Hoe lyk die historiese Jesus en hoe verskil Hy van die Jesus waarvan ons in die kerk leer?
Op Sondagaand 2 Augustus 2020 het Jean Oosthuizen, aanbieder van die RSG-program Uit ’n ander hoek, met proff Andries van Aarde (emeritusprofessor in Nuwe Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria) en prof Pieter Craffert (verbonde aan Unisa) gesels oor die historiese Jesus en die kerk. Bogenoemde is die vrae wat aanvanklik aan die orde gestel is.
Die gesprek is ietwat oorheers deur ’n stortvloed inligting oor die bronne en oor wat werklik histories is al dan nie. Die probleem is dat die luisteraars baie min indien enige agtergrond het om die problematiek van mites en mitologie, bronne (binne en buite Bybelse), historisiteit, historiese bewysbaarheid en die metode(s) daaragter, die proses van geskiedskrywing, en die kompleksiteit van die ontwikkelingsgeskiedenis van die vroegste Jesus-bewegings en Christendomme te kan begryp. Daarom kan die problematiek as sodanig verwarrend en onbegryplik en, vir naïewe gelowiges, ook ontstellend wees. Moderne gelowiges wat die Bybel lees, dink gewoon hulle lees geskiedenis as hulle die Bybel lees en dat dinge gebeur het soos dit daar staan.
Daarom is dit tog goed dat hierdie tipe navorsing gedoen word en gesprekke daaroor plaasvind. Dit prikkel lesers van die Bybel en gelowiges om dieper en noukeuriger te lees, met ’n bewussyn dat alles wat hulle lees nie geskiedenis is nie en derhalwe nie noodwendig net so gebeur het soos dit daar staan nie. In hierdie opsig het historiese-Jesus-navorsing ’n geweldige groot bydrae gemaak om die Bybel, die leefwêreld van die Bybel en die ontstaansgeskiedenis van die Bybel, die kerk en kerklike dogma beter te verstaan. Oor die vraag oor hoe ons as Kerk die historiese Jesus moet verstaan en die navorsing daaroor behoort te hanteer, probeer ek hier ’n beskeie bydrae maak.
Die debat oor die vraag na die historiese Jesus is nie nuut nie. Elke noukeurige Bybelleser sal weet dat elke Evangelis sy eie beeld van Jesus teken. Die Jesus van Matteus, Markus en Lukas stem baie ooreen, maar verskil tog van mekaar. Dié drie verskil egter baie van die Jesus van Johannes. En die vier Evangeliste se weergawes verskil van die beeld van Jesus wat Paulus aan ons voorhou. Dit is minstens die laaste 170 jaar reeds dat navorsers daarop wys dat die Jesus agter die Evangelies, die historiese Jesus, anders is as die verskillende beelde van Jesus wat elkeen van die Evangeliste oor Hom teken.
Vandag kan ons minstens sê dat die historiese Jesus ’n enigma was. Geen poging om Hom, sy werk of wat met Hom gebeur het te beskryf, te omvat of te interpreteer, was of is finaal nie. Trouens, dit is duidelik dat daar tydens Jesus se lewe, selfs onder die dissipels, misverstande was oor wie Hy werklik was.
Kort na sy dood is sy lewe op minstens twee maniere geïnterpreteer en verder oorgelewer. Daar was groepe Jesus-volgelinge wat net waarde geheg het aan sy woorde (en dade), maar aangesien sy kruisdood vir hulle geen betekenis gehad het nie en hulle nie in sy opstanding geglo het nie, het hulle Hom nie as Christus en God bely nie. Ons kan dit die Jesus-tradisie noem. Dan was daar ander groepe Christene (soos Paulus) wat nie veel belangstelling gehad het in die lewe van Jesus nie, maar gefokus het op die betekenis van sy kruisdood en opstanding. Ons kan dit die kerugmatiese tradisie noem omdat hulle in Jesus as die Christus en as God geglo, Hom so bely en so verkondig het. Wanneer die Evangeliste hul Evangelies skryf, het hierdie twee tradisielyne reeds bymekaargekom.
By die vasstelling van die kanon het die kerk besluit om die geskrifte wat fokus op sowel die lewe (Jesus-tradisie) as die kruis en opstanding van Jesus en wat Hom as Christus en God bely (kerugmatiese tradisie), daarin op te neem. Hulle het gekies om die geskrifte wat net fokus op die Jesus-tradisie en nie waarde heg aan die kruis en opstanding nie, en Hom derhalwe nie as Christus en God bely nie, uit te laat. Die norm vir kanonisiteit was dus die Jesus wat werklik geleef het, maar geïnterpreteer is as die opgestane Here wat as Christus en as God bely en so verkondig is.
Met die hedendaagse terugvra na die historiese Jesus word alle bronne van vooraf ondersoek en geïnterpreteer. Navorsers (wat van mekaar verskil) konstrueer op grond van die bronne en ’n bepaalde historiese metode opnuut ’n beeld of beelde van Jesus. Die gevolg is dat elke navorsing sy of haar eie beeld van Jesus teken.
Die belangrike wat hier in ag geneem moet word, is dat teologiese uitspake wat dan op grond van hierdie konstrukte gemaak word, op grond van ’n ander bron en norm (en derhalwe ’n ander kanon) gemaak word. Die bron is ’n bepaalde navorser se konstruk van Jesus. Dit wat as histories betroubaar beskou word, vorm ’n nuwe kanon, en die historiese Jesus word beskou as die nuwe bron en norm wat die maatstaf is waaraan vandag se geloof en kerkwees gemeet word in terme daarvan of dit ’n vervreemding of verdieping is van die waardes wat die historiese Jesus voorgestaan het.
Dit bring ons by die realiteit van relatiwiteit of die gevaar van relativisme uit: Elke historiese-Jesus-navorser teken maar net weer sy of haar eie beeld van Jesus en maak dan teologiese uitsprake daaroor. Dan word, soos uit die bespreking tydens die program geblyk het, opnuut uitgekom by uitsprake soos dat Jesus nie die Christus is soos die kerk Hom bely nie. Verder dat daar nie in Hom geglo word nie, maar dat geglo word soos Hy geglo het (Hy is nie in sy wese God nie, maar het ’n bepaalde, besondere teenwoordigheid van God beleef), en helaas, dat so ’n historiese Jesus se betekenis is om in lyn met die hedendaagse populêre tydgees skerp krities te wees oor die kerk as institusionele instelling met sy sogenaamde liefdeloosheid, eksklusiwiteit, afwysing van die waarde van vroue en seksuele minderhede. Daar word selfs gesê dat, hoewel Jesus almal sou liefhê, Hy sekere meer sou liefhê omdat hulle dit meer sou verdien!
Die kerk van Jesus Christus, en die Hervormde Kerk spesifiek, het ’n geloofsbelydenis met ’n ander vertrekpunt. Die Bybel is vir ons nie ’n wetenskap- of geskiedenisboek nie. Die Bybel is as geopenbaarde Woord van God ’n geloofsboek. God en sy besig wees met die skepping en die mensdom gaan immers die historiese en wetenskaplike bewysbaarheid van navorsers ver te bowe. Geloof kan die onsienlike sien, terwyl die wetenskap die onsienlike nie kan waarneem of bewys nie. Hoewel daar dus geskiedenis (die historiese Jesus) in die Bybel voorkom, bevat die Bybel ook interpretasie van Jesus (geloof – oftewel die kerugmatiese of verkondigde Christus). Dit bring die kerk daarby om te bely dat Jesus (geskiedenis) die Christus (interpretasie) van die geloof is. En natuurlik dat Jesus God is wat deur sy kruisdood en opstanding mense van hul grootste probleem, die sonde, verlos en hulle ’n nuwe lewe gee.
’n Bepaalde verstaan of konstruk van die historiese Jesus is dus nie vir die kerk die bron en norm van geloof en kerkwees nie, maar die Bybel wat deur die werking van die Heilige Gees die lewende Woord van God word, is wel. Dan word die kerk nie so maklik deur die tydgees op sleeptou geneem nie, maar lééf die kerk, gegrond in die evangelie van Jesus Christus, altyd reformerend na binne, terwyl sy die liefde van God vir alle mense verkondig, ongeag of hulle man of vrou, wit of swart, homo- of heteroseksueel is, en sonder om sommige uit te sonder wat God se liefde meer sou verdien as ander.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
