdie artikels ingedeel?

Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?

Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

(a) Deut 6: 4; Ef 4: 6; Jes 44: 6; 45: 5; 1 Kor 8: 4, 6. (b) Jes 61: 1; Luk 4: 18; Gen 1: 2, 3; Ps 33: 6; Jes 48: 16; Matt 3: 16, 17; 28: 19; Jes 6: 1, 3; Joh 14: 26; 15: 26; 2 Kor 13: 13; Gal 4: 6; Ef 2: 18; Tit 3: 5, 6.

GOD DIE VADER EN ONS SKEPPING (SONDAG 9-10)

Sondag 9

Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus, my God en Vader is (c). Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as ’n almagtige God kan (f) en ook as ’n getroue Vader wil doen (g).

(a) Gen 1 en 2; Eks 20: 11; Job 33: 4, 38, 39; Hand 4: 24; 14: 15; Ps 33: 6; Jes 45: 7. (b) Heb 1: 3; Ps 104: 27-30; 115: 3; Matt 10: 29; Ef 1: 11. (c) Joh 1: 12; Rom 8: 15; Gal 4: 5-7; Ef 1: 5. (d) Ps 55: 23; Matt 6: 25, 26; Luk 12: 22. (e) Rom 8: 28. (f) Jes 46: 4; Rom 10: 12. (g) Matt 6: 32, 33; 7: 9-11.

Sondag 10

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oral teenwoordige krag (a), waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17: 25-28; Jer 23: 23, 24; Jes 29: 15, 16; Eseg 8: 12. (b) Heb 1: 3. (c) Jer 5: 24; Hand 14: 17. (d) Joh 9: 3. (e) Spr 22: 2. (f) Matt 10: 29; Spr 16: 33.

Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ’n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d) aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5: 3; Jak 1: 3; Ps 39: 10; Job 1: 21, 22. (b) 1 Tess 5: 18; Deut 8: 10. (c) Ps 55: 23; Rom 5: 4. (d) Rom 8: 38, 39. (e) Job 1: 12; 2: 6; Spr 21: 1; Hand 17: 25.

GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING (SONDAG 11-19)

Sondag 11

Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a), en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).

(a) Matt 1: 21; Heb 7: 25. (b) Hand 4: 12; Joh 15: 4, 5; 1 Tim 2: 5; Jes 43: 11; 1 Joh 5: 11.

Vraag 30: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a). Slegs een van twee dinge is immers moontlik: óf Jesus is nie ’n volkome Verlosser nie óf dié wat hierdie Verlosser met ’n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).

(a) 1 Kor 1: 13, 30, 31; Gal 5: 4. (b) Heb 12: 2; Jes 9: 6; Kol 1: 19, 20; 2: 10; 1 Joh 1: 7.

Sondag 12

Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekendgemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).

(a) Ps 45: 8; Heb 1: 9; Jes 61: 1; Luk 4: 18. (b) Deut 18: 15; Hand 3: 22; 7: 37; Jes 55: 4. (c) Joh 1: 18; 15: 15. (d) Ps 110: 4. (e) Heb 10: 12, 14; 9: 12, 14, 28. (f) Rom 8: 34; Heb 9: 24; 1 Joh 2: 1; Rom 5: 9, 10. (g) Ps 2: 6; Sag 9: 9; Matt 21: 5; Luk 1: 33; Matt 28: 18; Joh 10: 28; Op 12: 10, 11.

Vraag 32: Waarom word jy ’n Christen genoem (a)?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof ’n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).

(a) Hand 11: 26. (b) 1 Kor 6: 15. (c) 1 Joh 2: 27; Hand 2: 17. (d) Matt 10: 32; Rom 10: 10. (e) Rom 12: 1; 1 Pet 2: 5, 9; Op 1: 6; 5: 8, 10. (f) 1 Pet 2: 11; Rom 6: 12, 13; Gal 5: 16, 17; Ef 6: 11; 1 Tim 1: 18, 19. (g) 2 Tim 2: 12; Matt 25: 34.

Sondag 13

Vraag 33: Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem, terwyl ons tog ook kinders van God is?

Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is (a), terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is (b).

(a) Joh 1: 14; Heb 1: 1, 2; Joh 3: 16; 1 Joh 4: 9; Rom 8: 32. (b) Rom 8: 16; Joh 1: 12; Gal 4: 6; Ef 1: 5, 6.

Vraag 34: Waarom noem jy Hom ons Here?

Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).

(a) 1 Pet 1: 18, 19; 2: 9; 1 Kor 6: 20; 1 Tim 2: 6; Joh 20: 28.

Sondag 14

Vraag 35: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?

Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is (a) en bly (b), die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd, Maria (c), deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het (d). So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, (e) in alles aan sy broers gelyk (f), behalwe die sonde (g).

(a) 1 Joh 5: 20; Joh 1: 1; 17: 3; Rom 1: 3; Kol 1: 15. (b) Rom 9: 5. (c) Gal 4: 4; Luk 1: 31, 42, 43. (d) Matt 1: 20; Luk 1: 35. (e) Rom 1: 3; Ps 132: 11; 2 Sam 7: 12; Luk 1: 32; Hand 2: 30. (f) Fil 2: 7; Heb 2: 14, 17. (g) Heb 4: 15.

Vraag 36: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).

(a) Heb 7: 26, 27. (b) 1 Pet 1: 18, 19; 3: 18; 1 Kor 1: 30, 31; Rom 8: 3, 4; Jes 53: 11; Ps 32: 1.

Sondag 15

Vraag 37: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf (d).

(a) Jes 53: 4; 1 Pet 2: 24; 3: 18; 1 Tim 2: 6. (b) Jes 53: 10; Ef 5: 2; 1 Kor 5: 7; 1 Joh 2: 2; Rom 3: 25; Heb 9: 28; 10: 14. (c) Gal 3: 13; Kol 1: 13; Heb 9: 12; 1 Pet 1: 18, 19. (d) Rom 3: 25; 2 Kor 5: 21; Joh 3: 16; 6: 51; Heb 9: 15; 10: 19.

Vraag 38: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?

Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word (a) en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom (b).

(a) Joh 18: 38; Matt 27: 24; Luk 23: 14, 15; Joh 19: 4. (b) Ps 69: 5; Jes 53: 4, 5; 2 Kor 5: 21; Gal 3: 13.

Vraag 39: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op ’n ander manier gesterf het nie?

Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het (a) omdat die kruisdood deur God vervloek is (b).

(a) Gal 3: 13. (b) Deut 21: 23.

Sondag 16

Vraag 40: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).

(a) Gen 2: 17. (b) Rom 8: 3, 4; Heb 2: 14, 15.

Vraag 41: Waarom is Hy begrawe?

Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).

(a) Hand 13: 29; Matt 27: 59, 60; Luk 23: 53; Joh 19: 38.

Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?

Antwoord: Ons dood is nie ’n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs ’n afsterwe van die sondes en ’n deurgang tot die ewige lewe (b).

(a) Mark 8: 37; Ps 49: 8. (b) Fil 1: 23; Joh 5: 24; Rom 7: 24.

Vraag 43: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?

Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie (b), maar kan ons onsself as ’n dankoffer aan Hom toewy (c).

(a) Rom 6: 6. (b) Rom 6: 6, 12. (c) Rom 12: 1.

Vraag 44: Waarom volg daar: wat neergedaal het na die hel?

Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die helse benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.

(a) Jes 53: 5. (b) Ps 18: 5, 6; 116: 3; Matt 26: 38; 27: 46; Heb 5: 7.

Sondag 17

Vraag 45: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: Eerstens het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Tweedens word ons nou ook deur sy krag tot ’n nuwe lewe opgewek (b). Derdens is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

(a) Rom 4: 25; 1 Pet 1: 3; 1 Kor 15: 16. (b) Rom 6: 4; Kol 3: 1, 5; Ef 2: 5, 6. (c) 1 Kor 15: 20, 21.

Sondag 18

Vraag 46: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?

Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten goede (b), totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en dié wat reeds gesterf het (c).

(a) Hand 1: 9; Mark 16: 19; Luk 24: 51. (b) Heb 9: 24; 4: 4; Rom 8: 34; Kol 3: 1. (c) Hand 1: 11; Matt 24: 30.

Vraag 47: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).

(a) Matt 28: 20. (b) Heb 8: 4; Matt 26: 11; Joh 16: 28; 17: 11; Hand 3: 21. (c) Joh 14: 18; Matt 28: 20.

Vraag 48: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is oral teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

(a) Jer 23: 24; Hand 7: 49. (b) Kol 2: 9; Joh 3: 13; 11: 15; Matt 28: 6.

Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Eerstens dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Tweedens dat ons ons menslike natuur in die hemel as ’n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Derdens dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).

(a) 1 Joh 2: 1; Rom 8: 34. (b) Joh 14: 2; 17: 24; 20: 17; Ef 2: 6. (c) Joh 14: 16; 16: 7; Hand 2: 33; 2 Kor 1: 22; 5: 5. (d) Kol 3: 1.

Sondag 19

Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan die regterhand van God?

Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Homself daar as die Hoof van sy Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles regeer (b).

(a) Ef 1: 20-23; Kol 1: 18. (b) Matt 28: 18; Joh 5: 22.

Vraag 51: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof, Christus, vir ons?

Antwoord: Eerstens dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort (a). Tweedens dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar (b).

(a) Hand 2: 33; Ef 4: 8. (b) Ps 2: 9; 110: 1, 2; Joh 10: 28; Ef 4: 8.

Vraag 52: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b) maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem (c).

(a) Fil 3: 20; Luk 21: 28; Rom 8: 23; Tit 2: 13; 1 Tess 4: 16. (b) Matt 25: 41; 2 Tess 1: 6. (c) Matt 25: 34; 2 Tess 1: 7.

GOD DIE HEILIGE GEES EN ONS HEILIGMAKING (SONDAG 20-24)

Sondag 20

Vraag 53: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Eerstens is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (a). Tweedens is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur ’n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade (c), my troos (d) en ewig by my bly (e).

(a) 1 Joh 5: 7; Gen 1: 2; Jes 48: 16; 1 Kor 3: 16; 6: 19; Hand 5: 3, 4. (b) Gal 4: 6; Matt 28: 19, 20; 2 Kor 1: 22; Ef 1: 13. (c) Gal 3: 14; 1 Pet 1: 2; 1 Kor 6: 17. (d) Joh 15: 26; Hand 9: 31. (e) Joh 14: 16; 1 Pet 4: 14.

Sondag 21

Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g), en dat ek daarvan ’n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).

(a) Ef 5: 26; Joh 10: 11; Hand 20: 28; Ef 4: 11-13. (b) Gen 26: 4; Op 5: 9. (c) Rom 8: 29; Ef 1: 10-13. (d) Jes 59: 21; Rom 1: 16; 10: 14-17; Ef 5: 26. (e) Hand 2: 42; Ef 4: 3-5. (f) Ps 71: 17, 18; Jes 59: 21; 1 Kor 11: 26. (g) Matt 16: 18; Joh 10: 28-30; Ps 129: 1-5. (h) 1 Joh 3: 14, 19-21; 2 Kor 13: 5; Rom 8: 10. (i) Ps 23: 6; 1 Kor 1: 8, 9; Joh 10: 28; 1 Joh 2: 19; 1 Pet 1: 5.

Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Eerstens dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Tweedens dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).

(a) 1 Joh 1: 3; Rom 8: 32; 1 Kor 12: 12, 13; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12: 21; 13: 1, 5; Fil 2: 4-8.

Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?

Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry (a), nooit meer wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit weer in die strafgerig van God sal kom nie (c).

(a) 1 Joh 2: 2; 1: 7; 2 Kor 5: 19. (b) Rom 7: 23-25; Jer 31: 34; Miga 7: 19; Ps 103: 3, 10, 12. (c) Joh 3: 18; 5: 24.

Sondag 22

Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van die vlees aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

(a) Luk 16: 22; 23: 43; Fil 1: 21, 23. (b) Job 19: 25, 26; 1 Joh 3: 2; Fil 3: 21.

Vraag 58: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou reeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek ná hierdie lewe volkome saligheid sal besit – ’n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys (b).

(a) 2 Kor 5: 2, 3. (b) 1 Kor 2: 9.

Sondag 23

Vraag 59: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?

Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en ’n erfgenaam van die ewige lewe is (a).

(a) Hab 2: 4; Rom 1: 17; Joh 3: 36.

Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God?

Antwoord: Slegs deur ’n ware geloof in Jesus Christus (a); só dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b), en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ’n gelowige hart (j) aanneem.

(a) Rom 3: 21, 22, 24; 5: 1, 2; Gal 2: 16; Ef 2: 8, 9; Fil 3: 9. (b) Rom 3: 9. (c) Rom 7: 23. (d) Rom 4: 4; 2 Kor 5: 19. (e) Tit 3: 5; Deut 9: 6; Eseg 36: 22. (f) Rom 3: 24; Ef 2: 8. (g) 1 Joh 2: 2. (h) 1 Joh 2: 1. (i) 2 Kor 5: 21. (j) Rom 3: 22; Joh 3: 18.

Vraag 61: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?

Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).

(a) 1 Kor 1: 30; 2: 2. (b) 1 Joh 5: 10.

Sondag 24

Vraag 62: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of ’n deel daarvan wees nie?

Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem (a), en dat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).

(a) Gal 3: 10; Deut 27: 26. (b) Jes 64: 6.

Vraag 63: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?

Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee (a).

(a) Luk 17: 10.

Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie die mense onverskillig en roekeloos nie?

Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie (a).

(a) Matt 7: 18; Joh 15: 5.

DIE HEILIGE SAKRAMENTE (SONDAG 25-30)

Sondag 25

Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ’n geloof dan vandaan?

Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die heilige sakramente (b).

(a) Ef 2: 8; 6: 23; Joh 3: 5; Fil 1: 29. (b) Matt 28: 19; 1 Pet 1: 22, 23.

Vraag 66: Wat is sakramente?

Antwoord: Dit is sigbare, heilige tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God ons vanweë die enige offer van Christus, wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a).

(a) Gen 17: 11; Rom 4: 11; Deut 30: 6; Lev 6: 25; Heb 9: 7, 8, 9, 24; Eseg 20: 12; Jes 6: 6, 7; 54: 9.

Vraag 67: Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?

Antwoord: Ja seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus wat aan die kruis vir ons gebring is (a).

(a) Rom 6: 3; Gal 3: 27.

Vraag 68: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?

Antwoord: Twee, naamlik die heilige Doop en die heilige Nagmaal.

DIE HEILIGE DOOP (SONDAG 26-27)

Sondag 26

Vraag 69: Hoe word jy in die heilige Doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Antwoord: Só: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.

(a) Matt 28: 19. (b) Matt 28: 19; Mark 16: 16; Hand 2: 38; Joh 1: 33; Matt 3: 11; Rom 6: 3, 4. (c) 1 Pet 3: 21; Mark 1: 4; Luk 3: 3.

Vraag 70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).

(a) Heb 12: 24; 1 Pet 1: 2; Op 1: 5; 7: 14; Sag 13: 1; Eseg 36: 25. (b) Joh 1:33; 3: 5; 1 Kor 6: 11; 12: 13; Rom 6: 4; Kol 2: 12.

Vraag 71: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?

Antwoord: Met die instelling van die Doop wat soos volg lui: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees… (Matt 28: 19); en: Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word (Mark 16: 16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die Doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Tit 3: 5; Hand 22: 16).

Sondag 27

Vraag 72: Is die uitwendige waterbad self dan die afwassing van die sonde?

Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b).

(a) Matt 3: 11; 1 Pet 3: 21; Ef 5: 26. (b) 1 Joh 1: 7; 1 Kor 6: 11.

Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die Doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?

Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes só wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is, as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.

Vraag 74: Moet die jong kinders ook gedoop word?

Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die Doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan in die Nuwe Verbond, die Doop, ingestel is (f).

(a) Gen 17: 7. (b) Matt 19: 14. (c) Luk 1: 15; Ps 22: 11; Jes 44: 1-3; Hand 2: 39. (d) Hand 10: 47. (e) Gen 17: 14. (f) Kol 2: 11-13.

DIE HEILIGE NAGMAAL VAN ONS HERE (SONDAG 28-30)

Sondag 28

Vraag 75: Hoe word jy in die heilige Nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?

Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof (a), eerstens dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word.

Tweedens, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.

(a) Matt 26: 26-28; Mark 14: 22-24; Luk 22: 19, 20; 1 Kor 10:16, 17; 11: 23-25; 12: 13.

Vraag 76: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?

Antwoord: Dit beteken nie slegs om met ’n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is (c), al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil sê dat ons deur een Gees – soos die ledemate van die liggaam deur een siel –  ewig lewe en geregeer word (e).

(a) Joh 6: 35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6: 55, 56. (c) Ef 5: 29, 30; 3: 16; 1 Kor 6: 15; 1 Joh 3: 24; 4: 13. (d) Kol 3: 1; Hand 3: 21; 1 Kor 11: 26. (e) Joh 6: 57; 15: 1-6; Ef 4: 15, 16.

Vraag 77: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?

Antwoord: By die instelling van die Nagmaal, wat soos volg lui (a):

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ Net so het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.’ Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom (1 Kor 11: 23-26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood (1 Kor 10: 16, 17).

(a) Matt 26: 26-28; Mark 14: 22-24; Luk 22: 19, 20.

Sondag 29

Vraag 78: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by die Doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van die sonde self is nie, maar slegs ’n Goddelike teken en versekering daarvan (b), so verander die brood by die Nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c). Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente, word die brood egter die liggaam van Christus genoem (d).

(a) Matt 26: 29. (b) Ef 5: 26; Tit 3: 5. (c) 1 Kor 10: 16; 11: 26. (d) Gen 17: 10, 11; Eks 12: 11, 13; 13: 9; 1 Pet 3: 21; 1 Kor 10: 3, 4.

Vraag 79: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die Nuwe Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry, as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is, asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het.

(a) Joh 6: 55. (b) 1 Kor 10: 16.

Sondag 30

Vraag 80: Wat is die onderskeid tussen die Nagmaal van die Here en die Roomse mis?

Antwoord: Die Nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het (a), en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar deur ons aanbid wil word (d). Die Roomse mis daarenteen leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as ’n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus, en ’n afgodery wat vervloek is (e).

(a) Heb 10: 10, 12; 7: 26, 27; 9: 12, 25; Joh 19: 30; Matt 26: 28; Luk 22: 19. (b) 1 Kor 10: 16, 17; 6: 17. (c) Joh 20: 17; Kol 3: 1; Heb 1: 3; 8: 1. (d) Matt 6: 20, 21; Joh 4: 21; Luk 24: 52; Hand 7: 55; Kol 3: 1; Fil 3: 20; 1 Tess 1: 10. (e) Heb 9: 26; 10: 12, 14.

Vraag 81: Wie moet na die Nagmaaltafel van die Here kom?

Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes ’n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en dié wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en dié wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink ’n veroordeling oor hulleself (a).

(a) 1 Kor 11: 28; 10: 19-22.

Vraag 82: Moet dié mense ook aan die Nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?

Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

(a) 1 Kor 11: 20, 34; Jes 1: 11; 66: 3; Jer 7: 21; Ps 50: 16.

DIE KERKLIKE TUG (SONDAG 31)

Sondag 31

Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.

Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is, so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ’n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus, solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe, oordeel.

(a) Joh 20: 21-23; Matt 16: 19.

Vraag 85: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word dié wat die naam Christen dra en tog ’n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra, eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan dié wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).

(a) Matt 18: 15-17; 1 Kor 5: 4, 5, 11; 2 Kor 2: 6-8.

DIE DERDE DEEL: DIE DANKBAARHEID WAT ONS AAN GOD VIR DIE VERLOSSING VERSKULDIG IS (SONDAG 32-52)

Sondag 32

Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe, sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word. Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).

(a) Rom 6: 13; 12: 1, 2; 1 Pet 2: 5, 9; 1 Kor 6: 20. (b) Matt 5: 16; 1 Pet 2: 12. (c) 2 Pet 1: 10; Matt 7: 17; Gal 5: 6, 22. (d) 1 Pet 3: 1, 2; Rom 14: 19.

Vraag 87: Kan dié mense dan nie salig word wat in hulle goddelose ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).

(a) 1 Kor 6: 9, 10; Ef 5: 5, 6; 1 Joh 3: 14.

Sondag 33

Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?

Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (a).

(a) Rom 6: 1, 4-6; Ef 4: 22-24; Kol 3: 5, 6, 8-10; 1 Kor 5: 7; 2 Kor 7: 10.

Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens?

Antwoord: Dit is ’n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (a).

(a) Rom 8: 13; Joël 2: 13; Hos 6: 1.

Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens?

Antwoord: Dit is ’n hartlike vreugde in God deur Christus (a) en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe (b).

(a) Rom 5: 1; 14: 17; Jes 57: 15. (b) Rom 6: 10, 11; Gal 2: 20.

Vraag 91: Wat is goeie werke?

Antwoord: Slegs dié wat uit ’n ware geloof (a), volgens die wet van God (b), tot sy eer gedoen word (c), en nie dié wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d).

(a) Rom 14: 23. (b) Lev 18: 4; 1 Sam 15: 22; Ef 2: 10. (c) 1 Kor 10: 31. (d) Eseg 20: 18, 19; Jes 29: 13; Matt 15: 7-9.

DIE WET (SONDAG 34-44)

Sondag 34

Vraag 92: Hoe lui die wet van die Here?

Antwoord: Toe het God al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20: 1-17; Deut 5: 6-21): Ek is die Here, jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

Die eerste gebod:

Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Die tweede gebod:

Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Die derde gebod:

Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

Die vierde gebod:

Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag ingestel en dit geheilig.

Die vyfde gebod:

Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Die sesde gebod:

Jy mag nie moord pleeg nie.

Die sewende gebod:

Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Die agtste gebod:

Jy mag nie steel nie.

Die negende gebod:

Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

Die tiende gebod:

Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Vraag 93: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?

Antwoord: In twee tafels (a), waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra; die tweede in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is (b).

(a) Deut 4: 13; Eks 34: 28; Deut 10: 3, 4. (b) Matt 22: 37, 40.

Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: Ek moet ter wille van my sieleheil en saligheid alle afgodery (a), towery, waarsêery, bygeloof (b), aanroeping van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle nederigheid (f) en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel (l).

(a) 1 Joh 5: 21; 1 Kor 6: 10; 10: 7, 14. (b) Lev 19: 31; Deut 18: 9, 10. (c) Matt 4: 10; Op 19: 10; 22: 8, 9. (d) Joh 17: 3. (e) Jer 17: 5, 7. (f) 1 Pet 5: 5. (g) Heb 10: 36; Kol 1: 11; Rom 5: 3, 4; 1 Kor 10: 10; Fil 2: 14. (h) Ps 104: 27; Jes 45: 7; Jak 1: 17. (i) Deut 6: 5; Matt 22: 37. (j) Deut 6: 2; Ps 111: 10; Spr 1: 7; 9: 10; Matt 10: 28. (k) Matt 4: 10; Deut 10: 20. (l) Matt 5: 29; 10: 37; Hand 5: 29.

Vraag 95: Wat is afgodery?

Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).

(a) Ef 5: 5; 1 Kron 16: 26; Fil 3: 19; Gal 4: 8; Ef 2: 12; 1 Joh 2: 23; 2 Joh 9; Joh 5: 23.

Sondag 35

Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod?

Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).

(a) Jes 40: 18, 19, 25; Deut 4: 15, 16; Rom 1: 23; Hand 17: 29. (b) 1 Sam 15: 23; Deut 12: 30; Matt 15: 19.

Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?

Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).

(a) Jes 40: 25. (b) Eks 34: 17; 23: 24; 34: 13; Num 33: 52.

Vraag 98: Mag ons beelde as boeke van die leke in die kerkgebou toelaat?

Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).

(a) Jer 10: 8; Heb 2: 18. (b) Rom 10: 14, 15, 17; 2 Pet 1: 19; 2 Tim 3: 16, 17.

Sondag 36

Vraag 99: Wat eis die derde gebod?

Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur ’n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat, ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).

(a) Lev 24: 15, 16. (b) Lev 19: 12. (c) Matt 5: 37; Jak 5: 12. (d) Lev 5: 1; Spr 29: 24. (e) Jer 4: 2; Jes 45: 23. (f) Matt 10: 32; Rom 10: 9, 10. (g) Ps 50: 15; 1 Tim 2: 8. (h) Kol 3: 17; Rom 2: 24; 1 Tim 6: 1.

Vraag 100: Is dit dan so ’n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie so ver moontlik teëgaan en verbied nie?

Antwoord: Ja seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).

(a) Spr 29: 24; Lev 5: 1. (b) Lev 24: 16.

Sondag 37

Vraag 101: Mag ’n mens ook godvresend by die Naam van God ’n eed sweer?

Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik (b).

(a) Deut 6: 13; 10: 20; Jes 48: 1; Heb 6: 16. (b) Gen 21: 24; 31: 53; Jos 9: 15; 1 Sam 24: 23; 2 Sam 3: 35; 1 Kon 1: 29; Rom 1: 9; 9: 1; 2 Kor 1: 23.

Vraag 102: Mag ’n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?

Antwoord: Nee, want om ’n regte eed te sweer, beteken dat ons God aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom geen skepsel toe nie (b).

(a) 2 Kor 1: 23; Rom 9: 1. (b) Matt 5: 34-36; Jak 5: 12.

Sondag 38

Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: God wil eerstens dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ek moet veral ook op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).

(a) Tit 1: 5; 2 Tim 3: 14; 1 Kor 9: 13, 14; 2 Tim 2: 2; 3: 15. (b) Ps 40: 10, 11; 68: 27; Hand 2: 42. (c) 1 Tim 4: 13; 1 Kor 14: 29. (d) 1 Kor 11: 33. (e) 1 Tim 2: 1; 1 Kor 14: 16. (f) 1 Kor 16: 2. (g) Jes 66: 23.

Sondag 39

Vraag 104: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ek moet ook met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).

(a) Ef 6: 1, 2, 5; Kol 3: 18, 20, 22; Ef 5: 22; Spr 1: 8; 4: 1; 15: 20; 20: 20; Eks 21: 17; Rom 13: 1. (b) Spr 23: 22; Gen 9: 24; 1 Pet 2: 18. (c) Ef 6: 4, 9; Kol 3: 20; Rom 13: 2, 3; Matt 22: 21.

Sondag 40

Vraag 105: Wat eis God in die sesde gebod?

Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).

(a) Matt 5: 21, 22; 26: 52; Gen 9: 6. (b) Ef 4: 26; Rom 12: 19; Matt 5: 25; 18: 35. (c) Rom 13: 14; Kol 2: 23; Matt 4: 7. (d) Gen 9: 6; Eks 21: 14; Matt 26: 52; Rom 13: 4.

Vraag 106: Praat hierdie gebod net van doodmaak?

Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus, verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).

(a) Spr 14: 30; Rom 1: 29. (b) 1 Joh 2: 11. (c) Jak 1: 20; Gal 5: 19-21. (d) 1 Joh 3: 15.

Vraag 107: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak nie, soos hierbo gesê is?

Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel so ver moontlik probeer voorkom (c), en selfs aan ons vyande goed doen (d).

(a) Matt 22: 39; 7: 12; Rom 12: 10. (b) Ef 4: 2; Gal 6: 1, 2; Matt 5: 5; Rom 12: 18; Luk 6: 36; Matt 5: 7; 1 Pet 3: 8; Kol 3:12. (c) Eks 23: 5. (d) Matt 5: 44, 45; Rom 12: 20.

Sondag 41

Vraag 108: Wat leer die sewende gebod ons?

Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c), sowel binne as buite die huwelik (d).

(a) Lev 18: 28. (b) Jud 1: 23. (c) 1 Tess 4: 3-5. (d) Heb 13: 4; 1 Kor 7: 7.

Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?

Antwoord: Omdat albei, ons liggaam en siel, ’n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied Hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat ’n mens daartoe kan verlei (c).

(a) Ef 5: 3, 4; 1 Kor 6: 18, 19. (b) Matt 5: 27, 28. (c) Ef 5: 18; 1 Kor 15: 33.

Sondag 42

Vraag 110: Wat verbied God in die agtste gebod?

Antwoord: God verbied nie slegs dié diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of ’n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere (d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).

(a) 1 Kor 6: 10. (b) 1 Kor 5: 10; Jes 33: 1. (c) Luk 3: 14; 1 Tess 4: 6. (d) Spr 11: 1; 16: 11; Eseg 45: 9, 10; Deut 25: 13. (e) Ps 15: 5; Luk 6: 35. (f) 1 Kor 6: 10. (g) Spr 23: 20, 21; 21: 20.

Vraag 111: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?

Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).

(a) Matt 7: 12. (b) Ef 4: 28.

Sondag 43

Vraag 112: Wat eis die negende gebod?

Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie ’n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).

(a) Spr 19: 5, 9; 21: 28. (b) Ps 15: 3; 50: 19, 20. (c) Rom 1: 30. (d) Matt 7: 1; Luk 6: 37. (e) Joh 8: 44. (f) Spr 12: 22; 13: 5. (g) 1 Kor 13: 6; Ef 4: 25. (h) 1 Pet 4: 8.

Sondag 44

Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van ons?

Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ’n begeerte tot alle geregtigheid hê (a).

(a) Rom 7: 7.

Vraag 114: Maar kan dié wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?

Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ’n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog so dat hulle met ’n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe (b).

(a) 1 Joh 1: 8; Rom 7: 14, 15; Pred 7: 20; 1 Kor 13: 9. (b) Rom 7: 22; Ps 1: 2.

Vraag 115: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?

Antwoord: Eerstens, sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken (a), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek (b). Tweedens moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons ná hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).

(a) Rom 3: 20; 1 Joh 1: 9; Ps 32: 5. (b) Matt 5: 6; Rom 7: 24, 25. (c) 1 Kor 9: 24; Fil 3: 12-14.

DIE GEBED (SONDAG 45-52)

Sondag 45

Vraag 116: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a). En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).

(a) Ps 50: 14. (b) Matt 7: 7; Luk 11: 9, 13; 1 Tess 5: 17.

Vraag 117: Hoe moet ’n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?

Antwoord: Eerstens moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Tweedens moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken (d), sodat ons ons voor sy Majesteit kan verootmoedig (e). Derdens het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g), soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het (h).

(a) Op 19: 10; Joh 4: 22-24. (b) Rom 8: 26; 1 Joh 5: 14; Jak 1: 5. (c) Joh 4: 24; Ps 145: 18. (d) 2 Kron 20: 12. (e) Ps 2: 11; 34: 19; Jes 66: 2. (f) Rom 10: 14; Jak 1: 6. (g) Joh 14: 13; 16: 23; Dan 9: 18. (h) Matt 7: 8; Ps 27: 8.

Vraag 118: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?

Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het in die gebed wat Hy self aan ons geleer het (a).

(a) Jak 1: 17; Matt 6: 33.

Vraag 119: Hoe lui hierdie gebed?

Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel;

gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredinge

soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie,

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

(Sien endnoot 1.)

(a) Matt 6: 9-13; Luk 11: 2-4.

Sondag 46

Vraag 120: Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?

Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dít moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en dat Hy ons veel minder dít wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders ons aardse dinge ontsê (a).

(a) Matt 7: 9-11; Luk 11: 11-13.

Vraag 121: Waarom word hier bygevoeg: Wat in die hemel is?

Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie (a) en van sy almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (b).

(a) Jer 23: 23, 24; Hand 17: 24, 25, 27. (b) Rom 10: 12.

Sondag 47

Vraag 122: Wat is die eerste bede?

Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken (a) en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter (b). Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word (c).

(a) Joh 17: 3; Jer 9: 24; 31: 33, 34; Matt 16: 17; Jak 1: 5; Ps 119: 105. (b) Ps 119: 137; Luk 1: 46, 47, 68, 69; Rom 11: 33. (c) Ps 71: 8; 115: 1.

Sondag 48

Vraag 123: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).

(a) Ps 143: 10; 119: 5; Matt 6: 33. (b) Ps 51: 20; 112: 6. (c) 1 Joh 3: 8; Rom 16: 20. (d) Op 22: 20; Rom 8: 22, 23. (e) 1 Kor 15: 28.

Sondag 49

Vraag 124: Wat is die derde bede?

Antwoord: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee (a) om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees (b), sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer (c) soos die engele in die hemel (d).

(a) Matt 16: 24; Tit 2: 11, 12. (b) Luk 22: 42; Ef 5: 10; Rom 12: 2. (c) 1 Kor 7: 24. (d) Ps 103: 20, 21.

Sondag 50

Vraag 125: Wat is die vierde bede?

Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is (a), sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is (b), en dat al ons sorg en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie (c). Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel (d).

(a) Ps 145: 15; 104: 27; Matt 6: 26. (b) Jak 1: 17; Hand 14: 17; 17: 27. (c) 1 Kor 15: 58; Deut 8: 3; Ps 37: 16; 127: 1, 2. (d) Ps 55: 23; 62: 11; 146: 3; Jer 17: 5, 7.

Sondag 51

Vraag 126: Wat is die vyfde bede?

Antwoord: Vergeef ons ons oortredinge, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie (a). Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).

(a) Ps 51: 3; 143: 2; 1 Joh 2: 1; Rom 8: 1. (b) Matt 6: 14.

Sondag 52

Vraag 127: Wat is die sesde bede?

Antwoord: En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).

(a) Joh 15: 5; Ps 103: 14. (b) 1 Pet 5: 8; Ef 6: 12. (c) Joh 15: 19. (d) Rom 7: 23; Gal 5: 17. (e) Matt 26: 4; Mark 13: 33. (f) 1 Tess 3: 13; 5: 23.

Vraag 128: Hoe sluit jy jou gebed af?

Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee (a) sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word (b).

(a) Rom 10: 12; 2 Pet 2: 9. (b) Joh 14: 13; Jer 33: 8, 9; Ps 115: 1.

Vraag 129: Wat beteken die woord Amen?

Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer (a).

(a) 2 Kor 1: 20; 2 Tim 2: 13.

 

  1. In die grondteks ontbreek die gebruiklike woorde: Aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Dit word in die teks gelaat omdat die saak waaroor dit gaan, volgens die Heilige Skrif korrek is
Share via
Copy link
Powered by Social Snap