Die begin van die 20ste eeu is gekenmerk deur oorlog, rebellie, die griepepidemie en armoede. Daar was onderlinge verdeeldheid op politieke terrein onder Afrikaners, en die Kerk het geworstel met algehele ontwrigting in die volkslewe van die Afrikaner. Teen 1910 ontstaan die behoefte aan ’n weeshuis.

Na herhaalde besprekings, briewe en artikels in Die Hervormer, besluit die Algemene Kerkvergadering (AKV) in 1922 om ’n weeshuis vir die Kerk te vestig. Die vergadering wys di Jac van Belkum, AJ Barger en PS Grobler aan om leiding te neem. Hulle registreer as ’n Artikel 21-maatskappy (’n maatskappy sonder winsbejag) met honderd aandele. Elke aandeel een rand werd. Die Algemene Kommissie hou 97 van die aandele en is ook die ledevergadering wat verslae behandel en die lede van die direksie benoem.

In Die Hervormer word aan die vroue van die Kerk gevra om by te dra vir die versorging van die weeskinders, veral kos en klere. Primêre sorg, huisvesting, kos en klere was die grootste nood. Die direksie het ’n eiendom in Krugersdorp gekoop, en in Augustus 1923 word die eerste vyf kinders in die weeshuis opgeneem. Dit het bekendgestaan as De Nederduitsch Hervormde Weeshuis.

Die kinderhuis het oor die jare aansienlik uitgebrei. In 1946 het die Kerk ’n bestaande inrigting in Malherbestraat in Pretoria gekoop. Dié kinderhuis het bekendgestaan as die Andries Hendrik Potgieter-huis. Dit is bedryf as ’n koshuis waar slegs voorskoolse en laerskoolkinders gehuisves is. Hierdie kinderhuis is in 1984 aan die NHSV verkoop en ’n nuwe moderne kinderhuis is op Middelburg gebou, die Albert Herbst-kinderhuis. Daar is ook ’n satellietkinderhuis in Rustenburg gevestig.

In Krugersdorp is die aanvanklike huisvesting gebruik tot 1940. Nuwe geboue is in 1940 gebou. Die direksie het besef dat dit meer wenslik is om kinders in huise te vestig. Aanvanklik is ses woonhuise gebou, drie vir seuns en drie vir dogters. Later is nog drie woonhuise gebou. In 1994 het die Jac van Belkum-kinderhuis 134 kinders gehuisves.

Ds Jac van Belkum was die eerste voorsitter van die direksie van die Kinderhuise. Mnr Albert Herbst, wat administrateur van die Kerk was, was met sy aftrede voorsitter van die direksie.Onder voorsitterskap van ds GC van Staden het die direksie van die Kinderhuise na alternatiewe versorgingsmodelle gekyk. In Oktober 1994 het die direksie besluit om die bestaande versorgingsmodel oor ’n tydperk van drie jaar uit te faseer. So het die Diakonale Pleegsorghuise ontstaan. Die gedagte was dat dit professionele pleegsorghuise moet wees wat in gemeentes en ringe funksioneer. So kon diakens en lidmate direk daarby betrokke wees. Dit beteken dat Diens van Barmhartigheid grootliks afgewentel word na ringsvlak. Tans is daar ses Diakonale Pleegsorghuise (DPS-huise) in verskillende ringe en is gemeentes en ringe van die Kerk direk betrokke by die versorging van kinders.

In 2023 sal dit 100 jaar wees sedert die eerste kinders in die destydse De Hervormde Weeshuis in Krugersdorp opgeneem is. Dit is hierdie jaar 100 jaar gelede dat die AKV besluit het om te begin met die versorging van hulpbehoewende kinders. Tydens die 73ste AKV in Oktober 2022 gaan daar weer gepraat word oor barmhartigheidsdiens op sinodale vlak en die moontlike aanpassing in strukture waarbinne barmhartigheidsdiens plaasvind. Verdere afwenteling van die Diens van Barmhartigheid na gemeente- en ringsvlak sal in die toekoms onafwendbaar wees.

Op Saterdag 22 Oktober 2022 kom oudinwoners van die voormalige kinderhuise van die Kerk (Krugersdorp, Middelburg en Rustenburg) in Krugersdorp byeen. Elize van der Westhuizen (alias Bettie Jordaan), ’n oudinwoner van Jac van Belkum-kinderhuis, het die inisiatief geneem om die 100-jarige bestaan van die Kinderhuise van die Nederduitsch Hervormde Kerk met ’n saamkuiergeleentheid te vier. Sy noem dit die 100 jaar weeshuis-feesreünie. Dit is sprekend van die verskil wat die Kerk oor ’n tydperk van 100 jaar in die lewens van honderde kinders gemaak het.

(Ds Willem Kok is leraar in Gemeente Potchefstroom en voorsitter van die direksie van die Kinderhuise)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap