Eers was daar gerugte. Toe kom dit nader. ’n Eerste geval in Suid-Afrika. Toe ’n tweede. Tien. Tienduisend. Grendeltyd. Die lewe het tot stilstand gekom.
Wat is die impak op gesinne? Goed. Sleg. Wonderlik. Dodelik. Deurmekaar. Soos inligting oor die virus? Diegene met ’n groot huis, ’n groot erf kon die impak makliker absorbeer. Gesinne met sterk bande kon dit selfs omskep in ’n byna idilliese tyd. Dit is wat dit goed en wonderlik maak. Maar sommige mense is vasgekluister in woonstelle hoog in die lug of in sinkplaat-gehuggies, het hul werk verloor, moes besighede toemaak, moes magteloos by die huis sit en wag totdat dit hul beurt was om weer te begin werk. Sommige kon tot nóg toe nie. Dit is wat dit sleg en dodelik maak. En natuurlik die isolasie. Die onsekerheid. ’n Toekoms sonder datums. Die dood wat gulsig geword het.
Bootjies op ’n onstuimige see
Iemand skryf ons is met hierdie virus almal in dieselfde bootjie. Dit maak geen onderskeid nie. Taal. Kultuur. Geloof. Ras. Geslag. Inkomste. Sosiale stand. Dit tref ons almal. Maar iemand anders pas die gesegde aan deur te sê ons is op dieselfde onstuimige see in verskillende bootjies. Bootjies maak ’n verskil. Dit is ’n mooi metafoor vir die situasie waarin ons elkeen ons bevind. Ons bootjies is ’n kombinasie van ons geestelike, emosionele, ekonomiese, sosiale, opvoedkundige en fisieke welstand. En die see? Dit verteenwoordig die natuurlike, ekonomiese, politiese en mediese omgewing wat ons omring. Selde was ons so bewus van die intrinsieke verweefdheid van ons bestaan.
’n Vreemde wêreld
Die wêreld het ’n vreemde plek geword. Êrens op Facebook staan daar: En skielik kan ’n drukkie iemand se dood veroorsaak; en die beste manier om liefde teenoor ouers te betoon, is om hulle te vermy. Die isolasie het waarskynlik ons bejaarde gesinne die ergste getref. Want in aftreeoorde word nuwe gesinne gevorm tussen bure en vriende. Skielik kon hulle mekaar vir lang tye nie sien nie. Sommige bejaardes is in hul kamers toegesluit vir enkele weke lank. Dit is verskriklik om so eensaam te wees.
Die impak op kinders. Hoe sal ons ooit heeltemal weet. Eers het alles vir weke gaan stilstaan. Hoe lank is dit in ’n kindjie se bestaan? Toe maak die skole oop. Weer toe. Oop. Toe. Kinders tree aan by die hek. Twee meter uitmekaar. Hande spuit. Koors meet. Gesiggies agter maskers en skerms. “Hoe voel jy vanoggend?” “Lekker, Tannie.” “Is jou koppie seer?” “Nee, Tannie.” “Het jy pyn op jou magie?” “Nee, Tannie.” “Goed, groet vir Mamma by die hek en stap vir Tannie alleen na jou klassie toe.” Die outjie gee ’n tree na ’n ander wêreld as die een wat hulle enkele weke gelede verlaat het. Alkohol-handjies. Maskers. Afstand. In hul wêreld is daar nou “Die Virus”. Jy sê “virus” met die bepaalde lidwoord saam. Matrieks staan aan die anderkant van kind-wees. Op daardie oomblik dat hulle die finale tree in die grootmenswêreld in moet gee, kom hulle agter dat die grond onder hulle padgee. Alles is onseker in ’n land wat reeds onseker was.
Ouers en voogde moes nuwe vaardighede aanleer. Onderwyser speel. Speletjies uitdink. Van die huis af werk. Bejaardes het geleer om YouTube-kerk te kyk, te WhatsApp, Bybelstudie te luister. Skielik weet almal van Zoom en Google Hangouts.
’n Storm breek los
Terwyl ek die artikel skryf, het die pandemie ons omgewing soos ’n vloedgolf getref. Hospitale steier soos wat pasiënte kom hulp soek. Verpleegpersoneel en dokters word siek. Dit plaas ekstra druk op personeel wat reeds oorwerk is. Gerugte is een ding, maar as jy sien hoe selfs jong, gesonde mense opgeneem word en dae later sterf, volg angs en selfs paniek. Geliefdes lê alleen in hospitale. Geen nuus nie. Sommige sterf alleen. Dit is nie meer net die dodetal nie. Dit het nou name geword.
Vir ’n oomblik wonder ek of ek dit moes skryf… Maar wat anders? Dit is hoe dit is. Langs ons hoofstraat staan elke dag meer mense sonder werk, sonder kos, sonder hoop. Hoe gaan dit met húl gesinne?
’n Klaaglied
Terwyl ek hier skryf, soek ek na die ontknoping van die storie. ’n Mooi draaipunt. ’n Gelukkige einde. Maar ons is nog nie daar nie. Moenie my verkeerd verstaan nie. ’n Mens is ontsaglik dankbaar. Oor groot en klein genade. Om te verlang na iemand, is ’n voorreg. Om angs te hê oor wat ons kan verloor, beteken ons het baie gehad om mee te begin. Ons gaan hier deurkom. Daar was voorheen tragedies, oorloë, rampe, pandemies. Ja, daar is baie om oor dankbaar te wees en ons leef grondig in die Christelike Hoop. Maar nou is ons nog hiér. En soms kan ’n mens net ’n klaaglied sing.
Ons het nodig om die vrees uit ons geliefdes se monde te hoor. Ons moet hulle die geleentheid gee om hul angs te verwoord. My tweejarige dogtertjie was een môre nie lekker nie. Sy klou my vas. Sy huil terwyl ek haar vashou. Sy sê: “Pappa, die vilus (sy kan nog nie ‘r’ sê nie) maak lelik met my!” Dit is háár klaaglied. Dit gaan goed met ons gesin. Ons het albei ons werke behou. Ons geniet die genade van meer saamwees.
Maar tog treur ek. Ek loop hier in die huis rond met ’n hartseer binne my. Oor die Virus. Oor die dood. Oor die armoede en swaarkry. Oor die skepping se verdriet. Oor die besoedelde riviere. Oor al die plastiek in die see. Oor ’n kollega wat sy lewe geneem het. Oor plaasmoorde en droogtes. Oor die toekoms van ons land.
Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!
Maar hier, uit die Jordaangebied, van Hermonberg, van Kleinberg af, raas die waters nog té teen mekaar om ’n klaaglied nou te verswyg. Hoe gaan dit met ons gesinne? Goed. Sleg. Wonderlik. Dodelik. Dit is nodig dat ons saam met ander gesinne ’n klaaglied sing. Uit ’n klaaglied word ons afhanklik voor God. En saam bid ons dat ’n nuwe dag sal aanbreek. Vertrou op God. Ons sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is ons helper en ons God!
(Dr Thinus van Staden is leraar in Gemeente Montana)
