1.        INLEIDEND

Missio Dei is ʼn teologiese konsep wat veral na die Tweede Wêreldoorlog besonder invloedryk geword het. Dit het tot ʼn nuwe verstaan van kerkwees en die kerk se sendingopdrag gelei en ʼn fundamentele invloed op die ekumeniese teologie uitgeoefen. Dit het baie kerke gehelp om tot ʼn herdefiniëring van identiteit en roeping te kom.

          Bosch ([1991] 2006: 390) beskryf die invloed en omvang van die missio Dei-denke soos volg: “Since Willingen, the understanding of mission as missio Dei has been embraced by virtually all Christian persuasions – first by conciliar Protestantism, but subsequently also by other ecclesial groupings, such as the Eastern Orthodox and many evangelicals. It was also endorsed in Catholic mission theology, notably in some of the documents of the Second Vatican Council.”

            Die opskrif van hierdie bydrae verbind Karl Barth aan die missio Dei-denke.  Dit is nie so vanselfsprekend nie, aangesien Barth nooit die term missio Dei gebruik het nie. Tog is daar konsensus dat Barth se teologiese insigte ʼn bepaalde invloed op die ontwikkeling van die missio Dei-denke uitgeoefen het.

          Teenoor die breë konsensus oor die belang van die missio Dei vir ons verstaan van kerkwees en sending, is daar steeds teoloë wat meen dat missio Dei as teologiese konsep of paradigma ʼn niksseggende sambreelterm geword het waaronder enigiets wat ongeveer met sending of die kerk te doen het, tuisgebring word. Ander meen weer dat missio Dei apatie ten opsigte van sending veroorsaak, omdat alles sending word en gevolglik niks meer sending is nie. Die vraag is dus: Wat verstaan ons onder missio Dei?

           Hierdie bydrae beskryf die vroeë geskiedenis van die missio Dei-denke, met spesifieke verwysing na Karl Barth. Daar word aangetoon dat Barth se teologie ʼn aanduibare invloed op leidinggewende teoloë se nadenke oor missio Dei gehad het. Enkele teoloë word eksemplaries bespreek.

2.        Karl Hartenstein

Karl Hartenstein (1894-1952) was die eerste teoloog wat die term missio Deiin sy moderne betekenis gebruik het (Engelsviken 2003: 482), die eerste keer in 1934 (Schwarz 1984: 126).

          Hartenstein het sendingwerk in Indië, China en Afrika gedoen. Hy het aan die Tübingen Stift klas gegee en in 1926, op die jeugdige ouderdom van 32, is hy as direkteur van die Basler Mission aangestel. Hy het die pos tot 1939 beklee. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het hy na Duitsland teruggekeer, waar hy sy tuisgemeente in Württemberg bedien het.

Volgens Verkuyl (1978:28) het Hartenstein homself as ʼn besonder invloedryke sendingwetenskaplike gevestig. Hy was teenwoordig by al die belangrike sendingkonferensies, insluitend die International Missionary Council (IMC) se konferensies in Jerusalem (1928), Tambaran (1938), Whitby (1947) en Willingen (1952), waar hy as lid van die organiserende komitees en formuleringskommissies ʼn belangrike rol in die formulering van resolusies gespeel het (Schwarz 1984: 125). Hy het ook heelwat op die terrein van sendingwetenskap gepubliseer. Ongelukkig is die meeste publikasies van hierdie begaafde (en grootliks vergete) missioloog nie meer vrylik beskikbaar nie (Schwarz 1984: 125).

          Hartenstein was die eerste missioloog wat die implikasies van Karl Barth se teologie vir die sending uitgespel het (Verkuyl 1978: 29). Hartenstein het hom reeds in 1919, na die eerste uitgawe van Barth se Römerbrief (Barth [1919] 1963) verskyn het, aan die kant van Barth se “krisisteologie” geskaar. In 1926 het hy kommentare op Amos en Prediker gepubliseer, wat duidelik deur Barth se dialektiese teologie beïnvloed is (Schwarz 1984: 126). In 1928 het hy in ʼn artikel kommentaar gelewer op die relevansie van Barth se teologie vir die sending (Hartenstein 1928; Flett 2010: 12). As lektor aan die Tübingen Stift het hy Barth se uitgangspunte met passie verdedig en bevorder (Schwarz 1984: 126). Met sy publikasie oor Barth het hy die gesprek oor dialektiese teologie en sending in Duitsland ingelei en sodoende Duitse sendingteologie in ʼn nuwe rigting gestuur.

          In 1932 vind die Brandenburg Sendingkonferensie in Berlyn plaas. Op 11 April het Karl Barth ’n referaat aangebied onder die titel Die Theologie und die Mission in der Gegenwart [Barth [1932] 1957). Hartenstein was die sekretaris van die konferensie. Sommige van sy tydgenote was van mening dat Barth se teologie nie baie “sendingvriendelik” is nie. Hartenstein het ʼn ander mening gehuldig. As ’n mens Barth se lesing by die Brandenburg-konferensie ontleed, sien ’n mens hoekom. Barth het ʼn rykdom van idees nagelaat wat in die jare daarna invloedryk was en die ontwikkeling van ʼn sendingteologie bevorder het.

          In sy voordrag behandel Barth verskillende aspekte van sending, maar die belangrikste is sekerlik die motivering waarom sending gedoen word. Die antwoord is eenvoudig: Dit is ʼn opdrag van die Here Jesus Christus. Sending is ten diepste gehoorsaamheid aan die wil van God, maar dit moet op ʼn baie spesifieke manier verstaan word. God se wil is gegrond in God se wese. Die Drie-enige God kies om God vir die mens te wees en stuur sy Seun na die wêreld. Die Heilige Gees gaan van die Vader en die Seun uit en rus die kerk van Christus toe om die evangelie in die wêreld te verkondig. Sending is diensbaarheid aan Christus wat die heerskappy van Christus ten doel het. Hoewel Barth nie die term missio Dei gebruik het nie is hierdie teologiese uitgangspunt deur Hartenstein verder ontwikkel en het dit besonder invloedryk geword as missio Dei.

          Hartenstein het ʼn doktorale proefskrif aan die Universiteit van Tübingen voltooi, onder die titel Die Mission als Theologisches Problem: Beitrage zum grundsatzlichen Verstandnis der Mission (Hartenstein 1933). Die proefskrif is geskryf in die idioom van die dialektiese teologie, met skerp kritiek teen die historisme, moralisme en godsdiens as menslike aktiwiteit. Hartenstein se teologie is ook gevoed deur sy selfstandige studie van Kierkegaard se geskrifte.

Barth moes in 1935 na Basel terugkeer omdat hy geweier het om die eed van getrouheid aan Hitler af te lê. Hy het in die huis langs Hartenstein ingetrek, en hulle het nie net bure geword nie, maar ook ʼn bepaalde vriendskap ontwikkel (Flett 2010: 12). Hy sluit uitdruklik by Barth aan in terme van Barth se verstaan van die actio Dei (handelinge van God), wat alle menslike handelinge voorafgaan. Dit sny alle menslike begronding van sending by die wortel af deur dit te definieer as partisipasie in die verlossende handelinge van God. Hartenstein het dit in ʼn verslag oor die 1939 Tambaran-konferensie soos volg geformuleer: “Thus, missions are fundamentally removed from the sphere of purely human activity, characterized and understood as God’s will and act, an inalienable indication of God’s revelation(Hartenstein 1939: 6). Die kerk se sending in die wêreld is gegrond in die sending van God. Die verkondiging van die evangelie en die koms van God se koninkryk plaas die kerk en sending telkens onder die krisis van God se Woord.

          Hierdie dialekties-teologiese oriëntasie en begronding van sending het altyd deel van Hartenstein se denke gebly, hoewel hy later al meer van Barth verskil het. Ten spyte van sy waardering vir Barth en die dialektiese aard van sy teologie, het Hartenstein hom gekritiseer omdat hy van mening was dat Barth se oordrewe antitetiese ingesteldheid nie bevorderlik vir sending was nie (Schwarz 1984: 126). Schwarz verwoord Hartenstein se kritiek ten opsigte van Barth se teologie soos volg: “Hartenstein felt that in the long run the sharply antithetical position of the early Barth toward anthropocentric thinking was too barren and one-dimensional. The rigid form of the ‘either-or’ of Barthian logic insupportably curtailed the ‘historical and experiential (geschichtliche und seelische) reality’ of faith so frequently disparaged by Barth. Barth’s ethical nihilism, which largely abandoned a material ethic, became a problem in the day-to-day reality of the mission field, where the question ‘What must we do?’ in each new situation pressed for an answer.” Gevolglik het Hartenstein nader aan Emil Brunner beweeg, veral nadat Brunner en Barth se paaie geskei het.

Hartenstein is ook na die oorlog deur die sendingteologie van JC Hoekendijk beïnvloed, veral Hoekendijk se kritiek op Gustav Warneck se volkskerklike missiologie wat so dominant en deurslaggewend in Duitsland was. Hartenstein het (soos Hoekendijk) groot klem op die eskatologiese dimensie van sending geplaas. Die kerk se rol is “participation in God’s plan of restoration and participation in His mission for the salvation of the world. The church exists through her mission…(Verkuyl 1978: 29). Dit is waarom Hartenstein ʼn kommentaar op Openbaring gepubliseer het. Sy eskatologiese verstaan van sending is ook grondig deur Oscar Cullmann beïnvloed, wat hom gehelp het om op ʼn eksegeties-verantwoordelike wyse met die heilsgeskiedenis om te gaan (Schwartz 1984: 126). Dit het tot ʼn Kopernikaanse revolusie in Duitse sendingwetenskap gelei, in ʼn beweging weg van Warneck se Volkschristianisierung na ʼn eskatologiese verstaan van sending im Blick auf das Ende.

          Met die vergadering van die IMC te Willingen (1952) het die missio Dei-denke alreeds wyd invloed uitgeoefen (Flett 2010: 11). Tydens die konferensie word onomwonde verklaar: “The missionary obligation of which we are a part has its source in the Triune God Himself” (Bosch [1991] 2006:390). Na afloop van die Willingen-konferensie het Hartenstein (kort voor sy dood op 1 Oktober 1952) die implikasies van die missio Dei soos volg verwoord (sien Engelsviken 2003: 482): “Mission is not just the conversion of the individual, nor just obedience to the word of the Lord, nor just the obligation to gather the church. It is the taking part in the sending of the Son, the missio Dei, with the holistic aim of establishing Christ’s rule over all redeemed creation.”

          Volgens Bosch het hierdie Trinitariese verstaan van die missio Dei die fundering van sending verskuif, van ekklesiologie en soteriologie na die wese en handelinge van God Drie-enig. Engelsviken (2003: 481) som die verskuiwing by Willingen soos volg op: “… we also want to remember the dramatic developments in missiology during the second half of the last century that in many ways began in Willingen. The development that found its most extreme form in the 1960s and early 70s involved a change from a more anthropocentric understanding of mission to a more theocentric, and from a more ecclesiocentric perspective to a more cosmocentric. In the latter perspective, the world, both in its socio-political and religious dimensions, is at the centre of attention.”

3.        Georg Vicedom

Na Willingen het Georg Vicedom se publikasies ʼn bepaalde momentum aan die missio Dei-denke verleen. Sy Missio Dei: Einführung in eine Theologie der Mission (1958) en Actio Dei: Mission und Reich Gottes (1975) het groot invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van die missio Dei-denke. Whitworth (2012: 20) is van mening dat Vicedom deur Barth, Hartenstein en die Willingen- konferensie beïnvloed is.

          Dit is ook opmerklik hoeveel aandag Vicedom aan die Nederlandse apostolaatsteologie gegee het (Vicedom 1975: 57-60). In die Nederlandse apostolaatsteologie (volgens Vicedom) het die apostelamp nie met die eerste apostels, waarvan ons in die Nuwe Testament lees, geëindig nie, maar het dit deur die werking van die Heilige Gees uitgegroei tot die wesenskenmerk van die kerk (bl. 58). Elke lidmaat van die gemeente van Christus deel aan hierdie opdrag om die evangelie oral en altyd uit te leef en uit te dra. Kerk en sending word gevolglik vanuit die apostolaat as wesenskenmerk van die kerk verstaan. “Das heisst ganz praktisch, dass die ganze gemeinde im Apostolat steht” (Vicedom 1975: 58). God stuur die gemeente uit om die wêreld met die koninkryk van God te konfronteer. In hierdie formulering is dit duidelik dat die gemeente die sendeling is en nie ʼn individu wat uitgestuur word om iewers in die vreemde sendingwerk te gaan doen nie. Dit kom na vore in die gemeentelike dienswerk, in die koinonia, leitourgia, diakonia en marturia. Vicedom (1975: 59) kom tot die gevolgtrekking dat die Nederlandse apostolaatsteologie belangrike rigtingwysers bied vir die ontwikkeling van ʼn omvattende en sinvolle ekklesiologie en sendingteologie. Dit is ook duidelik dat die Nederlandse apostolaatsteologie ʼn belangrike bydrae gelewer het tot die missio Dei-denke en op ʼn indirekte wyse op die ontwikkeling van ʼn missionale ekklesiologie.

          Vicedom (1975: 142) sluit sy nadenke oor die sending op ʼn aangrypende wyse af: “So is die boodskap van God se koninkryk van groot betekenis in die geskiedenis. Daar word aan elke mens verkondig dat God in die geskiedenis aan die werk is. Dit lei mense tot verlossing en vernietig die mag van die Bose. Om hierdie boodskap uit te dra, is die sendingopdrag. Indien dit gedoen word, kom mense in die kragveld van God se liefde te staan. Daardeur kan die wêreld verander word. Die koninkryk van God en sending is onafskeidbaar aan mekaar gebonde” (my vertaling).

4.        David Bosch

Twee invloedryke en belangrike teoloë wat in resente jare hulle teologie binne die raamwerk van die missio Dei en missionale ekklesiologie beoefen het, was Lesslie Newbigin en die Suid-Afrikaner David Bosch (Kärkkäinen 2002: 14). Newbigin se ekklesiologie word deur Kärkkäinen (2002: 151-159) bespreek, en dit word nie hier herhaal nie. Vir die Suid-Afrikaanse konteks is die invloed van Bosch wel belangrik.

          David Bosch was goed bekend met Vicedom se publikasies[i]. David Bosch (1919-1992) sou hierdie jaar 100 jaar oud geword het. Dié Suid-Afrikaner se bydrae tot sendingwetenskap is omvangryk en word wêreldwyd hoog aangeslaan. Sy Transforming Mission word in byna elke seminarie en teologiese fakulteit as voorgeskrewe handboek in sendingwetenskap gebruik. Daar verskyn bykans jaarliks ʼn nuwe uitgawe[ii]. Daar is baie min sendingpublikasies (internasionaal en in Suid-Afrika) wat nie na Bosch en Transforming Mission verwys nie. Transforming Mission is al beskryf as een van die belangrikste teologiese boeke van die 20ste eeu. In die voorwoord van die jubileumuitgawe van Transforming Mission beskryf Gerald Anderson Bosch as die “preeminent Protestant missiologist, his contribution and influence in mission studies globally was immense” (Anderson 2006: xiii). Vanuit Rooms-Katolieke geledere skryf Bevans & Schroeder (2005: 69): “after the twentieth century, any missiology can be done only as a footnote to the work of David Bosch”.’

In die periode na 1990 het Bosch se invloed ook in Suid-Afrika toegeneem. Benade & Niemandt (2019: 7-8) formuleer dit soos volg: “Around the late 1990s, the work of David Bosch was becoming popular in academic circles in South Africa. His emphasis on the missionary nature of the church, the Trinity, the missio Dei, was starting to influence the theology in the DRC”. David Bosch se teologie het daartoe bygedra dat die missio Dei-denke en missionale ekklesiologie in Suid-Afrikaanse kerke inslag gevind het. Bosch ([1991] 2006:10) definieer missio Dei soos volg:“[Missio Dei is] God’s self-revelation as the One who loves the world, God’s involvement in and with the world, the nature and activity of God, which embraces both the church and the world, and in which the church is privileged to participate.  Missio Dei enunciates the good news that God is a God-for-people.” 

Bosch onderskei tussen mission (enkelvoud) en missions (meervoud). Die eerste dui op God se handelinge met die wêreld (actio Dei – Barth); die tweede op die handelinge van die kerk in die uitdra van die evangelie. In hierdie benadering staan die Triniteit sentraal: Die Vader stuur die Seun; die Vader en die Seun stuur die Heilige Gees; die Drie-enige God stuur die kerk (Benade 2019: 165). In hierdie Trinitariese verstaan van die missio Dei volg Bosch op die voetspoor van Karl Barth en Karl Rahner wat Augustinus se Triniteitsleer vir die kerklike praktyk geaktualiseer het (Benade 2019: 165).

Verder, soos in die teologie van Hartenstein en Vicedom, staan die koninkryk van God sentraal in Bosch se verstaan van die missio Dei. Die kerk is nie die koninkryk van God nie, maar ʼn teken van die koninkryk van God. Daarom gaan sending om baie meer as die individu se bekering en persoonlike geloof; dit gaan ook om geregtigheid in mense se alledaagse bestaan. Die doel van sending is nie die kerk nie, maar die koninkryk van God. Die kerk en koninkryk staan nie teenoor mekaar nie, maar die kerk moet reeds iets van God se koninkryk in die teenswoordige vertoon (sien Benade 2019: 168-170).

5.        DARRELL GUDER

Na die Tweede Wêreldoorlog het ekklesiologie, om verskeie redes, heelwat aandag gekry. ’n Groot aantal monografieë en naslaanwerke op die terrein van ekklesiologie het die afgelope tien jaar verskyn, byvoorbeeld die Routledge Companion to the Christian Church (Mannion & Mudge 2010) en die Oxford Handbook of Ecclesiology (Avis 2018). Veli-Matti Kärkkäinen (2002:7) noem dit ’n ekklesiologiese renaissance (sien ook Dreyer 2016: 25). ʼn Belangrike rede vir hierdie herlewing in ekklesiologie is die invloed van die missio Dei-denke, veral in die ekumeniese beweging. Dit het ook gelei tot ʼn verdere ontwikkeling in die missio Dei-denke, naamlik “missionale ekklesiologie”.

          Ekklesiologie is ʼn teologiese dissipline wat die kerk bestudeer. Die wese, roeping, geskiedenis en praktyk van die kerk staan sentraal. Missionale ekklesiologie plaas die fokus op die apostolisiteit van die kerk, maar dit het ook met die wese, roeping, geskiedenis en praktyk van die kerk te doen. Missionale ekklesiologie is dus een van die onderafdelings van ekklesiologie (Avis 2018: 13).

          Avis toon aan dat daar ʼn intimate relationship’ tussen ekklesiologie en missiologie bestaan. Hy gaan selfs so ver as om te argumenteer dat missiologie ʼn onderafdeling van ekklesiologie is, omdat die kerk die opdrag het om sendingwerk te doen. Sending hoort tot die wese van die kerk, daarom hoort missiologie en ekklesiologie bymekaar. Avis beklemtoon dat dit voortvloei uit die missio Dei. In dié verband verwys hy na die invloed van David Bosch op die ontwikkeling van missiologie, ekklesiologie en wat Avis ʼn missionary ecclesiology noem (Avis 2018: 13). Ook Collins, in sy hoofstuk in die Routledge Companion, toon aan hoe die missio Dei-denke vanaf Barth en Hartenstein na Willingen en daarna wêreldwyd versprei het, veral onder invloed van David Bosch (Collins 2010: 629). Ekklesiologie en missiologie is onafskeidbaar verbind, daarom is dit vanselfsprekend dat iets soos “missionale ekklesiologie” sou ontwikkel.

          Die term “missionale ekklesiologie” het sy oorsprong by Darrell Guder (1939-), teoloog verbonde aan Princeton Universiteit. Guder het ’n PhD aan die Universiteit van Hamburg (Duitsland) voltooi. Sy navorsing fokus op missionale kerkwees in ʼn post-Christelike era. Hy is ook bekend vir sy vertalings van Duitse teologie in Engels, insluitend die werke van Otto Weber, Eberhard Jüngel en Karl Barth. Dit is opmerklik dat hy (soos Bosch) deur die teologie van Karl Barth beïnvloed is. Guder het in 1998 ʼn invloedryke boek gepubliseer, te wete Missional Church: A vision for the sending of the church in North America (Guder 1998). Die titel spreek vanself: Dit gaan om ʼn missionale ekklesiologie wat voortvloei vanuit die missio Dei-denke. Die woord “missionaal” is taalkundig en inhoudelik anders as “missionêr”. Eersgenoemde het te doen met die wese van die kerk, laasgenoemde gaan om die handelinge van die kerk. Missionale kerkwees gaan om meer as ʼn sendingprojek, dit gaan om ʼn eksistensiële bestaanswyse, ʼn bepaalde selfverstaan en identiteit.

In ʼn volgende publikasie (Guder 2000) argumenteer Guder vir fundamentele kerkhervorming. Hy gebruik die slagspreuk ecclesia semper reformanda (ook ʼn begrip wat deur toedoen van Karl Barth gewild geword het – sien in dié verband Dreyer 2017) as vertrekpunt en toon aan dat die kerk moet transformeer tot ʼn missionale kerk. Dit is opvallend dat Guder nogmaals teruggryp na die teologie van Barth, soos blyk uit hoofstuk 6 van The Continuing Conversion of the Church (Guder 2000: 120-141). Wanneer Guder in Deel III uitspel wat belangrik is in die hervorming van die kerk tot missionale kerkwees, begin hy deur te beklemtoon dat dit alles met die plaaslike gemeente begin (Guder 2000: 145) Saam met die Wêreldraad van Kerke kom Guder tot die gevolgtrekking: “A vital instrument for the fulfilment of the missionary vocation of the Church is the local congregation” (Guder 2000: 145).

6.        TEN SLOTTE

Dit is duidelik dat Barth se teologie bepalend was vir die ontwikkeling van die missio Dei-denke, al het hy nooit die term gebruik nie. Die spesifieke aspekte van Barth se teologie wat ter sake is, is al dikwels beskryf (sien byvoorbeeld Bentley 2009). Dit is veral Barth se verstaan van God se selfopenbaring in en deur Jesus Christus wat invloedryk was in die ontwikkeling van missio Dei. Daar kan ander aspekte van Barth se teologie bygevoeg word, soos sy verstaan van die kerk, uitverkiesing en die Christosentriese aard van sy teologie.

          Missio Dei is nie maar net ʼn teorie nie. Dit is ten diepste ʼn geloofsbelydenis, dat God steeds met die wêreld handel en mense tot geloof roep.

7.        BIBLIOGRAFIE

  • Anderson, G.H., 2006, In Memoriam David J Bosch 1929-1992), in Transforming Mission, Orbis Books, Maryknoll NY. 
  • Avis, P. (red.), 2018, The Oxford Handbook of Ecclesiology, Oxford University Press, Oxford.
  • Barth, K., [1919] 1963, Der Römerbrief, EVZ-Verlag, Zurich.
  • Barth, K., [1932] 1957, Die Theologie und die Mission in der Gegenwart, in Theologischen Fragen und antworten Vol. 3, p. 100-126, Evangelischer Verlag, Zollikon – Zürich.  
  • Benadé, C.R., 2019, A church after God’s heart: Discerning a missional ecclesiology for the Dutch Reformed Church in South Africa, PhD Thesis in the Department of Science of Religion and Missiology, of Pretoria.
  • Bentley, W., 2009, Karl Barth’s understanding of mission: The Church in relationship, in Verbum et Ecclesia Jrg. 30 (1) 2009, p. 25-49.
  • Bevans, S.B. and Schroeder, R.P. (2005) ‘Missiology after Bosch: Reverencing a classic by moving beyond’, International Bulletin of Missionary Research, vol. 29, no. 2, bl. 69-72.
  • Bosch, D.J., [1991] 2006, Transforming mission: Paradigm shifts in Theology of Mission, 22nd Edition, Orbis Books, New York.
  • Dreyer, W.A., 2017, ‘Calvin, Van Lodenstein and Barth: Three perspectives on the necessity of church reformation’, in ‘Nadenke oor 500 jaar se Reformatoriese teologie’, HTS Theological Studies/Teologiese Studies, suppl. 11, 73(5), a4508. https://doi.org/10.4102/hts.v73i5.4508
  • Engelsviken, T., 2003, Missio Dei: The understanding and misunderstanding of a theological concept in European churches and missiology, International Review of Mission Vol. 92 No. 367, p.481-497.
  • Flett, J.G., 2010, The witness of God. The Trinity, Missio Dei, Karl Barth and the nature of the Christian community, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.
  • Flett, J.G., 2014, A Theology of Missio Dei, Theology in Scotland Vol. 21 No. 1 (2014), p. 69-78.
  • Guder, D. (ed.), 1998, Missional church: A vision for the sending of the church in North America, Eerdmans, Grand Rapids.
  • Guder, D., 2000, The continuing conversion of the church, Eerdmans, Grand Rapids.
  • Hartenstein, K., 1928, Was hat die Theologie Karl Barth’s der Mission zu sagen? Munich, Chr. Kaiser Verlag.
  • Hartenstein, K., 1933, Die Mission als theologisches Problem: Beitrage zum grundsatzlichen Verstandnis der Mission, Furche, Berlin.
  • Hartenstein, K., 1939, Die trinitarische Verkündigung in der Welt der Religionen, in Die Deutsche Evangelische Heidenmission Jahrbuch, Selbstverlag der Missions Konferenz, Hamburg.
  • Schwartz, G., 1984, The Legacy of Karl Hartenstein, International Bulletin of Missionary Research,
  • Verkuyl, J., 1978, Contemporary Missiology – an Introduction, vertaal en redaksioneel versorg deur Dale Cooper, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.
  • Vicedom, G.F., 1958, Missio Dei: Einführung in eine Theologie der Mission, Christian Kaiser Verlag, München.
  • Vicedom, G.F., 1975, Actio Dei: Mission und Reich Gottes, Christian Kaiser Verlag, München.

 

 Eindnotas

[i] Bosch se getekende kopie van Vicedom se twee publikasies, met sy aantekeninge daarin, lê op my lessenaar.

[ii] Die uitgawe wat in hierdie bydrae gebruik word (Bosch [1991] 2006), is reeds die 22ste uitgawe wat oor ʼn periode van 25 jaar verskyn het.

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap