Die wetsontwerp met beoogde wysigings aan die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (die Gelykheidswet – ook wyd bekend as PEPUDA, die akroniem van die Engelse titel) het ’n knuppel in die hoenderhok laat beland.

Kerke, ander godsdiensinstansies, burgerlike organisasies en sakeleiers het min of meer verenig in hul verwerping van die voorstelle. En soos verskeie kere in die onlangse verlede, moes die Kerk weer smoel krijgen, soos die Nederlanders graag sê, en amptelik beswaar aanteken teen die wetsontwerp.

Dit is nie asof ongelykheid en onbillike diskriminasie meteens meer onaanvaarbaar is as voorheen nie – sommige mense was immers nog nooit meer gelyk as ander nie (met apologie aan George Orwell). Lidmate van die Kerk het hopelik in elk geval geen behoefte om onbillik teen enigiemand te diskrimineer nie. Die NHKA het egter beswaar gemaak teen die wetsontwerp aangesien (onder andere) die hekkies wat oorkom moet word om te bewys dat daar onbillik teen iemand gediskrimineer is, so laag gestel is dat geen normale sosiale interaksie of gemeenskaps- of kerklewe moontlik sal wees nie.

Die klem in die wetsontwerp val vierkantig op hulp aan, en beskerming van, die klaer, ten koste van die potensiële (of gewaande) oortreder. Dit word gesien in die vae en subjektiewe begrip van wat benadeling behels, die byvoeging van “nie-opsetlik” in die definisie van diskriminasie, die afwatering van die grondwetlike en logiese onderskeid tussen “billike” en “onbillike” diskriminasie, die uitbreiding van verbode gronde om redes in te sluit wat “verwant aan” een van die gelyste gronde in die Wet is, en ook die moontlikheid om aanspreeklik gehou te word vir die onbedoelde optrede van ’n ander. Die wetsontwerp dek daarmee die tafel vir ’n stortvloed van onbenullige klagtes wat by die Menseregtekommissie en ander forums gelê sal kan word – ondanks die regsbeginsel de minimis non curat lex (die reg bemoei hom nie met beuselagtighede nie).

Dit sal nie net verdere druk op die regstelsel plaas nie, maar ook spanning aanblaas binne gemeenskappe en groepe, en tussen individue onderling. Selfs die meestal goedige geskerts tussen lidmate van verskillende kerkverbande oor kerkeie gebruike sal tot ’n klag kan lei indien iemand aanvoer dat dit hul gevoelens seergemaak het, ongeag hoe dun die klaer se vel moontlik mag wees. Gevaarligte wat flikker wat betref die vrye verkondiging van die evangelie moet daarom nie geïgnoreer word nie.

Die magte wat in die wetsontwerp aan die owerhede toegeken word om op ’n ongrondwetlike wyse in te meng in die sake van kerke, hou ewe-eens ’n bedreiging in vir die outonomiteit en profetiese roeping van die kerk. Die reg op godsdiensvryheid (gerugsteun deur verwante regte) is ’n fundamentele reg wat die owerheid verplig om die Kerk se selfverstaan soos toegelig in sy Bybels-profetiese selfdefiniëring te respekteer. Kerke het uiteraard die wederkerige plig om te funksioneer onderhewig aan die eise van menswaardigheid, die openbare beleid en die reg, terwyl hulle terselfdertyd die reg het om te protesteer indien hulle gebuk gaan onder beperkings betreffende kernbeginsels en -praktyke.

Enige optrede wat ’n ander se waardigheid krenk, sal natuurlik altyd onaanvaarbaar wees, soveel te meer binne die kerk. Vooroordeel is immers niks anders nie as die doelbewuste, hardnekkige vaskleef aan totale onkunde. Elke gelowige behoort volgens die eise van die Woord met respek met alle mense om te gaan. Waar dit nie gebeur nie, is ’n drastiese gesindheidsverandering nodig, en dit word bereik deur volgehoue toerusting, toewyding aan die evangelie en ’n Geesvervulde lewe – nie deur ekstra (drakoniese) wetgewing nie.

(Dr Johan van Staden is leraar in Gemeente Sionspoort)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap