Jong mense – nee almal van ons – het ’n kerk nodig wat ’n warm, verwelkomende en opregte geestelike tuiste bied. Jesus het so ’n gemeenskap gevind as ’n 12-jarige tienerseun, terwyl Hy tydelik vir drie dae geskei was van sy ouers. Lees gerus weer Lukas 2: 41-52 en Romeine 12: 5.
Wanneer ek die gedeelte lees van Jesus wat van sy ouers geskei was vir drie dae, dan dink ek onwillekeurig aan ’n geleentheid in 2010 toe Thomas, ons seun, geskei geraak het van ons toergroep van 68 lede in ’n uiters deurmekaar Venisië. Dit kan so maklik gebeur dat Pa en Ma albei dink dat hul kind by die ander een is, of sommer net deel van die sleurgang van die groep is.
Die oomblik wanneer jy besef jou kind is nêrens te vind nie, raak jy redelik mal. Hy is net 10 jaar oud. Waar is hy? Jy hardloop beangs op jou voetspore terug en jy skree soos ’n besetene sy naam. Daardie gevoel toe hy uit die kerkie gestap kom met trane wat oor sy wange rol en twee toeriste-omstanders wat hom begin bystaan het, sal my lewenslank bybly. Hy het onthou, soos ons vooraf afgespreek het, om te bly by die plek waar ons mekaar die laaste keer gesien het…
Die gevoel van alleen-wees en verdwaal-wees vir Thomas in Venisië, nege jaar gelede, staan in sterk kontras met Jesus se alleenweeservaring in Lukas 12 as ’n tienerseun.
Dit is die enigste weergawe van Jesus as ’n kind of as tiener in die Bybel – en sy ouers verloor Hom! Kan jy dink hoe Josef en Maria moes voel oor die feit dat hulle God “lewendig verloor” het? Dit was belangrik dat Jesus die tempel in Jerusalem besoek voordat Hy ’n “seun van die verbond” word op die ouderdom van 13, sodat Hy kon leer wat van Hom verwag sou word. Sy ouers doen al die regte dinge wat goeie Joodse ouers sou doen.
Gegewe Jesus se uitgebreide familie wat saam op die pad huis toe was, sou dit algemeen gewees het dat die mans saam sou reis, die vroue saam, en die kinders gaan dan heen en weer tussen Pa en Ma. So, elke ouer het waarskynlik gedink dat Jesus by die ander een was.
Ons kan ons net voorstel hoe bekommerd Maria en Josef moes wees na drie dae van soek na Jesus. Waar kan hulle begin om Hom te soek? Die tempel en die tempelgemeenskap sou die heel onwaarskynlikste plek wees om ’n 12-jarige te begin soek. Maar hierdie wegraak-scenario stel belangrike vrae aan ons: Waar het Jesus geslaap? Wie het seker gemaak Hy is veilig? En miskien die belangrikste vraag, wie het hierdie seun kos gegee? As jy ooit ’n 12-jarige seun in die huis gehad het, weet jy dit is nie ’n geringe saak nie.
Die implikasie in die gedeelte is dat die geloofsgemeenskap moes ingetree het vir hierdie seun wat hulle nie geken het nie. Hulle het Jesus gesien, en hulle verwelkom Hom aan die tafel. En teen die tyd dat sy ouers Hom kry, het Hy reeds die mense verstom met sy vrae en idees.
Dit het my laat wonder of die ervaring van ons jongmense in ons Kerk is soos Jesus s’n as tiener. Voel ons jeug raakgesien, gehoor, bekend en welkom? En nie net tieners nie, maar wat van die jeug en jong volwassenes, diegene wat nuut is vir die geloofsgemeenskap? Soms voel jongmense geskei van die lewe van die kerk omdat hulle weggestuur word na hul eie “kindertafel” toe, en hulle word nie verwelkom by die oor-generasies-heen-lewe wat God in gedagte gehad het vir ons geloofsgemeenskap nie.
Nuwe navorsing van die Fuller Youth Institute het gewys dat jong mense tussen 15 en 29 jaar na kerke soek wat hulle verwelkom by die volle tafel. Terwyl ons aanvaar en aanneem dat hulle ’n COOL kerk wil hê, soos die behoefte ’n klompie jare gelede die geval was, wil hulle eintlik net ’n WARM kerk hê, wat hulle deel van alles maak.
Hulle soek ’n kerk wat sê: Jy behoort en hoort hier. ’n Kerk wat bereid is om jong mense te aanvaar waar hulle is en opreg met hulle ’n pad te stap na volwassenheid in die lig van God se genade. Een van die beskrywings wat jongmense gereeld in die navorsing gebruik het om die kerke wat hulle liefhet te beskryf, was: Kerk moet wees soos familie.
Terwyl baie kerke ouer word en krimp, is ander besig om jonger te word – dit beteken hulle betrek jongmense. Sowel in Jesus se tyd as vandag, vind kerke wat groei na jonkheid kinders en jongvolwassenes wat ’n behoefte het aan ons verwelkoming en omgee, sodat ook hulle hier ’n warm tuiste in die kerk kan vind.
Nie net trek jongmense voordeel uit ’n warm gemeenskap nie, ook die hele gemeente word daardeur bevoordeel. Net soos die volwassenes rondom die seun Jesus voordeel getrek het uit sy teenwoordigheid en sy vrae, groei ons almal in lewenskragtigheid wanneer jongmense teenwoordig is in ons geloofsgemeenskap.